HERE, gee tog dat die wat hierdie lees sal verstaan dat U ernstig is oor hierdie saak; dat U geen doekies omdraai nie. Wys tog in hulle harte dat hierdie woord die waarheid is. Amen!
Vandat ek geskryf het dat die HERE vir ‘n “Gees Vervulde” bruid gaan kom, was daar baie vrae. Julle sien, baie is geleer dat as jy gered is, dan gaan jy Hemel toe. Dis natuurlik waar, want jou siel is gered en die HERE sê in Sy Woord dat niks jou uit sy hand sal gryp nie, maar die feit dat jou siel gered is beteken nie dat jy die wegraping gaan meemaak nie…
Julle sien, baie dink dat as jy tot bekering gekom het dan is jy veilig en dit word ook so in ons kerke verkondig, maar as jy die Bybel begin bestudeer, dan kom jy agter dat meer nodig is. Eerstens moet jy ‘n heilig lewe leefstyl volg. (“Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewens wandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” 1Petrus 1:15-16) Tweedens moet jy BID! Hoeveel van julle bid nog tot die HERE? Wie se bid altare is afgebreek en die klippe daarvan lê verstrooi? Jesus sê in Lukas 21:36 “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Sien, jy moet BID en met die HERE gesels! Derdens moet jy vol van die olie van die Heilige Gees wees en aan die brand vir die HERE! Dit beteken die dat HERE jou begin en einde moet wees; jou alles. Jou lewe moet in Sy hande wees en jy moet elke dag op die leiding van die Gees staatmaak. Jy moet geen besluite op jou eie maak sonder om die HERE eers te raadpleeg nie, want alles behoort aan die HERE! Verstaan julle?
So ‘n tyd gelede het iemand vir my ‘n getuienis gestuur van ‘n vrou wat in ‘n droom drie mans en ‘n vrou in ‘n motor gesien ry het. Sy het geweet dat al vier mense gered was en Kinders van God was, maar net die vrou alleen het verdwyn; die drie mans het agtergebly. Sy sê dat haar hart gebreek het vir al die verlore siele wat dink dat hulle gereed is omdat hulle die HERE as Salig Maker aangeneem het. Sy kon nie verstaan waarom net die vrou geneem is en nie die mans nie, want almal was tog geredde kinders van die HERE! Toe wys die HERE vir haar dat die wat agtergebly het nog in die wêreld lewe, na wêreldse musiek luister, na wêreldse films kyk, tydskrifte en gewone boeke lees wat glad nie die gees voed of stig nie, ure voor die TV sit en glad nie tyd maak om saam met Jesus en die Heilige Gees te spandeer nie. In Jakobus 4:4 staan: “Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God”. Verstaan julle nou waarom die Jesus in Mattheus 25:12 sê “Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.” As jy nie tyd maak vir die HERE in jou lewe nie, gaan die HERE nie weet wie jy is nie!
Bid jy nog, liewe Kind van die HERE? Gesels jy met die HERE? Baie mense sê dat hulle nie kan bid nie… Kan jy met mense gesels? Dan kan jy bid ook. Bid en vergifnis vra vir jou oortredinge is uiters belangrik! Jy moet jou bruilofskleed skoon hou en deur vergifnis te vra is die manier hoe jy dit doen. Ek weet nie presies hoe om die volgende in woorde om te sit nie, maar die HERE is vir jou so lief soos wat jy nooit sal kan besef nie. Hy wil jou nie veroordeel nie! Hy wil hê jy moet na Hom toe kom met alles, maar satan gaan jou oortuig dat die HERE woedend is vir jou en dat Hy jou wil straf. Dis absolute snert! Leuens! Die HERE wil jou in sy liefdevolle arms vat en jou wonde verbind. Hy wil jou genees van alles wat jou pla, maar dan moet jy na Hom toe kom. As jy siek is en jy gaan nie na ‘n dokter toe vir hulp nie, wie se skuld is dit dan? Die dokter s’n? NEE! Jesus is ons Geestelike Dokter. Hy wag vir jou en Sy spreekkamer bly 24 uur per dag oop! Prys sy Naam!
As jy gereeld bid, dan sal die Vuur van die Heilige Gees in jou begin brand vir die HERE. Dis onvermydelik! Jy sal begin staan maak op die leiding van die Gees en al hoe minder dinge op jou eie wil doen.
Kom en vertel julle iets sodat julle kan verstaan. Ek moes my rekenaar opgradeer, want die een wat ek het is al elf jaar oud, maar ek het tot nou toe nog nie die geld daarvoor gehad nie. Rekenaars kos nie meer vyf tot tien duisend rand nie… Jy kyk nou na twintig tot dertig duisend rand! Ek het geen idee gehad hoe ek hierdie bedrag bymekaar sou kry nie, maar ek het op die HERE vertrou, want ek het geweet dat ‘n oplossing sou kom. Ek het begin spaar. Die HERE was getrou en Hy het gesorg dat daar altyd ekstra geld elke maand was om te kan spaar. Soos die geld elke maand gegroei het, het ek gevra: Nou HERE? Dan kom die antwoord: Nog ‘n klein rukkie. So het ek uitgehou sonder dat ek geweet het waarheen die HERE met my op pad was. Julle sien, dis soos daardie prentjie van die dogtertjie wat die klein teddiebeertjie vashou en weier om dit vir dien HERE te gee, maar intussen staan die HERE met die grootste teddiebeer denkbaar agter Sy rug en Hy wil dit vir jou gee, maar eers moet jy wys dat jy op Hom vertrou! Prys die HERE! Die laaste week van Maart het alles skielik net in plek geval. Op een of ander bo natuurlike manier het die HERE gewerk dat ek die parte wat ek nodig gehad het baie goedkoop kon kry! Nou sit ek met die grootste geskenk wat ek nog ooit van die HERE gekry het! Sien julle, dis wat gebeur as jy die HERE in begeer van jou lewe sit en op Sy leiding alleen vertrou.
Die HERE soek ‘n verhouding met jou. Hy wil jou leer ken en hy wil alles van jou af weet. Ja, Hy weet alles klaar, maar Hy is versot daarop as jy Hom dit eerder self vertel. Is dit dan nie lekker as iemand vir jou ‘n storie vertel as wat jy dit self lees nie? Die HERE het jou lief, liewe leser; meer as wat jy ooit sal kan besef. Hy wil jou toegooi met duur geskenke van geestelike gawes, maar ook fisiese geskenke as die nie in die pad tussen jou en Hom gaan staan nie. Al wat Hy terug verlang is jou liefde vir Hom en dat jy alles in Sy Hande moet sit. Dis werklik maklik. Jy sal dan begin sien dat dit wat die wêreld vir jou kan bied nie naasteby is wat die HERE vir jou kan gee nie. Al wat hierdie wêreld vir jou kan gee is fisiese rykdom en daarmee saam ‘n hoop van probleme so groot soos ‘n berg. Het jy al ooit een ryk man gesien wat volkome gelukkig is? Dan rus ek.
Die HERE sê in Jesaja 55:7 “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” Maak dinge reg sodat jy aan die brand word vir Jesus, want Hy soek ‘n bruid wat verlang na Hom in Gees en in Waarheid! Prys die HERE!