Gebind deur die geloof

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Iemand het die week vir my ‘n vraag gevra wat in beginsel neerkom op ‘n leerstelling wat iemand moes gemaak het soos of ‘n sekere gebruik sonde is of nie. Onmiddellik het die Woord van die HERE tot my gekom…

Hoe maklik laat ons nie toe dat ons deur sulke leerstellings gebind word nie. Een ding moet julle weet en dit is dat die HERE vir ons ‘n verstand gegee het om self besluite te kan neem. Ons het vryheid van keuse! Dis iets wat selfs die engele in die Hemel nie het nie! Waarom dan sal jy toelaat dat daardie vryheid van keuse wat jy het van jou af weggeneem word deur die leraar van ‘n gemeente?

Baie jare gelede was ek die lidmaat van ‘n sekere kerk wat naamloos sal bly. Die prediker wat hulle gehad het was goed en ek het van sy preke gehou, maar toe word hy verplaas en ‘n ander neem sy plek in. Onmiddellik het dinge in die kerk begin verander. Daar was onmiddellik vir ons laat verstaan dat TV kyk en fliek toe gaan sonde is; so ook boek lees, koerant lees of enige ander vorm van media lees.

In die begin was dit vir my snaaks dat ‘n kerk so ‘n radikale verandering sal ondergaan en het ek gehoop dat dit sal verander, maar dit het nie. Een Sondag het die prediker begin verkondig dat die wat TV kyk, fliek toe gaan, koerant lees en so aan nie Hemel toe sal gaan nie… Dit was waar ek toe ‘n keuse moes maak en ek het ook. Ek het opgestaan, uitgestap en nooit weer teruggegaan nie!

Julle moet weet dat die HERE ons vrygekoop het deur Sy Bloed! Dit was die mees kosbaarste, mees onbaatsugtigste geskenk wat ons seker kon gekry het! Dit beteken nie dat jy ‘n lisensie het om te kan sondig soos jy wil nie, maar jy het die vryheid van keuse om besluite te kan maak.

Paulus gee in 1 Tessalonisense 5:16-22 vir ons die volgende instruksies: Wees altyddeur bly, Bid sonder ophou, Wees in alles dankbaar, Blus die Gees nie uit nie, Verag die profesieë nie, Beproef alle dinge; behou die goeie, Onthou julle van elke vorm van kwaad.

Onthou, liewe leser; jy het die keuse! Moenie toelaat dat die vyand dit van jou af wegsteel nie. As daardie ketting eers om jou enkels is, dan gaan dit jou jare vat om daarvan ontslae te raak. Ek weet, want ek was daar. As jy eers daar is, dan begin jy alles en almal om jou veroordeel omdat jy nie kan sien wat hulle sien nie. Hulle is dan die sondaars en jy alleen is reg! Let op dat ek die woord “veroordeel” gebruik wat verkeerd is. Ons mag beoordeel, maar nie veroordeel nie. As jy veroordeel, dan ontneem jy God se mag, want net God mag veroordeel. Verstaan julle?

Die apostel Jakobus skryf in Jakobus 1:5 die volgende: “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”

Daardie vers is nog steeds waar! Jy mag die Heilige Gees vra om vir jou die wysheid te gee om te kan onderskei en dit sal aan jou gegee word! Moenie dat iemand vir jou anders leer as wat in die Bybel staan of toelaat dat die Woord van die HERE verdraai word of selfs toelaat dat die Woord van die HERE gebruik word om ‘n argument te wen nie!

Beproef alle dinge; behou die goeie. Hoe weet enige iemand werklik wat goed is vir hom en wat nie? Deur te eksperimenteer! Ek hou van ‘n lekker aksie prent en ek hou van ‘n mooi teken prent. Dis die tipe goed wat ek in ‘n fliek sal gaan kyk. Oordrewe geweld, satanisme en seks gaan my nie aan nie. Daardie tipe flieks vermy ek. Sien julle waar die woorde bo inpas? Beproef alle dinge; behou die goeie!

Die HERE het vir ons twee gebooie gegee om volgens te leef en beide is opgeteken in Mattheus 22:37-39 [37]  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. [38]  Dit is die eerste en groot gebod. [39]  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Liewe leser, leef jou lewe vir die HERE. Maak die beste keuses wat jy kan. As jy nie gemaklik voel moet iets nie, vermy dit dan. Vra die HERE om leiding as jy nie meer weet nie, maar moet niks oordoen nie. Bowenal, pasop dat jy nie gebind word sonder dat jy dit agterkom nie!

Prys die Naam van die HERE!

(Visited 101 times, 1 visits today)