Eers moet die afval kom…

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek kyk nou die dag ‘n Amerikaanse program op YouTube waar hulle in 2020 ‘n steek proef gedoen het oor mense se geloof…

Die omroeper sê dat vir die eerste keer in die geskiedenis die aantal mense wat sê dat hulle Christene is onder 50% in syfer is! Die ware syfer is 45% Christene teen oor 35% mense wat erken dat hulle Ateïste is. Dit beteken dat net 20% van die mense nie ‘n besluit gemaak het in watter kampie hulle wil staan nie. Die syfer vir Ateïste was deur die jare nog nooit hoër as 15% nie, maar nou is dit.

Hierdie steekproef word elke 10 jaar gedoen en daar word gesê dat die syfer Christene elke 10 jaar sedert 1980 gekrimp het, maar nog nooit onder die 65% geval het nie. Dit beteken dat vanaf 2010 tot 2020, 20% van Christene eenvoudig moed opgegee het en nou nie meer vir Jesus wil ken nie…

Paulus skryf in 2 Tessalonisense 2:3 as volg: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf.”

Sien julle hoe die Woord van God waar word? Die afval het gekom en die mens word nou geopenbaar as ‘n sondige wese wat se eindbestemming die hel is! Jesus is die enigste manier om daardie lot vry te spring, liewe leser.

Miskien sal die van julle wat so Geestelik uitgeput is nou verstaan waarom julle so voel. Satan se mag is besig om al hoe sterker te word op aarde en julle wat so moeg voel, voel dit aan. Die rede waarom dit gebeur is omdat die aantal gebede wat opgaan voor God al hoe minder word. Ons is nou baie naby aan die punt waar die gewig op die skaal aan oorskuif van goed na sleg, maar voor dit gebeur gaan Jesus eers Sy Bruid kom haal!

Dis wat my staande hou, liewe leser! Die wete dat Jesus gaan kom om ons te red op Sy perfekte tyd! En ek hoop dat die van julle wat so moeg voel ook sal moed skep met die wete dat ons redding naby is!

Dis waar dat die donker wolke besig is om saam te trek en dat satan nou alles in die stryd werp, maar onthou dat alhoewel satan ‘n mandaat van God het om te kan doen wat hy nou doen, mag hy daardie mandaat nie oorskry nie. Satan mag jou moeg laat voel en hy mag jou aanval, maar hy mag jou nie bo jou kragte versoek nie. Onthou dit en moet dit nooit vergeet nie!

Daarom, staan op, omgord jouself en volg vir Jesus! Ons gaan nie meer lank wag nie. Dis amper tyd om die gereedskap neer te sit en op te hou werk.

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 106 times, 1 visits today)
Tagged , , .