Dit gebeur baie selde dat ek na ander mense se boodskappe luister, maar hierdie boodskap was vir my anders, want alles wat ek die afgelope tyd aan julle verkondig het, word daarin vervat! Daar is by my geen twyfel dat dit ‘n boodskap van die HERE is nie!
Ek weet ongelukkig nie wie die boodskap geskryf het nie, maar die skrywer begin waar hy vir die HERE gevra het hoe ver is ons van die wegraping af. Die HERE het toe vir hom ‘n droom gestuur. In die droom het hy op ‘n baie nou paadjie gestaan met ‘n baie diep kloof aan die eenkant van die paadjie. Die kloof was vol onkruid en dorings en hy het gesê dat die paadjie so nou was, dat hy versigtig moes loop om nie in die kloof in te val nie. In die kloof was daar groen slange wat die hele tyd probeer het om tot in die paadjie te seil waar hy geloop het.
Terwyl hy sukkelende geloop het om op die paadjie te bly, het een van die slange dit reggekry om op die paadjie agter hom op te seil. (1 Petrus 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”) Hy het dadelik ‘n stok gegryp en na die slang geslaan. Elke slag as hy na die slang geslaan het, dan het die slang geretireer. (Lukas 10:19 “Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.”) So het hy vorentoe bly beweeg terwyl hy die aanvalle van die slang afgeweer het. Maar die konsentrasie om op die pad te bly en om die aanvalle van die slang af te weer het sy tol begin eis en hy het begin moeg word.
Nie ver met die paadjie aan nie, het hy ‘n glasmuur gesien. Hy het geweet dat as hy dit tot daar kan maak, hy gered sal wees en so het hy dan aanbeweeg terwyl die slang hom gevolg het. Die aanvalle van die slang het egter meer doelgerig word soos hy nader aan die muur gekom het. (Efesiërs 6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”) Dit was nou vir hom nodig om die slang fisies met die stok te slaan. Hy het die slang herhaaldelik hard geslaan, maar die slang het net aangehou om hom aan te val. (2 Timoteus 1:7 “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.”) Hy was later so moeg dat dit al sy inspanning gekos het net om verder te kon beweeg.
Toe hy by die muur kom, was die muur dof en kon hy nie deur die glas sien nie, maar daar het ‘n rankplant oor die muur gegroei met ‘n dik stam. Hy het geweet dat hy oor die muur moes klim, maar hy was te moeg om op te klim. Hy het gebid en gevra: “HERE, help my, want ek kan dit nie op my eie doen nie.” Onmiddellik het hy gevoel hoe hy krag kry en hy het begin klim. Die slang het tot onder die muur geseil, maar het hom nie verder gevolg nie. Toe hy bo op die muur kom, was hy oorstelp van vreugde en dis waar hy wakker geskrik get.
Die nou paadjie stel die pad van die lewe voor en die diep kloof met die onkruid en die dorings, stel die wêreld voor. Die slange stel demone voor en hulle poog gedurig om ons van die pad van die lewe af te trek terug in die wêreld met sy onkruid en dorings in. Dis waarom almal wat op die pad van die lewe is aangeval word. Die paadjie is baie nou, want om die nou pad te bewandel is nie maklik nie. Jy moet konsentreer op wat jy doen om te keer dat jy nie terugval in die wêreld in nie.
Satan val die Kinders van die HERE op hierdie oomblik direk aan. Ons moet op die nou pad bly en hom weg hou deur hom met die stok te slaan. Dit gaan ons moeg maak, maar as ons bid dat die HERE ons moet help, omdat ons dit nie self kan doen nie, sal ons gehelp word. Die HERE het op geleentheid gesê dat ons teen satan met die een hand moet baklei terwyl ons ons vingers in die damwal moet hou sodat dit nie moet bars nie. Dis waar ons nou op die lewenspad is.
As ons dit in konteks net die droom plaas, dan is dit nie moeilik om uit te werk waar ons op die lewenspad is en hoe naby die wegraping is nie.
Die glasmuur met die rankplant oor is die laaste gedeelte net voor die wegraping. Dit gaan al die krag wat hy het vat om net teen die muur uit te klim, maar as jy bid en vra vir krag, sal dit aan jou gegee word.
Dus, liewe leser, ons tyd is baie min. Satan se aanvalle gaan meer en meer word hoe nade ons aan die einde kom. Sy uitsluitlike doel is om jou terug te trek in die wêreld sodat jy die wegraping moet mis en agterbly waar hy direkte beheer oor jou gaan hê! Pasop daarvoor!
Om op die nou pad te bly is nie maklik nie. Soos jy vorder gaan die aanvalle meer direk word en dit gaan vir jou nodig wees om hom fisies af te weer met meer en meer gebed. Dit gaan al die krag wat jy het gebruik, maar weet dat die HERE gereed staan om jou te verfris met nuwe krag. Hou uit en hou aan! Ons is amper daar. Hou aan baklei en bly sterk deur gebed! Die einde is in sig!
Prys die Naam van Jesus!