Die een vereiste om tot bekering te kom is om ‘n ommekeer te maak dit wil sê, jy moet afskeid neem van jou ou sondige manier van dinge doen. Ek weet dis die een vraag wat almal seker een of ander tyd vra. Hoe op aarde kry ek dit reg?
Die een ding wat ek vir julle kan belowe, is dat dit nie ‘n maklike taak is nie. Jou liggaam is gemaak uit die stof van hierdie aarde (Genesis 2:7) en daarom gebind aan die aarde. Dit sal altyd probeer om sy aardse begeertes uit te voer. Dis ‘n ewigdurende geveg tussen aardse begeertes en die gees, want die aardse liggaam met sy aardse drange sal altyd wêreldse plesier probeer aanhang. Nou sal julle seker verstaan waarom Jesus in Mattheus 16:24 gesê het “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”
Paulus sê vir ons in Romeine 6:6 dat ons die ou sondige mens moet kruisig. Galasiërs 2:20 leer vir ons dat ons die eie wil moet kruisig, want dis nie meer ons wat lewe nie, maar die HERE binne in ons. Galasiërs 5:24 leer vir ons dat ons die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede moet kruisig. Laastens in Galasiërs 6:14 lees ons dat as Christene, ons dood is vir die wêreld en sy begeerlikhede.
Om hierdie dinge te lees is maklik, maar om dit toe te pas is ‘n perd van ‘n totale ander kleur! Baie van julle sal vra; maar hoe? Ek kan julle net uit persoonlike ondervinding leer.
Ek is amper 40 jaar al ‘n Kind van die Koning en ek kan met alle eerlikheid sê dat die pad wat ek tot nou toe gestap het geen maklike een was nie! Julle moet verstaan dat die HERE met elkeen van ons ‘n ander pad loop. Elkeen van ons se ondervinding met die HERE is daarom anders. Partykeer laat die HERE toe dat jy die doel sien waarom sekere dinge met jou gebeur, maar in die meeste gevalle weet ons nie wat agter die skerms gebeur nie. Dis soos Paulus in 1 Korintiërs 13:12 sê “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel.” Ons probeer ons bes om sin te maak van hierdie raaisel, maar baie keer dan bly dit net dit: ‘n raaisel. Paulus gee ons darem hoop later in die vers deur te sê “Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”
Ek gaan geen doekies met julle omdraai nie! Jy gaan sukkel om al die verkeerde dinge uit jou lewe uitgewerk te kry en dit gaan jare vat. Partykeer slaag jy nooit werklik daarin om al die verkeerde goed uitgeroei te kry nie. Dis frustrerend, ek weet, want ons almal wil graag perfek wees voor die HERE. Ek het op meer as eenkeer soos ‘n stuk gemors gevoel wat net kan sondig! Dis satan wat vir jou hierdie stories wysmaak. Moenie daarna luister nie!
Die HERE laat verder toe dat satan ons aanval. Baie keer is dit om ons nederig te hou, want die HERE heg meer waarde aan nederigheid as aan enige iets anders! Die poging wat jy aanwend om ‘n heilige leefstyl te volg tel net so baie! Moet dus nie te hard op jouself wees nie. Iemand het eenslag vir my hierdie gedeelte gestuur en ek gaan dit vir julle hier pos.
Ons is Christene. Ons struikel en ons val en ons bly alewig op die verkeerde pad. Maar God werk in ons. My lewe mag miskien in my oë een groot gemors wees, maar ek is God se gemors en Hy is besig om hierdie gemors uit te sorteer! Die dag gaan kom wat ek aan die Here se sy sal staan; Sy werk in my volbring! Tot daardie dag kom, sal ek Sy hand in myne vat en Hom toe laat om te doen wat gedoen moet word, maak nie saak hoe pynlik dit vir my mag wees nie, want ek weet dat as Hy klaar is, dit alles die moeite werd sal wees!
Sterkte aan al my jong broers en susters in die HERE. Die pad wat jy begin stap het gaan op die ou einde die moeite oor en oor werd wees! Hou net aan met stap saam met die HERE, selfs al verstaan jy nie altyd nie!
Prys die Naam van die HERE!