Hoe kry ek my lewe reg?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Hierdie is ‘n vraag wat ek taamlik gereeld kry, want iets in ons almal sê vir ons dat die einde naby is en dat die tyd min is…

Daar is drie dinge wat miskien nie aan u verduidelik is toe u die stap geneem het om ‘n Kind van die HERE te word nie. Die leraar het gepreek, die uitnodiging het gekom en die HERE het gepraat. Dis soos dit vir my was.

Hierdie drie dinge wat elke Christen moet nakom is as volg:

  • Sonde-oortuiging – Jy moet besef dat jy ‘n Sondaar is.
  • Sonde berou – Jy moet berou hê oor jou sonde en alles wat jy gedoen het.
  • Ommekeer – Jy moet afskeid neem van sonde en OPHOU om sonde te pleeg,

Stap een en twee doen jy outomaties as jy op jou knieë voor die HERE afsak en om vergifnis vra. Dis die maklike deel, maar stap drie is die probleem…

Ek wens daar was ‘n druk-hierdie-knoppie-en-alles-is-onmiddellik-reg oplossing, maar dis ongelukkig nie so nie. Hierdie omkeer gedeelte wat jy doen is ‘n kursus in Heiligmaking in die HERE se klaskamer en die lesse is swaar en moeilik om te leer! Die HERE belowe nêrens is die Bybel dat dit maklik gaan wees nie, maar Hy belowe wel dat die beloning meer as sal opmaak vir alles wat ons nou deurgaan! Dus, liewe leser, hou aan met stap! Moet nooit gaan sit en moed opgee nie!

Onthou dat niks wat jy gaan doen jy ooit op jou eie gaan doen nie. Die HERE wil ook nie hê dat jy enige iets op jou eie moet doen nie, maar eerder alles saam met Hom. Dis tog immers ‘n pad wat ons saam met die HERE stap, is dit nie? Dis ook waarom die HERE vir ons die Heilige Gees gestuur het as trooster; naamlik om ons te help en by te staan.

Jou eerste stap moet wees om skoon te maak. Daarvoor gaan jy ‘n stil plek nodig hê waar jy nie gesteur gaan word nie. ‘n Badkamer, toilet of selfs jou huis se motorhuis is perfekte plekke om ‘n bietjie alleen te wees. Jy sal weet watter plek vir jou die beste is. Roep die HERE aan en sê vir Hom presies wat dit is wat jy verlang. Hy weet dit klaar, maar vertel Hom nogtans. Vra nou die Heilige Gees om aan jou uit te wys wat verkeerd is en laat jou gedagtes dan gaan. Jy gaan nie lank wag voor die Gees aan jou gaan uitwys wat alles pla nie.

Ja, ek weet… Die Heilige Gees! Waarom die Heilige Gees. Julle weet, hierdie was vir my ook ‘n struikelblok aan die begin toe ek dit die eerste keer gehoor het. Soos die HERE dit aan my verduidelik het is dit Sy Heilige Gees wat in jou woon. Jou liggaam is Sy Tempel, dus wie sal in ‘n beter posisie wees om aan jou uit te wys wat stukkend is en wat reggemaak moet word as juis die Gees? Verstaan julle nou?

As jy die Gees vra om aan jou uit te wys wat stukkend is en wat reggemaak moet word, wees gereed om geskok te word. Jy gaan skielik onthou van sonde wat baie lank gelede gebeur het. Iets wat jy al van vergeet het of iets wat jy op daardie stadium miskien nie gedink het verkeerd was nie. Dis die goed wat reggemaak moet word by die HERE en dis die eerste stap en jy hoef dit nie net eenkeer te doen nie. Hou aan tot jy voel dat alles nou reggemaak is. Jy gaan instinktief weet wanneer alles reggemaak is, want daar gaan niks meer wees vir die Gees om uit te wys nie.

Stap twee gaan wees om jou te weerhou van gewoonte sonde. Dis seker die moeilikste gedeelte, want ons is vlekkelose siele van die HERE wat in ‘n sondige aardse liggaam vasgevang is. Jy gaan die res van jou tyd op aarde spandeer om jou te weerhou van sonde. Jy gaan val en jy gaan weer opstaan! Moet net nie bly lê as jy geval het nie. Die HERE gaan ook vir satan toelaat om jou te versoek. Dis wanneer die HERE jou gaan toets om te kyk of jy gereed is om te styg na die volgend vlak van Heiligmaking. Onthou wat ek gesê het van die klaskamer? Nou sal julle verstaan.

Soos jy deur die range vorder, gaan die lesse al hoe moeiliker word, maar so gaan die beloning ook al hoe groter word! As ek byvoorbeeld nou terugkyk na die dinge waarmee ek gesukkel het toe ek begin het, dan is dit vir my vreemd dat ek in die eerste plek daarmee gesukkel het! Satan versoek my ook nie meer daarmee nie, want hy weet dat dit doelloos gaan wees om te probeer. Met julle gaan dit ook so wees. Jy gaan later vind dat jy byvoorbeeld nie meer die begeerte het om iets te wil steel nie. Jy gaan minder vloek, jy gaan meer eerlik wees en jy gaan ook meer die waarheid praat.

Nederigheid en om ander se belange bo jou eie te stel is die sleutel tot sukses om jou gereed te kry vir die Hemel. Hier op aarde word jy geleer om te presteer en te baklei om bo te kom. In die Hemel is dit net die teenoorgestelde. In die Hemel gaan dit nie oor die individu nie, maar dit gaan daaroor dat die werk gedoen moet word. Indien ‘n taak afgehandel word, dan is almal saam bly, maak nie saak hoe groot of hoe klein die rol was wat wie ook al daarin gespeel het nie. Dit wat die HERE gevra het, is gedoen en dis wat belangrik is! Dis waarom nederigheid so belangrik is vir die HERE, want as jy nou daardie konsep kan leer, dan gaan dit vir jou baie makliker wees om in die Hemel aan te pas.

Julle moet ook weet dat sekere sondes by jou gaan bly en die HERE gaan dit toelaat. Ek gaan vir Paulus as ‘n voorbeeld vat. Paulus was natuurlik eers Saulus genoem en om dit te verstaan moet ons teruggaan in die Bybel om te kyk wie Saulus was. Saulus was ‘n slim en geleerde man wat in hoë aansien onder die Hoë Priester, die skrifgeleerdes en die Fariseërs was. Hy was ‘n man wat dinge gedoen kon kry en toe hy dit op sy eie geneem het om die Christene te vervolg, het hy sonder moeite toestemmings briewe van die Joodse Kerk gekry met vrymag om te kan doen wat hy goed dink. Dit was Saulus; ‘n wrede man wat net aan homself gedink het en hoe hy die situasie kon gebruik om homself te bevorder. Mense was bang vir hom en met goeie rede, want hy het die Christene met ‘n yster hand vervolg; hulle uit die kerke aan hulle hare uitgesleep, hulle laat slaan, met klippe laat dood gooi, in die gevangenisse laat werp en allerhande ander wrede dinge met hulle laat doen.

Paulus was die teenoorgestelde van wat Saulus was. Saulus het op die pad na Damaskus gesterf en Paulus is gebore, maar Saulus was nie dood nie. Hy was nog steeds daar, maar net op die agtergrond en Paulus het sy hele lewe lank baklei om vir Saulus te hou waar hy was. Die HERE het vir Paulus groot gawes gegee, maar om te sorg dat hy nederig bly, was dit sy plig om teen Saulus te baklei en om te keer dat hy nie weer word soos hy was nie.

Die HERE gaan toelaat dat dieselfde met jou gebeur, liewe Kind van God. Ons almal het ‘n donker kant. Die Bybel verwys daarna as ons vleeslike wil. Dit gaan van ons afhang of ons gaan toelaat dat daardie donker kant triomfeer of nie. Ons verstaan dit dalk nie nou nie, maar eendag sal ons. Paulus het dit self ook gesê in 1 Korintiërs 13:12 “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.” Soos julle kan sien, verstaan ons dalk nie nou alles nie, maar eendag sal ons verstaan. Hou net aan met stap, selfs al maak dinge nie nou vir jou sin nie.

Welkom in ‘n baie groter lewe! Die pad wat jy gaan begin gaan nie maklik wees nie, maar die beloning gaan baie groot wees! Hou vas aan hierdie belofte en jy sal in die HERE groei!

Prys Sy Naam!

(Visited 389 times, 1 visits today)