Ons almal het tog seker een of ander tyd in ons lewe ‘n speletjie of twee gespeel. Hetsy wegkruipertjie as kind of een of ander vorm van bord of elektroniese speletjie.
Alle speletjies het spel reëls wat gehoorsaam moet word. In sommige gevalle word die reëls op die speler afgedwing. Het u al gedink wat sal gebeur as ‘n speletjie nie reëls het nie? Totale chaos gaan in dies spel heers, want dan kan enige speler doen net wat hy/sy wil. Spel gaan frustrerend raak en uiter moeilik om te verstaan omdat daar geen neergelegde reëls is nie. Die spel reëls is daar sodat almal kan verstaan wat die doel van die spel is; wat dit is wat vermag moet word en hoe om uiteindelik die spel te wen. Ek weet dat baie van u nou wonder waarheen ek op pad is met hierdie ooglopende verduidelikings.
Ons samelewing het ook reëls in die vorm van wette. Hierdie wette is deur God geskep en as Kind van God verwag die Here van ons om die wette van die land asook Sy wette vir ons lewens na te kom. In die Ou Testament word na die reëls verwys as die Tien Gebooie, maar in die Nuwe Testament is die vervang met die Wet van Christus. Die wêreldlinge sê dat God hulle pret wil bederf, maar dit is nie waaroor dit gaan nie. Reëls gee orde en dit maak dat ons as Kinders van God nie blootgestel word aan dinge waarvoor ons nie gereed is nie.
Ek het hierdie afgelope week met verskeie mense gedeel waarby huwelike, egskeidings en seks voor die huwelik ter sprake gekom het. Ek was verbaas gewees om te hoor hoe geredde Kinders van die Here vir hulle mede-Christene aanpor om vir hulle kinders kondome te koop sodat hulle kan doen wat nodig is… Dit terwyl die Bybel ons op verskeie plekke waarsku teen onsedelikheid!
- Handelinge 15:20 “…dat hulle onsedelikheid moet vermy…”
- 1 Korintiërs 5:1 “’n Mens hoor werklik van onsedelikheid onder julle, en dan nogal onsedelikheid van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie voorkom nie”
- Galasiërs 5:19 “Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid…”
- Efesiërs 5:3 “Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie.”
- Kolossense 3:5 “Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.”
- 1 Tessalonisense 4:3 “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.”
As mens fokus ons te veel op die “vermaaklikheid” aspek van seks sonder om die “skeppings” aspek raak te sien. Ja, seks is genotvol. God het dit so ontwerp en Hy verkies dit dat mans en vroue die seksuele aktiwiteit moet geniet, maar binne die beperkinge van die huwelik!
Speel ons die speletjie nie volgens die reëls nie, dan is die gevolge seksueel oordraagbare siektes, ongehude moeders, ongewenste swangerskappe, aborsies en nog baie ander dinge waarvoor jong mense fisies en geestelik nie gereed is nie.
Mense besef nie watse verantwoordelikheid ‘n baba is nie. Hulle besef nie wat dit gaan behels nie. Eers as alles verby is en jy tot jou sinne kom, dan besef jy wat dit is wat jy gedoen het, maar dan is dit te laat.
Huwelike is presies dieselfde. Baie mense trou omdat hulle hul welluste op ‘n wettige manier wil bevredig, maar as die vermaaklikheid aspek verby is, dan slaan die werklikheid hulle soos ‘n hamer teen die kop! Dis dan wanneer die huwelik in die skeihof eindig…
Ek het trou, skei en seks buite die huwelik as ‘n voorbeeld gevat hierbo, maar die reëls is baie meer as net dit. Die reëls bevat ook opdragte hoe ons ons medemens moet behandel, hoe ons moet optree en wat toelaatbaar is en wat nie. Die Tien Gebooie is in die Nuwe Testament vervang met die Wet van Christus en ons lees in Mattheus 22:37 – 40 daarvan: “[37] En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. [38] Dit is die eerste en groot gebod. [39] En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. [40] Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” As u bo genoemde nakom, dan sal u outomaties ook die Tien Gebooie nakom, want Jesus se self so!
My vraag aan u is dit: Is u lief vir Jesus? As u lief is vir Jesus dan sal u Sy gebooie bewaar omdat u Hom lief het. U sal God se reëls vir u lewe nakom en nee, Sy reëls is nie moeilik nie. Die doel van die reëls is om orde te verseker en te sorg dat u uit die moeilikheid bly. In 1 Johannes 5:3 lees ons: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.”
Prys die HERE vir hierdie boodskap!