Hoe om Jesus in beheer te stel

Iemand het eenslag vir my gevra dat as jy vir Jesus gevra het om te help, hoe hou jy jou neus daaruit om te voorkom dat jy dit self wil doen?

Ek moet sê dat hierdie ‘n baie interessante vraag is, want ons is mense en mense is van nature so dat hulle altyd in beheer wil wees van alles. Die geheim is om vir Jesus in beheer te sit en Hom in beheer te hou, selfs al twyfel jy. Ek gaan nie met julle doekies omdraai nie; dis glad nie so maklik soos dit nie. Dit vat baie self beheersing en baie geduld om op Jesus te wag, want Jesus se tyd is nie ons tyd nie. Soms vra ons vir iets wat vir ons baie maklik lyk om te doen, maar ons besef nie altyd net hoe baie dinge vooraf moet gebeur om daardie een versoek te laat bewaarheid nie. Soms moet mense se uitkyk op die lewe verander word om ‘n versoek te volbring en om dit te laat werk is ‘n perd van ‘n geheel en ander kleur daardie!

Vir die wat slaag daarin om vir Jesus in beheer te sit en in beheer te hou; vir hulle wag daar ‘n lewe sonder ‘n enkele bekommernis. Ons is almal so; ons doen dinge op ons eie voorspelbare manier. Altyd die selfde oplossings vir die dieselfde probleme; solank ons net in beheer bly, maak as jy daardie beheer oorgee aan Jesus, dan begin jy werklik te lewe!

Soms vat Jesus jou oor rotsagtige plekke of reg langs ‘n baie diep afgrond af waar die grond bietjies vir bietjies onder jou voete uitskuif, maar stelselmatig leer jy dat Jesus weet wat Hy doen selfs al kan jy nie die oplossing dadelik sien nie. Stelselmatig leer jy om Jesus te vertrou. Soos hierdie vertroue in Jesus groei, leer jy om jou ondervinding met ander te deel. Hoe meer jy deel, hoe meer kry jy om te wil deel! Daar is net nooit ‘n tekort aan goed om met ander te deel nie. Mense gaan dink dat jy snaaks is, nie lekker in die kop nie of selfs totaal stapel gek. Laat hulle dink wat hulle wil! Dis wat Jesus dink wat saak maak en nie wat mense dink nie!

Jesus hou almal van ons se hande vas en Hy wil baie graag hê dat jy jou hele lewe en alles wat daarin is met Hom moet deel, maar Hy forseer jy nie om dit te doen nie. Die spoed waarteen jy laat gaan en die spoed waarteen jy leer is vir jou om te besluit. Sommige leer vinnig en ander stadiger. Wees dus geduldig met jou vordering. Onthou dat Jesus jou nooit sal dwing in enige iets in waarin jy nie wil gaan nie of waarvoor jy nie gereed is nie.

Ek wil afsluit met hierdie baie bekende gedeelte in Mattheus 11:28-30 [28]  Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. [29]  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; [30]  want my juk is sag en my las is lig.”

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 68 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .