Mag die vrede van die HERE die hele tyd in julle gedagtes en in julle harte wees. Hy lei ons in die pad van ‘n bewustheid elke oomblik van die dag, want daar is ‘n konstante veldtog om dit wat belangrik is van ons te steel en die swakste skakel is by die wat onkundig is.
Die praat in tale is een van die Gawes van die Gees van die HERE. Ons lees daarvan in 1 Korintiërs 12:10. So baie mense verkondig die praat in tale asof dit die belangrikste van al die gawes is. Self was ek al in ‘n kerk waar die leraar vir die mense gesê het dat as hulle nie in tale kan praat nie, dan het hulle nie die Heilige Gees in hulle nie!
Niks hiervan is natuurlik waar nie, want in 1 Korintiërs 12:11 staan dat die Gees die gawes uitdeel soos Hy wil. Ek kan glad nie in tale praat nie en dis nie dat ek al probeer het of gevra het nie. Ek het geredeneer dat as ek in tale kan praat, dit my nader aan die HERE sal bring en dis waarom ek dit so graag wou kon doen, maar ek het die gawe nooit ontvang nie. Soos baie mense het ek natuurlik die punt gemis, want in 1 Korintiërs 12:30 sê die HERE “Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê?” Die antwoord is natuurlik “nee”.
Natuurlik gaan jy verwerp word uit sekere kringe uit omdat jy nie in tale kan praat nie. Soos ek gesê het redeneer mense dat as jy nie in tale kan praat nie, dan het jy die Gees van die HERE nie in jou nie. Dis natuurlik verkeerd, want dan gebruik die HERE net ‘n ander manier om Sy liefde aan die mense deur jou lewe uit te beeld.
Dis soos om jou broer of jou suster voor jou te sien staan. Hy of sy kan nie in tale praat nie en dis vir jou snaaks, maar jy kan sien hoe die lig van die HERE in sy of haar lewe skyn! Jy besef dan dat miskien is daar tog mense in die Liggaam van die HERE wat nie die gawe het om in tale te kan praat nie, maar dat julle mekaar nog steeds lief sal hê en sal saamstaan vir wat reg is.
Julle weet, dis so ongelooflik om die HERE te dien en in sy klaskamer te mag wees. Hy leer ons nie met harde woorde nie, maar met sagte woorde van liefde sodat ons kan verstaan hoe lief Hy ons het. Prys die wonderlike Naam van die HERE!
Let ‘n bietjie mooi op en jy sal die Gees van die HERE in mense se lewens kan sien. Hulle mag miskien nie in tale kan praat, duiwels uit dryf of siekes gesond kan maak nie, maar hulle bly Kinders van die HERE! Hulle sal saam met jou staan en saam met jou baklei vir wat reg is, selfs al word hulle deur die wêreld gehaat en mens het nie baie vriende soos dit nie!
Prys die Naam van die HERE!