Wat satan nie wil hê jy moet weet nie

Wat satan nie wil hê jy moet weet nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons almal sukkel om van sonde ontslae te raak. Net sodra jy dink dat jy nou iets reggekry het of dat jy nou ‘n verskil gemaak het, dan val jy weer terug! Dis ‘n ewigdurende stryd! Ons probeer perfek wees, maar die waarheid is dat niemand is nie!

Iemand wat baie slimmer is as ek het eenslag gesê ons is Hemelse wesens wat besig is met ‘n aardse ondervinding! As mens bestaan ons uit ‘n vlekkelose siel wat vasgevang is in ‘n sondige vleeslike liggaam. Dis ‘n wen kombinasie vir teenstrydighede as ek al ooit een gesien het! Aan die eenkant is die wil om skoon en rein te lewe vir Jesus, maar aan die ander kant is daar die liggaam met sy aardse begeertes. Om te dink dat jy nooit sal val of nooit sonde sal doen nie, is wensdenkery op sy beste!

In Genesis 3:17 na die sondeval het God die aarde vervloek om die mens se ontwil. Alles wat uit die aarde kom, is dus vervloek, ook ons liggame wat uit die stof van die aarde gemaak is. Omdat alles vervloek is, moet die vleeslike liggaam op aarde sterf. Dis waarom daar dood in die wêreld is. Dis die enigste manier om verlos te word van die vervloeking wat oor alles uitgespreek is.

Satan stel allermins nie belang is jou vervloekte liggaam nie. Hy gebruik jou liggaam as ‘n doel tot ‘n middel om by jou onsterflike siel uit te kom. Dis waarin hy werklik belangstel. Satan ken die Woord van God en anders as die mens, glo hy dit, want hy weet dat dit waar gaan word! Dis waarom die duiwels in Mattheus 8:29 vir Jesus gevra het of hy voor die tyd gekom het om hulle te pynig! Die werklike oorlog gaan oor die siel van die mens. Elke siel wat satan wen, is ‘n siel minder vir God. Dis al waaroor dit vir hom gaan! Satan is glad nie van plan om alleen in die hel saam met sy trawante gepynig te word nie!

As jou siel gered is, dan het satan natuurlik geen houvas daarop nie. Dit beteken egter nie dat jy gespaar gaan bly nie, want hy is die ultimate klikbek! Satan spandeer die meeste van sy tyd nie in die hel soos baie van ons dink nie, maar voor die troon van God waar hy die wat gered is aankla! Gelukkig het ons die beste advokaat naamlik Jesus om vir ons in te staan!

Waarom probeer satan dan die wat gered is aanval as hy geen sê oor hulle siele het nie? Omdat hy wil verhoed dat jy ‘n persoonlike verhouding met Jesus opbou. Deur te sorg dat jy die heeltyd negatief bly en die heel tyd te hamer op die sonde wat jy doen of gedoen het, lei hy jou aandag af van wat werklik belangrik is! Satan weet dat as jy ‘n persoonlike verhouding met Jesus het, dan gaan Jesus vir jou help en jou wys wat werklik belangrik in die lewe is. As dit gebeur, dan gaan hy wat satan is sy mag oor jou verloor!

Dis waarom die so belangrik is om te bid en vir Jesus te leer ken! As daardie verhouding eers in plek is, dan kom jy agter dat jou Pa is die Koning van die Heelal is en dat jy eintlik ‘n Prins of ‘n Prinses is! Niks met jou sal gebeur sonder God se wil nie. Die sonde wat nog in jou lewe is, is skielik nie meer belangrik nie! Dan besef jy dat die Bybel reg is deur te sê Jesus kan en Hy sal! Dit, liewe leser, is wat satan nie wil hê jy moet weet nie!

Mag die Here hierdie boodskap seën.