Daardie gevoel van totale moedeloosheid

Daardie gevoel van totale moedeloosheid

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Dankie Jesus dat U ons red van alle euwel. Amen!

Het jy al ooit wakker geword in die oggend en gevoel soos ‘n totale mislukking? Jy voel dat alles wat jy aanpak of al aangepak het in die verlede ‘n vernederende terugslag is. Jy voel soos iemand wat niks werd is nie en dat jy net nie kan by hou met alles nie, selfs al probeer jy wat. Klink hierdie bekend, liewe lesers?

Ek hoef seker nie vir julle te sê dat ‘n gevoel soos hierdie nie van die HERE af kom nie, né? Aanvalle soos die is ontwerp om jou onder te kry sodat jy moed opgee. Satan weet jy maak vooruitgang ten spyte van die klippe wat in jou pad gerol word en nou gooi hy hierdie gevoel van skuld op jou net om te kyk of dit nie die laaste strooi gaan wees wat die kameel se rug gaan breek nie.

Hou moed, liewe lesers! Die HERE het jou nie verlaat of veroordeel nie. Alles behalwe! Die HERE is besig om jou uit hierdie put van wanhoop te trek terug in die lig in! Die HERE is nie van plan om die goeie wat Hy in jou begin het prys te gee nie. Nie vandag nie, nie môre nie, nooit ooit nie! Prys Sy Naam!

Die vyand het demone wat spesiaal opgelei is om hierdie werk te doen, naamlik om jou te beroof van jou blydskap, jou geluk en jou eindbestemming. Wanneer jy so neerslagtig voel, dis wanneer jy besig is om in sirkels te loop en dis dan wanneer die HERE die naaste aan jou is.

Alhoewel satan hierdie aanslag gebruik om jou in te doen, gaan hierdie geen finale end vir jou wees nie! Die glorie van die Koningryk wag vir jou asook ‘n ewigheid saam met ons Verlosser! Prys die HERE! Jy is geen mislukking nie. Moet dit nie eers vir een sekonde dink nie. Satan droom drome en sien gesigte as hy dink dat ‘n aanval soos dit kan werk teen ‘n Kind van die Koning!

Die HERE weet jy het baie op jou skouers, maar doen jy die belangrikste eerste. Die res kan wag, maak nie saak hoe belangrik dit mag lyk nie. Selfs die bietjie wat jy nou doen gaan die groot hoop kleiner maak.

Daar is belonings in die Hemel wat vir jou wag wat jy nie kan begryp nie, selfs al probeer die HERE dit nou aan jou verduidelik. Hou aan! Jy het oorwin; jy is ‘n oorwinnaar en jy sal bly aan die oorwin! Prys die HERE!

Daar is nie so iets soos ‘n mislukking in jou lewe nou dat jy voluit in gehoorsaamheid lewe en die plesier van die lewe agter gelaat het nie. Jy het geen idee hoe sterk die opposisie is wat jy elke dag oorwin nie. Dis waarom satan jou eie foute teen jou gebruik en jou probeer oortuig dat jy een stap weg is van totale verdoemenis. Satan en sy trawante is nie dom nie! Hulle grawe diep om by jou swak plekke uit te kom! Moenie na hulle luister nie!

Jy mag miskien nou groot opposisie beleef, maar die HERE is groter en Hy sal jou deur dra!

Satan hoop dat hy jou sover kan kry om terug te val in die wêreld in, maar dit gaan nie gebeur nie, want jy is ‘n Kind van die Koning, ‘n Prins of Prinses van die Heelal en jy lewe jou lewe uit die hart van die HERE. Dis waar jou krag vandaan kom! Opgee is nie eers ‘n opsie nie!

Waarheen anders sal jy gaan? Jy sal tog nooit gelukkig wees in die wêreld nou dat jy die geluk en vrede van die Hemel ervaar het nie?

Moenie opgee nie! Hou uit! Daar is geen manier wat jy kan verloor solank jy aanhou probeer nie. Staan op en sê: “Ek gee nie om wat se mislukking ek dink ek is nie, ek sal aanhou, want die HERE is getrou. Hy is met my en Hy sal sorg dat ek my bestemming bereik!”

Glo nou wat jy gesê het en glo dit met jou hele hart.

Gaan nou voort. Die HERE is met jou en Hy sal jou voed en beskerm. Prys Sy Naam!