Hoe baie van julle het al gevoel dat julle heeltemal alleen is; dat niemand verstaan of omgee nie en dat selfs God jou verlaat het?
Ons almal voel een of ander tyd in ons lewens so; ja, ek ook! Nee, die Here verlaat ons nooit, selfs al voel dit vir jou of dit so is. Kyk ‘n bietjie wat sê die Here in Jesaja 43:1-2 “[1] Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! [2] As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.”
Hierdie is ‘n belofte soos min! Ons Skepper en ons Formeerder sê in duidelike verstaanbare woorde dat ons SYNE is en dat Hy ons by die naam geroep het. Ons is SYNE en niks sal ons uit sy hand kan ruk nie! Die Here verseker ons verder dat niks slegs ooit met ons sal gebeur sonder Sy wil nie. Hou dus moed as u uself in ‘n toestand bevind wat vir u te groot lyk. Die Here is met jou en Hy is besig om jou te dra!
Onthou dat God se weë nie ons weë is nie. Ons verstaan nie altyd waarom ons in slegte situasies beland nie, maar een ding kan ons verseker van wees, en dit is dat ons nooit alleen is nie. Die Here is altyd met ons, selfs al lyk die situasie hoe desperaat!
Ons almal ken seker die gediggie van die voetspore in die sand. Dis die verhaal van ‘n man wat saam met die Here gestap het op ‘n strand. Soos hy teruggekyk het in sy lewe, kon hy oral kon hy twee rye voetspore sien soos die Here saam met hom deur sy lewe gestap het, maar plek-plek, was daar net een ry voetspore. Hy het opgelet dat daar waar hy die swaarste in die lewe gekry het, dit juis daar was wat daar net een ry voetspore was. Hy vra toe vir die Here daaroor en sê dat hy gedink het die Here is altyd met hom deur alles wat hy deurgemaak het. Die Here antwoord toe dat Hy altyd saam met hom was, net soos Hy belowe het Hy sou wees, maar daar waar hy die een ry spore sien; dit is waar die Here hom gedra het!
Onthou een ding, liewe leser: U is NOOIT alleen nie. Die Here is altyd met u, net soos Hy belowe het! Ons moet net glo! Prys die Naam van Jesus!