Baie mense dink dat as hulle Christus ken, hulle outomaties weggeraap gaan word die dag as dit gebeur. Op soortgelyke wyse dink baie ook dat as hulle tot bekering gekom het, hulle weggeraap gaan word.
Hierdie is die boodskap wat is sovele kerke verkondig word: bid-hierdie-gebed-en-alles-is-skielik-outomaties-reg, maar daar word vergeet van die werke en dat ons aan Christus moet behoort. Gevolglik kom baie mense tot bekering, maar hulle wys nooit die werke nie en hulle behoort nooit aan Christus nie. Hulle ken die HERE slegs by naam! So word daar ‘n verwagting by mense geskep dat hulle gereed is vir die wegraping, maar in der waarheid is dit glad nie so nie!
Kom ons kyk na stap een om te verseker dat jy gereed gaan wees vir die wegraping. Ons gaan kyk na wie waardig gaan wees om weggeraap te word en dit vind ons in 1 Korintiërs 15:22-23 “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.”
Let veral op na die woorde die wat aan Christus behoort en onthou dit asseblief vir my. Wat moet ‘n mens doen om aan iemand te behoort? Behoort jou vriende wat jou ken aan jou? Natuurlik nie, want hulle ken jou net. Behoort iemand vir wie jy lief is aan jou? Baie beslis ja, want jy is lief vir daardie persoon en jy sal deur vuur stap vir daardie persoon! Sien julle die verskil?
Nou kom ons by die vraag: ken jy die HERE of behoort jy aan Hom? Baie mense ken die HERE. Hulle gaan gereeld kerk toe, bid vir die wat siek is, gee vir die armes, lewe ‘n goeie lewe, pla niemand nie; in kort, hulle is goeie mense. Hierdie mense ken die HERE, maar hulle behoort nie aan Hom nie.
In Mattheus 7:21-23 sê die Jesus vir ons die volgende oor hierdie groep mense: “[21] Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. [22] Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? [23] En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”
Let vir my op na die woorde hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.
Nou gaan ons weer terug na punt een. As jy lief is vir iemand en jy behoort aan daardie persoon, sal jy nie daardie persoon wil gelukkig sien nie? Sal jy nie alles in jou vermoeë doen vir daardie persoon nie? Natuurlik sal jy! As jy dus aan Jesus behoort, dan sal jy outomaties die Wil van die Vader wil doen! Begin julle die verskille sien teenoor die wat net die HERE ken en die wat aan Hom behoort?
Begin julle nou vertaan wat nodig is om weggeraap te word? Om te sê dat jy Christus ken en te glo in Hom, gaan jou nie red nie! Jy moet aan Christus behoort en jy moet die wil van die Vader doen! Prys die Naam van Jesus!
Hokaai! Wag ‘n bietjie! Wat is die Wil van die Vader? Die Wil van die Vader word vir ons gegee in Matheus 22:37-39 “[37] En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. [38] Dit is die eerste en groot gebod. [39] En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
In Lukas 6:46 sê Jesus: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” en in Johannes 14:15 sê Hy ook: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” In Johannes 15:10 sê Jesus verder: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.”
Begin julle verstaan wat nodig is? Jesus sê vir ons, dat as ons Sy gebooie bewaar, dan kom ons alles na wat Hy ons beveel het om te doen, want aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en alles wat die Profete gesê het! Is dit nie wonderlik nie? As jy dus die HERE lief het, aan Hom behoort, die Wil van die Vader doen en Sy gebooie bewaar, dan sal jy alles reg doen! Dan sal jy geen kommer hê dat jy ooit agter sal bly nie! Jou werke sal getuig daarvan dat jy aan Hom behoort en dat Hy binne in jou leef!
Kom ons kyk na die werke van ‘n Christen, wat sal getuig dat jy aan die HERE behoort.
- Liefdevol (Joh 13:35)
- Barmhartig (Mat 25:35-40; Luk 10:33)
- Diens Georiënteer (Mat 23:11)
- Opoffering (Mat 19:21)
- Gee in oorvloed (Mat 5:42; Luk 3:11)
- Genade (Mat 5:7; 18:33)
- Lankmoedigheid (Mat 5:41)
- Geduldig (Luk 8:15; 2 Pet 1:6; Openbaring 2:2-3; 19)
- Vredeliewend (Mat 5:9)
- Vergewend (Mat 18:21, 35; )
- Getrouheid (Mat 5:27-32)
- Gee gehoor aan die Woord (Mat 7:24-27)
- Sagmoedig (Mat 5:5, 22)
- Nederig (Mat 18:1-4; 23:12)
- Vertroue (Mat 6:25-34; Luk 12:21-24)
- Moreel (Mat 15:19-20)
- Integriteit (Mat 5:33-37)
- Gebed (Mat 6:5)
- Vas (Mat 6:16-18; 9:15)
- Waarde aan God se Woord (Luk 8:21; Mat 10:40-42)
- Nie Materialisties nie (Mat 6:19-21; Openb 3:17; Luk 12:15)
- Nie Oordeel nie (Mat 7:1-5)
- Nie Selfregverdig of Hippokraties nie (Mat 24:51; 6:2, 5, 16; 23:13-29)
Moenie afgesit word deur hierdie lang lys nie. Soos ek vroeër genoem het, het Jesus het vir ons twee gebooie gegee waarvolgens ons moet lewe. As jy die tweede gebod “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” nakom, dan sal jy outomaties al die punte wat hierbo genoem word nakom. Iemand wat sy naaste liefhet, sal nie immoreel optree nie, hy sal ook vredeliewend, liefdevol, barmhartig en nog baie meer wees. Verstaan julle?
Liewe Kind van die HERE; as jou lewe nog nie op hierdie vlak is nie, dan weet jy nou waaraan jy moet werk. Probeer jy en laat die HERE die werk in jou voltooi. Die HERE soek net daardie poging wat jy aanwend, want dit wys jou bereidwilligheid om te probeer, selfs al slaag jy nie.
Prys die wonderlike Naam van die HERE!