Ons almal wonder partykeer of dit wat ons doen of sê enige uitwerking het op ‘n wêreld wat al hoe dower word vir die boodskap van die Here…
Om julle die waarheid te sê, wonder ek baie keer self ook hieroor, want mens waarsku en vermaan, maar dit lyk nie of daar enige verandering is nie… Maar kom ons kyk wat sê die Here hieroor in Markus 4:26-29 “[26] En Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer ‘n mens die saad in die grond gooi; [27] en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot—hoe, weet hy self nie. [28] Want vanself bring die aarde vrug voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die volle koring in die aar. [29] En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.”
Die Here het die hele proses vir ons so maklik en pynloos as moontlik gemaak. Al wat die Here van ons as Christene verwag is om die saadjie te saai. Dis al; niks meer nie en niks minder nie. As die saadjie gesaai is, dan is ons werk klaar. Ons weet nie hoe die saadjie groei nie en ons weet ook nie of dit groter word nie. Dit gebeur alles vanself, maar wanneer die plantjie sy kop bokant die grond begin uitsteek, dan begin ons werk weer, want dan moet die plantjie versorg word sodat dit self vrug van dra. Selfs dan kan ons nie die plantjie te leer vrug dra nie. Weereens sal dit op sy eie gebeur, sonder enige inmenging van ons af.
Ons plig, liewe leser is om die Woord van die Here onder die mense te saai. Daar is verskillende maniere om dit te doen. Jy kan die Woord van die Here saai deur direkte prediking soos ek nou doen, maar jy kan ook die Woord van die Here saai deur jou optrede. Dis egter al wat ons kan doen. Net soos ons nie ‘n saadjie nie kan forseer om te groei nie, kan ons ook nie niemand forseer om gelowig te word nie. Dis iets wat vanself sal gebeur of nie gebeur nie en daaroor het ons geen beheer nie.
Ek weet dat daar van julle is wat baie bekommerd is oor julle vriende en familie wat nie die Woord van die HERE wil aanvaar nie. Julle moet besef dat net soos met ons ouers, klank vir sommige mense baie stadig trek want dit waarteen ons ouers ons as kinders gewaarsku het, bereik ons eers in ons volwasse jare! Vir menigte gaan dit presies net so wees. Hulle verstaan nie wat dit is wat jy jou sê nie, maar na die tyd gaan hulle verstaan. Los hierdie mense in die hande van die HERE, want Jesus sal vir hulle sorg. Moenie probeer om die plantjie te laat groei nie, want jy gaan net meer skade aanrig as wat goed is vir die plantjie.
As die plantjie egter opkom, dan is dit ons as gelowiges se plig om daardie plantjie te versorg sodat dit self eendag vrug kan dra. Weet julle hoe baie het ek dit al gesien? Die Woord van die Here word gesaai en die plantjies kom by die honderde op, maar daar is niemand wat hulle kan of wil versorg nie… Baie val dan terug in die wêreld weens ‘n gebrek aan versorging. Dit behoort nie so te wees nie, want ons daardie jong Christene wat opstaan het ons wat die pad loop al lank loop, meer nodig as wat ons besef. ‘n Woord van aanmoediging doen partykeer meer as wat ons besef!
Weet dit, liewe leser, dat jou pogings nie ongesiens verbygaan nie. Die Here in die Hemel sien alles wat ons op aarde doen, al dink ons nie so nie. Hy sal beloon die wat uithou tot die einde toe!
Mag die Here hierdie boodskap seën!