Ek is maar net te bewus daarvan dat dit wat julle op my webruimte lees baie keer verskil van wat julle in julle kerke hoor. Dis jammer dat dit so is…
Die rede waarom dit so is, is omdat kerke verbid word aan ‘n mandaat en daardie mandaat bepaal die kerk se siening oor die Bybel en hoe die kerk dit interpreteer. Daardie mandaat bevat ook ‘n stel reëls vir die leraars wat hulle lei waaroor gepreek moet word en waaroor nie en ook wat toelaatbaar is en wat nie.
Ek was al in kerke waar die doop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees blatant uitgefaseer was in die plek van die doop in die Naam van Jesus soos deur Paulus geleer was. Hierdie kerk se siening was dat die doop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees “verkeerd” was en dat mense wat sodanig gedoop was, verkeerd gedoop was en nie werklik gedoop was nie. Jy moes dus oorgedoop word om gered te kan word.
Daar is kerke vandag waar penetrasie preke glad nie toegelaat word nie omdat hulle bang is hulle verloor lede. Mense word vertel hoe wonderlik Jesus is en hoe lief Hy ons het, maar van sonde en van oordeel word hulle niks geleer nie. Ook nie hoe om gered te word nie…
Ek maak nie ons kerke sleg nie; glad nie! Ek gebruik die bogenoemde om aan julle te wys hoe kerke van mekaar verskil deur die mandaat wat elkeen van hulle volg.
Net soos die kerk ‘n mandaat het om te volg, het die HERE ook Sy Mandaat wat Hy volg. Die Bybel sê vir ons dat teen die tyd wat die HERE sy Bruid gaan kom haal, gaan daar nie een persoon op hierdie aarde wees wat nie van Jesus gehoor het nie. Dis die HERE se mandaat en dit moet volbring word!
Dis waarom die HERE mense soos ek roep om die Woord van God te verkondig. Ons kan die Woord van God verkondig soos dit staan sonder enige bekommernis. Ons het geen opleiding nie, maar toe die HERE gevra het “Wie sal ek stuur?” het ons opgestaan en gesê “Stuur ons!” Nou word ons deur die Heilige Gees bekragtig om te kan doen wat ons doen, want die HERE bekragtig die wat Hy stuur! Prys Sy Naam!
Uit die aard van die saak hou die kerke glad nie van dit wat ons doen nie en word die “waarheid volgens…” bordjie gereeld om ons nekke gehang; so asof daar twee waarhede in die Bybel is. Dit maak seer, maar nie so seer soos wat die Fariseërs aan Jesus gedoen het nie.
Hier by Suiderkruis behoort ons aan geen kerkgroep nie en het ons geen mandaat om te volg nie. Ons is dus vry om die Logos Woord asook die Rhema Woord aan u te bring. Dit is waar dat u dinge hier gaan lees wat vir u vreemd gaan wees omdat dit nie in u kerk op hierdie manier behandel word nie.
As u egter nie seker is nie of as u twyfel, gaan op u knieë en vra die HERE om dit wat u lees aan u duidelik te maak. Vra of dit die waarheid is. U hoef nie skaam te wees nie. Ek wil my verstout deur u uit te daag om dit te doen! Ek het dit al gedoen met iemand wat ek op Internet volg en die HERE het dit aan my duidelik gemaak dat dit wat ek lees wel Sy Wil was! Die HERE sal dit u ook doen, liewe leser! Daaraan twyfel ek nie vir een sekonde nie!
Ons uitsluitlike doel is om so veel as moontlik siele na die HERE te lei en hulle te help op die pad wat hulle saam met die HERE stap. Ons doel is om die Wil van God aan u oor te dra sodat u ‘n produktiewe Christen in die Koningryk van die HERE kan word wat weer ander na die HERE sal lei. Ons doen dit sonder om enige vergoeding te verwag. U sal daarom geen donasie vorms op ons webruimte sien nie en daar is ook niks waarvoor u hoef te betaal nie. Jesus sê tog immers in Mattheus 10:8 “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” Die kopiereg van al ons werk behoort aan die Heilige Gees!
Alles wat ons doen is tot eer van die HERE; daarom, kom gerus en lees wat die HERE vir u wil sê! Miskien gaan u bly om meer uit te vind!
Prys die Naam van Jesus!