Skaam om te bid

Ek het na een van “Elevation Worship” se liedjies op YouTube geluister, “Talking to Jesus” en skielik besef hoe skaam sommige is om te bid…

Die liedjie begin waar die skrywer vertel hoe hy sy ouma gehoor het met Jesus praat, maar dit het meer vir hom na ‘n gemompel geklink as enige iets anders. Sy ouma het eendag vir hom gesê dat hy dit moet probeer, maar hy was te skaam. Daarna het sy ma met Jesus begin praat en begin om hom elke Sondag en Woensdag kerk toe te vat. Natuurlik het hy omtrent ‘n geveg opgesit om nie te gaan nie, maar as kind het hy nie veel van ‘n keuse gehad nie.

Hierdie gedeelte het my so laat dink aan my eie ouers (albei oorlede). Hulle was wêreldlinge toe ek gebore is, maar Jesus het beide van hulle se siele op die mees wonderbaarlikste manier gered toe ek vier jaar oud was. Daarna moes ek ook gereeld kerk toe gaan, elke Sondag oggend, elke Sondag aand en elke Woensdag aand vir bid uur! Natuurlik het ek omtrent ‘n geveg opgesit daaroor, maar niks het ooit gewerk nie! Kerk toe gaan sal jy en dis die einde daarvan!

Jare later sou ek besef dat dit die oomblik is waar my eie pad met Jesus begin het. Vir baie jare wou ek nie met Jesus praat nie omdat ek bang was. Later het ek gedink dat Jesus nie belang sal stel in dit wat ek wil sê nie. Hy is tog immers God wat op ‘n groot Wit Troon sit en ek is net ‘n mens wat kleiner as ‘n stof korreltjie was. So het ek een verskoning op die ander uitgedink om nie met Jesus te praat nie.

Eendag en ek weet nou nog nie hoe nie, het ek my vrese oorwin en so met Jesus begin gesels. Eers was ons geselsies kort en in die vorm van ‘n gebed soos die Onse Vader, maar later het die gesprekke meer persoonlik begin word. Vandag gesels ek met Jesus asof Hy my vriend is, want dit is wat Hy is en Hy sê so in Sy Woord! (Johannes 15:14)

Julle wat skaam is moet dit ‘n slag probeer, want daar is werklik niks daaraan nie. Vertel vir Jesus wat op jou gedagtes is, maak nie saak hoe deurmekaar dit klink nie. Dit hoef nie ‘n mooi gebed te wees nie. Dit hoef nie ordelik te wees nie. Jesus wil baie graag jou eie stem hoor, want Hy is hou van die klank van jou stem! Praat met Jesus asof Hy jou Vader is en jy Sy kind, want dis wat jy is: Sy Kind!

Deur die jare van met Jesus praat het ek besef dat Christenskap meer is as net ‘n geloof. Dis ‘n leefstyl, maar meer as dit, dis ‘n vriendskap met God! ‘n God wat net die beste vir ons wil hê. ‘n God wat alles in die stryd sal werp om ons uit die kloue van satan uit te kry! Prys die Naam van Jesus!

Praat met Jesus! Praat met Hom soos wat jy met ‘n vriend sal praat. Jesus wag om jou stem te hoor.

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 275 times, 1 visits today)
Tagged , , , .