Het jy die Seun?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Baie lank gelede was daar ‘n pa wat baie lief was vir sy seun. Soos sy seun ouer geword het, het die pa agtergekom dat die seun ‘n belangstelling toon in kunswerke. Sy pa het begin om die belangstelling te kweek en baie gou het hulle twee ‘n gedugte span gevorm wat kunswerke versamel het.

Eers het hulle kunswerke versamel van meesters in hulle eie land, maar nadat die seun klaar gemaak het met sy skool opleiding, het pa en seun begin reis en kunswerke versamel van reg oor die wêreld. Die seun het sonder twyfel ‘n aanvoeling vir die kuns wêreld gehad, want hy het was ‘n gedugte onderhandelaar. Baie gou het die twee uitgestaan bo die res en het hulle vir hulle ‘n naam gemaak as vooraanstaande kunskenners.

So kom dit toe dat daar oorlog uitbreek in die land waar die pa en seun gewoon het en so gebeur dit dan ook dat die seun opgeroep word vir militêre diens. Ongelukkig word die seun gedurende ‘n skermutseling met die vyand noodlottig gewond en sterf hy op die oorlogsveld. Die vader was verpletter oor die dood van sy seun!

Etlike weke na die oorlog is daar ‘n klop aan sy voordeur. Die pa gaan maak oop en vind ‘n jong soldaat op die stoep staan. Die soldaat sê dat die man se seun die rede is dat hy vandag daar kan staan, want as die seun nie uit die loopgraaf uitgespring het om hom te kom haal nie, dan sou hy nie vandag daar kon staan nie. Alhoewel die pa sy seun gemis het, was hy bly oor die nuus, want sy seun het as ‘n held gesterf deur sy lewe vir ‘n ander te gee.

Die jong soldaat haal toe ‘n opgerolde stuk papier uit. Daarop was ‘n potlood skets van die man se seun. Die jong soldaat sê toe dat hulle maats was en dat die seun hom vertel het van die kunswerke wat hulle versamel. Hy was nog nooit iemand wat kon teken nie, maar hy het die seun geskets na die beste van sy vermoë. Na die seun se dood het hy die skets oorgedoen soos hy dit nou het en hy wil dit graag vir die pa gee as aandenking van sy seun se onbaatsugtige daad. Die skets was glad nie ‘n meesterstuk nie, maar die pa het die met blydskap aanvaar.

Baie gou het die pa die skets laat raam en het hy die duur kunswerke bokant die kaggel verhang om plek te maak vir die skets van sy seun. Soos die jare verby gegaan het, het die skets die pa se mees kosbaarste besitting geword en het hy elke dag daarna gekyk.

Na baie jare is die pa oorlede. Die kuns wêreld het sy asem opgehou, want daar was geen erfgenaam om die duur kunswerke wat etlike miljoene werd was te erf nie. Uiteindelik kom die afkondiging dat die kunswerke per vendusie verkoop sou word.

Nodeloos om te sê het die wêreld se kuns meesters op die huis toegesak. Niemand wou die kans om van die duur skilderye in die hande te kry, misloop nie. Daar was kunswerke van Picasso, Van Gogh, Rembrandt, Raphael, Monet en nog baie meer. Kuns kenners het hulle hande saam gevryf en onderduims geglimlag!

Die dag van die vendusie staan die afslaer langs sy podium en hou die potlood skets van die seun in die lug. Die potlood skets het deur die jare oud en lelik geword… Hy sê dat volgens die bepalings van die testament moet hierdie “kunswerk” eerste verkoop word, maar niemand wil ‘n bod indien op die ou lelike skets nie. Die afslaer begin by R100, later R50 en daarna R20, maar nie een van die wêreld beroemde kunskenners wil ‘n bod insit nie. Een brom onderlangs dat hulle die potlood skets moet weggooi sodat hulle by die werklike doel van die vendusie kan kom! ‘n Paar beaam die stelling, maar die afslaer hou voet by stuk. Hierdie “kunswerk” moet eerste verkoop woord!

Agter uit die saal kom daar skielik ‘n stem wat sê: “Ek het net R10 by my, maar ek sal die skets vat.” Die stem behoort aan die soldaat wat jare gelede die skets vir die pa gegee het. Die kuns versamelaars glimlag breed, want nou kan die vendusie voortgaan! “Gee die skets vir hom,” por ‘n paar aan, maar die afslaer is regverdig. Hy maak eers seker dat daar niemand is wat ‘n hoër bod wil insit nie.

Nadat die hamer geval het, begin die afslaer om sy goed op te pak. Die kuns versamelaars kyk hom verslae aan. Wat gaan dan nou aan? Wanneer kan ons die regte kunswerke koop, wil almal weet. Die vendusie is verby, antwoord die afslaer. Die bepalings van die testament bepaal dat wie ook al die seun vat, alles kry!

Liewe lesers: JESUS, die Seun van God die Vader het gesterf vir my en jou sodat ons gered kan word en alles kan erf! Ons sondeskuld is ten volle betaal. Al wat ons moet doen is om op ons knieë te gaan; te erken dat ons sondaars is en vir Jesus te vra om vir ons een van Sy kinders te maak. Dis so maklik! Met daardie gebaar sal ons die ewige lewe erf en alles kry! Wie van julle wat hierdie lees het al die Seun gevat en alles ge-erf? As daar enige iemand is wat nog nie die stap gedoen het nie, moet dan nie uitstel nie. Die tyd is min…

Prys die HERE!

(Visited 87 times, 1 visits today)