Dankie Jesus dat U ons oë en ons harte oopmaak vir die dinge wat ons weerhou daarvan om naby aan U te kan wees. Gee ons die krag en die genade om net vir U te wil lewe en om selfs ons eie wil daarvoor opsy te skuif vir U. Amen!
Liewe lesers, as jy die teenwoordigheid van die HERE in u lewe nie kan aanvoel nie of selfs as jy ver van Hom af voel, dan sal ek ten sterkste aanraai dat jy ernstig kyk na hoe gehoorsaam jy aan die wil van die HERE is.
Daardie klein stemmetjie wat vir jou sê: moenie daardie koop nie, help daardie persoon, bid vir hulle, moenie kortpad vat nie ens. Ek verwys nou na daardie dinge wat jy weet jy moet doen, maar nie werklik lus het voor nie. As jy ernstig is om die HERE te dien, dan is daar ‘n prys om te betaal en daardie prys is dat jy geen voorkeure teenoor mense gaan hê nie.
Die HERE het al vir my gevra om iets nie te doen nie, maar dan luister ek nie, want ek kan nie verstaan waarom die HERE dit van my sal wil weerhou nie. Die uiteinde is dat ek die teenwoordigheid van die HERE daarna glad nie kan voel nie. Dis snaaks, maar dit voel of ‘n deel van jou dood is. Jy weet dan dat die HERE nie gelukkig is met jou nie en dat Hy Homself van jou gedistansieer het.
Ek kan julle verseker dat dit nie ‘n aangename gevoel is nie. As jy eers gewoond geword het aan die teenwoordigheid van die HERE in jou lewe, dan kan jy jou nie meer ‘n ander manier van lewe voorstel nie. Dis ‘n gevoel van absolute geluk en saligheid. ‘n Gevoel dat alles aan die HERE behoort en dat Hy oor alles beskik; lewe en dood! Dis ook die wete dat niks met jou sal gebeur sonder die Wil van die HERE nie en as daardie gevoel weg is, dan gaan soek jy baie hard na wat jy verkeerd gedoen net om dit weer terug te kry!
Jesus sê in Johannes 14:21 “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”
Prys die HERE! Wat ‘n mooi belofte!
As jy so ‘n leegte voel waar die HERE veronderstel is om te wees en nou nie meer is nie, dan hoef jy nie ver te gaan soek na wat verkeerd is nie! Die eindpunt is hoe gehoorsaam jy was teenoor dit wat die HERE van hou en nie van hou nie. Het jou eie wil geseëvier?
In sommige gevalle kan jy maar bid, maar as jy nie teruggaan en doen wat die HERE vir jou gevra het om te doen nie, dan gaan niks verander nie. In baie gevalle gaan jy die moeilik goed waarvoor jy nie werklik lus het nie, moet doen. Dis wat die HERE vir jou verwag om te doen. Om Sy Wil en dit waarvan Hy hou eerste te doen.
Dan word daardie rowe pad wat vol rotse is skielik glad geteer en dan begin alles weer vloei, want jy het die HERE se vrede en Sy wil vir jou lewe weer gevind.
Liewe lesers, die HERE is versot daarop om in ons harte te woon. Vir die van julle wat dit nog nie verstaan wat dit is nie, dit is gebed en aanbidding en die genot om in Jesus se teenwoordigheid te kan wees.
En hoe kom jy daar uit? Deur die wêreld en jou opinie oor jouself te laat gaan en plek in jou hart te hê net vir Jesus alleen. Gehoorsaamheid is die enigste manier om daar te kom.
Die HERE wil homself baie graag aan almal van julle openbaar, maar sommige van julle is nog nie gereed daarvoor nie. Jy hang nog steeds die plesier van die wêreld aan en jy bied nog steeds weerstand teen die dinge wat die HERE jou gevra het om te doen. Jesus sal jou hart net kan verander as jy die besluit neem dat niks in jou lewe meer belangrik is as Hy nie.
Bid en vra dat die HERE jou hart verander sodat Jesus die enigste is wat belangrik is.
Onthou dat ‘n verandering soos dit nie oornag kom nie. Dis ‘n geval van diepe integriteit om dit wat jy as Christen waardevol beskou te intrigeer sodat daar nie donker hoekies is waar satan kan wag om jou aan te val nie.
Dis wanneer jy toestemming gee vir die klein goedjies dat satan ‘n houvas op jou hart kry. Sonder daardie toestemming is alles wat hy probeer doelloos. So begin hy om met jou te speel en so gee hy jou toestemming om te doen wat die HERE nie wil hê jy moet doen nie. Hy het presies dieselfde gedoen met Eva in die Tuin van Eden. Hy het vir haar gejok en kyk wat het dit hulle gekos.
Jy sien nie die monster wat in jou hart probeer inkom nie. Vir jou lyk dit soos ‘n muis omdat dit wat vir jou voorgehou word so klein lyk. Sodra jy toestemming gee, dan word hierdie muis in ‘n japtrap skielik ‘n baie groot probleem. Net soos ‘n klein vuurhoutjie die potensiaal het om duisende akkers woud te kan vernietig, net so kan iets klein wat jy toegee, verander in iets wat baie gou buite jou beheer is.
Dis waarom die HERE jou weerhou om seker dinge te doen wat jy van hou om te doen. Die HERE sien die gevaar raak, maar ons doen nie. Ons dink dat die HERE is ‘n “spoil sport”, maar dis alles behalwe die geval. Vertrou op die HERE! Vertrou dat Hy weet wat Hy doen, selfs al sien ons dit nie raak nie. Sit jou lewe in Sy Hande en aanvaar Sy leiding in jou lewe.
Dis nie nodig dat jy perfek moet wees nie; jy hoef net die wens te hê om perfek vir die HERE te wil wees. Dis daardie wens om perfek te wil wees wat die HERE se hart beweeg! Selfsugtigheid dryf die HERE weg en dan moet Hy jou deur ‘n reeks van lesse vat sodat jy kan leer hoe belangrik dit is om nie selfsugtig te wees nie. In baie gevalle moet jy die bodem tref voor jy besef hoe kwesbaar jy is en voor jy uit jou eie wil die leiding van die HERE in jou lewe aanvaar en Hom eerste stel oor alles in jou lewe.
Hou vas aan die HERE, geliefdes. Waak teen temptasie en hardloop so vinnig as wat jy kan weg van elke oomblik van sonde. Bid en vra die HERE om van daardie hardnekkige eie wil in jou lewe ontslae te raak. En as jy val, hardloop dan so vinnig as wat jy kan terug na die HERE. Dis waar jou vergifnis is.
Prys die Naam van Jesus!