Ek vind dit moeilik om te glo dat die wêreld so aan die slaap kan wees oor wat besig is om te gebeur.
Jesus was reg gewees toe Hy gesê het dat dit net soos in die dae van Noag sal wees. Mense sal aangaan met hulle daaglikse take asof niks verkeerd is nie en dan sal die einde skielik op hulle wees…
Jesus wys vanoggend vir my net hoe Hy bid en vir ons intree by God die Vader om dit wat aan die kom is nog net ‘n klein rukkie uit te stel, maar dat Hy alleen bid… Niemand bid saam met Hom nie. Liewe leser, wil jy nie net daar waar jy nou hierdie sit en lees, net vinnig vir God die Vader vra vir genade nie? Daar is nog so baie ongeredde siele daarbuite wat bereik kan word as ons nog net ‘n bietjie meer tyd het. Ek weet dat julle moeg is vir hierdie wêreld en dat julle huis toe wil gaan, maar hoe kan ons huis toe gaan wetende dat ons drenkelinge agtergelaat het om te verdrink?
Een van my gereelde lesers het ‘n droom van die HERE ontvang wat strook met dit wat ek al voorheen aan julle geopenbaar het. Dit strook ook met die drome van wat ander gesien het; daarom betwyfel ek dit wat gesien is glad nie. Die HERE kommunikeer met ons op maniere wat ons kan verstaan en drome is een van daardie maniere.
In hierdie droom was daar ‘n geweldige sterk wind wat gewaai het. Dit was so sterk dat dit die bome omtrent skuins laat staan het soos dit gewaai het, maar in hierdie persoon se agterplaas het geen wind gewaai nie! Dit was asof hy beskut was daarvan. Net toe die wind op sy ergste waai, het die wegraping plaasgevind…
Iets verskrikliks gaan oor hierdie aarde kom net voor Jesus gaan kom. Daar is profesie wat daarop wys dat die Derde Wêreld Oorlog gaan uitbreek net voor Jesus se koms. Soos die spanning in die midde ooste besig is op te bou, kan ek glo dat dit binnekort gaan gebeur. Iran het die moeder van alle oorloë belowe as Amerika nie gaan onttrek aan die Persiese Golf nie. Daar is ook ‘n profesie dat ‘n asteroïde die Stille Oseaan gaan tref. Dit gaan ‘n tsunami veroorsaak soos wat nog nooit voorheen gesien is nie. Hierdie gesig is in 2012 deur iemand anders ook gesien.
Hoe dit ook al sy, liewe lesers, sorg dat jy gereed is. Waarsku die mense om jou. Ja, hulle gaan jou beskuldig daarvan dat jy van jou kop af is en allerhande ander lelike dinge jou toesnou, maar dan het jy jou werk gedoen! Die onus berus dan op hulle.
Wat ook al gaan gebeur gaan verskriklik wees, maar vir ons as Kinders van God, gaan daar kalmte wees, want ons gaan weet dat ons tyd gekom het. Ons gaan die kalm oog van die storm wees, want soos die droom gewys het, was dit kalm in die agterplaas van hierdie leser, ten spyte van die wind wat vreeslik rondom hom gewaai het.
Ek kan nie vir julle met duidelikheid sê wanneer hierdie dinge gaan gebeur nie, want niemand weet nie. Ek kan vir julle egter net dit sê: baie, baie, baie gou! Moet dus nie dat gras onder jou voete groei nie. Doen wat jy kan en doen dit gou!
Prys die Naam van Jesus!