Hierdie is die kritiese uur

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

“Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.” (Jakobus 1:2-3)

Baie van julle sal voel dat julle uitermatig versoek word of dat dinge net nie wil reg loop nie! Die HERE wil hê dat julle moet weet dat al Sy Kinders op hierdie oomblik swaar kry. Almal help op die oomblik dra aan die Kruis van die HERE!

Die rede is omdat hierdie die kritiese punt vir die mensdom is. Die punt waar daar besluit moet word om om te draai of voort te gaan. Weet dit, liewe leser, dat Jesus met elkeen van ons is en Hy sien wat jy deurgaan vir Sy Naam en Saak!

Dis ons opofferinge wat op die oomblik alles aanmekaar hou. Ons gebede, finansiële opofferings, verhoudings probleme, selfs ons siektes, ongerief, vervolginge, ongeregtighede – absoluut alles word opgekommandeer om te stop wat aan die kom is. Ons is aktief besig om satan se woede oor hierdie wêreld terug te hou.

Jesus vra dat ons asseblief nie moet kla nie. Offer alles wat met jou gebeur in dankbaarheid aan Hom. Wees dankbaar dat oorlog nog nie uitgebreek het nie. Wees dankbaar dat ons nog ‘n kans het om die vyand te verslaan. Wees dankbaar dat ons nog medisyne het om onsself mee te kan genees, kos het om te eet, water om te drink, klere om aan te trek, ‘n bed om op te slaap en troeteldiere om ons op te beur.

Wees dankbaar, want satan wil alles wat goed en onskuldig is vernietig en elke bietjie hoop, liefde en ordentlikheid wat in die mens oor is van die Aarde af vee! Jesus wil hê dat julle moet weet dat dit wat ons nou deurgaan niks is in vergelyking met wat dit kon gewees het nie. Wees bly dat ons iets het om vir Jesus te offer, want danksy ons opofferinge, is Jesus besig om in te tree by God die Vader vir ons. Moet dus nie moeg of moedeloos raak nie, maar dank eerder dat dit moontlik is om nog steeds terug te kan hou.

Dra jou kruis wetende dat jy in die bresse staan saam met Jesus en wees dankbaar dat ons nog die vermoë het om ‘n verskil te kan maak!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 25 times, 1 visits today)