Baie van ons mis die groot geleenthede om deurbrake te maak en sodoende by ons hoër roeping uit te kom.
Dis altyd ‘n lang en uitputtende stryd om deur die vuil water van die moeras te sukkel net om by die skoon water van die meer te kan uitkom. Die goeie nuus is dat Jesus hierdie vir ons wil opklaar en as ons gehoorsaam is, dan gaan ons groot veranderinge sien in ons produktiwiteit vir die Koningryk van die Hemel en dit sluit ook ons families in!
Jesus laat toe dat satan ons aanval, maar dis nie moedswillig nie. Jesus laat toe dat satan ons aanval om te verseker dat daar ‘n verandering in ons lewens kom. Dit kan enige iets wees wat Jesus uit ons lewens wil verwyder wat hierdie veranderinge nodig maak.
Ons is tog almal trots op dit wat ons vermag, maar as daardie trots omsit in selfverheerliking, dan sit ons met ‘n baie groot probleem! Party se trots word baie diep weggesteek en sommige is selfs nie eers bewus dat dit daar is nie, maar dit kom uit as hulle hulle humeure verloor en kwaad word. Dan begin ons kla teenoor God soos die ou Israeliete gedoen het. Dit is juis dit wat Jesus uit ons lewens probeer uithaal en dis waarom Hy regstelling in die vorm van versoekinge deur satan toelaat.
Trots is ‘n baie gevaarlike sonde; selfs nog meer gevaarlik as ons nie daarvan bewus is nie of dit nie raaksien nie. Ons eer Jesus met ons lippe, maar ons hart is ver van Hom af. Elke oggend wag Jesus vir ons om met Hom te praat, maar daar is altyd daardie ander “belangriker” dinge wat eerste gedoen moet word. Jesus wil hê dat dit moet stop! Kyk ‘n bietjie wat ‘n persoon met sy tyd doen en jy sal weet waar sy hart lê. Jesus wil nie meer met net die helfte tevrede wees nie. Hy soek jou geheel en al vir Hom! Prys Sy Naam!
Ons maak byvoorbeeld eers ons huise skoon voor ons gaan bid of ons sorg heel eerste dat ons gesin uitgesorteer is. Daardeur laat ons vir Jesus wag totdat ons tyd het vir Hom… Dis soos ‘n koning wat per skip gekom het om sy bruid te kom haal, maar sy bruid het rusteloos geword en gaan inkopies doen vir iets anders om aan te trek. Intussen het die koning opgedaag en sy bruid was nie daar nie.
Ons is daardie Bruid en ons laat ons Koning op soortgelyke wyse wag! Dis alles ‘n illusie, want soos jy uitstel, kry jy niks gedoen nie en is daar nog meer goed wat jou tyd verg! Intussen lei alles onder hierdie uitstel omdat ons die wêreld eerste stel! So jaag ons die hele dag ons stert en kom niks klaar of afgehandel nie.
Jesus wil eerste in ons lewens wees, na liggaamlike funksies soos om badkamer toe te gaan en iets ligs om te eet. Die hond kan wag; die eposse kan wag. Alles anders kan wag, want Jesus wil eerste in ons lewens wees. As ons dit begin doen, gaan ons sien hoe Jesus omstandighede in ons lewens verander! Alles sal dan in die regte volgorde val en sal dit nie vir ons nodig wees om die hele dag lank ons stert rond te jaag nie. Jou huis en die skoonmaak daarvan kom laaste; nooit eerste nie.
Dis ook sleg vir ons gesondheid om wêreldse dinge eerste te wil stel omdat ons onder konstante druk is om klaar te kry sodat ons tyd saam met Jesus kan spandeer! Jou bloeddruk skiet die hoogte in as gevolg daarvan en die stres vreet jou op! Jy raak ongeduldig en so beïnvloed jy almal om jou op ‘n negatiewe wyse. Alles verniet!
Ons word verblind deur die materialistiese sy van ons lewens wat alles altyd in orde wil hê. Gepraat van materialisties: Jesus gee baie keer vir ons die vermoë om die duur en beter dinge in die lewe te kan bekostig, maar dan kom satan en vertel vir ons dat ons die geld eerder op iemand moes gespandeer het wat dit nie breed het nie. Dis vals skuldgevoelens daardie, want Jesus gee vir ons net die beste. Waarom dan sal ons met tweede beste tevrede wees?
Baie van ons is ouers en leiers en ons het geliefdes wat ons voor moet bid. As ons vir Jesus eerste stel en vir ons geliefdes bid, sal Jesus hulle oplig en beskerm en sal Hy aan al ons daaglikse behoeftes voorsien. Daar is niks in die wêreld so belangrik soos daardie eerste oggend gebed nie! Maak nie saak hoe jy voel nie, dis jou gehoorsaamheid aan hierdie een taak wat Jesus sal seën en dit sal vir jou baie vrug voortbring!
Dit is Jesus se wens vir jou: stel Hom eerste en die wêreld en alles wat daarmee gepaard gaan tweede en jy sal daarna niks half-hartig hoef te doen nie.
Daar is ‘n spreekwoord wat sê dat ons net kan regmaak as ons weet wat stukkend is. Nou weet julle wat stukkend is; maak dit dus reg en kyk wat gebeur!
Ek kan nie genoeg aan julle oordra hoe oneindig baie lief Jesus ons het nie. Moet dus nie wat ek hier skrywe as ‘n straf beskou nie, want dit is nie. Dis omdat Jesus ons so baie lief het dat Hy hierdie dinge opbring sodat ons bewus moet wees daarvan en werk daarvan kan maak. Hy het ons samewerking nodig! Ons mis oneindig baie deurbrake deur ons ongehoorsaamheid en omdat ons prioriteite verkeerd is. Ons is veronderstel om van beter te weet deur nie die wêreld eerste te stel nie. Nou gaan ons dit reg doen: Jesus eerste en wêreld tweede!
Prys die Naam van die Koning!