Veertig dae in die woestyn

Veertig dae in die woestyn

HERE, ek wil bid en vra dat U ons oë sal oopmaak sodat ons sal sien dat U ons nooit alleen laat om op ons eie aan te beweeg nie, selfs al vertel satan dit vir ons. Help ons om te besef dat U altyd teenwoordig is en dat ons niks op ons eie hoef te deurstaan nie. Amen!

In Mattheus 3 lees ons hoe Jesus homself laat doop het deur Johannes die Doper. In Mattheus 4:1-2 lees ons die volgende: [1]  Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel. [2]  En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.”

Julle sien; om tot bekering te kom is stap een. Dan kom stap twee wat die doop behels en daarna kom jou veertig dae van beproewing. Ons moet geensins hierdie veertig dae van beproewing sien as ‘n straf nie, want dit is nie. Die hele idee van hierdie veertig dae is om jou gedagte gang te verander. Kom ek verduidelik. Van kleins af word ons gedagte gang geskaaf om soos ‘n wêreldling op te tree. Jy word geleer dat die enkel individue ‘n verskil kan maak. Daardie eie-ek moet van ontslae van geraak word en dis waarom die veertig dae daar is.

Toe ek op skool was, was dit die beste presteerders wat doktors en professore geword het. Dit was die beste presteerders wat die studie beurse gekry het en die hoogste posisies op skool behaal het. As jy die dag in ‘n beroep instap, dan vind jy dat dit presies dieselfde is. Alles in ons lewe gaan oor die eie-ek en om op jou eie stoom oor die weg te kom.

In die Hemel werk dit egter nie so nie, want in die Hemel gaan dit daaroor dat die werk afgehandel moet word. Die individu en so ook die prestasie van die individu beteken in die Hemel niks. As ‘n werk afgehandel word, dan is almal saam daaroor bly, maak nie saak wat se rol jy daarin gespeel het nie. Selfs die een wat die minste gedoen het word saam met die wat die meeste gedoen het vereer, want die taak wat hulle opgelê is, is met sukses afgehandel.

Nou kom ons by die doel van die veertig dae van beproewing. Die doel is nie om jou te straf nie. “Jy wil mos ‘n Christen word; kry vir jou. Daar is nog baie waar hierdie vandaan kom!” LEUENS! Moenie daarna luister nie! Nee, die doel is om jou denkrigting te verander; weg van die individu af wat op sy eie wil presteer; weg van die individu wat net aan homself dink na iemand wat meer van ander dink as van homself. Dit is die doel van die veertig dae.

Die tweede doel van die veertig dae is om te leer om die HERE eerste te stel in alles! Julle sien, voorheen het ons gedoen wat ons wil wanneer ons wil, maar nou wil die HERE hê jy moet leer om eers te vra. Satan gaan jou weerhou om hierdie een te verstaan so lank as wat hy kan. Jy gaan dinge hoor soos: “Die HERE laat jou so ‘n bietjie alleen om te kyk of jy self kan regkom…” LEUENS, LEUENS, LEUENS! Die HERE laat nie een van ons OOIT alleen nie. Nooit in der ewigheid nie! Wyk satan!

Julle sien, die HERE wil hê dat jy afhanklik moet wees van Hom soos ‘n kind afhanklik is van sy vader. Jy hoef niks ooit op jou eie te doen nie. Sjoe, dit het my lank gevat om die een te leer! Enige tyd as jy voel die kruis raak te swaar vir jou, vra dan vir hulp! Die HERE gaan nie dink jy is ‘n swakkeling as jy om hulp vra nie. Probeer dit: “HERE, ek is te swak en te klein om self oor die weg te kom. Ek het U hulp nodig!” Ek waarborg jou liewe leser, as jy hierdie vra en die uit jou hart uit bedoel, sal jy onmiddellik ‘n peloton engele tot jou beskikking hê om jou te help baklei. Jy hoef niks op jou eie te doen nie! Nooit nie! Die HERE is altyd met jou. Partykeer voor jou, partykeer langs jou en partykeer agter jou, maar jy is NOOIT alleen nie!

Die geheim is om van die illusie van beheer ontslae te raak, want nie een van ons is ooit in beheer van enige iets nie. Dis soos om op ‘n tandem fiets te ry. Ons almal wat graag in die voorste sitplek sit waar ons die stuurstang ons ons hande het en kan stuur waar ons wil wees, maar Jesus wil nie hê dat jy voor moet sit nie. Hy soek jou in die tweede sitplek waar jy geen beheer het nie en glad nie die fiets kan stuur nie. Ek weet, net om daaraan te dink maak jou bang tot in jou siel, né! Ek weet, want ek was daar!

Maar as jy eers hierdie illusie van beheer laat vaar, dan kom jy agter dat die rit agter op die fiets eintlik baie lekker is! Ek kan jou waarborg dat jy uit ‘n ander oog na die wêreld kyk daarna. Jy het skielik geen bekommernisse meer nie! Die dag van môre is dan net nog ‘n dag! Klink idillies, né? Dis presies soos dit is! Die oomblik wat jy jou klein handjie in die groot hand van die HERE sit en vir Hom sê: “HERE, ek kan nie meer nie, want ek is te swak en te klein. Wees U in beheer van nou af.” Dan begin dinge vir jou verander. Om op jou eie dinge te kan vermag maak dan nie meer saak nie!

Dit, liewe lesers, is die doel van die veertig dae van beproewing. Om alles in die Hande van die HERE te sit sonder om iets terug te hou en Hom alleen in beheer te hou!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 93 times, 1 visits today)