Hoogmoedigheid is ‘n sonde wat Jesus absoluut haat, want hoogmoed is teenstrydig aan alles wat Jesus wil hê ons moet wees.
Wat is hoogmoed? Hoogmoed is wanneer iemand dink hy is beter of meer werd as iemand anders. Hoogmoed is ook wanneer iemand dink hy of sy is ‘n beter Christen as iemand anders; iemand wat beter kan bid, want beter weerstand bied teen sonde. Mense soos dit beskou hulle as beter as ander en hulle veroordeel die wat in sonde val. Hulle is nie skaam om hulle opinies te lug nie en jy sal altyd daardie gevoel kry dat hierdie persoon dink hy is beter as die om hom. Dis hoogmoed daardie!
Jesus het in Lukas 18:10-14 vir ons die volgende gelykenis vertel. Kom ons lees dit gou.
“[10] Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. [11] En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. [12] Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. [13] En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! [14] Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.” (Lukas 18:10-14)
Ek weet dat daar van julle is wat hierdie lees wat so optree soos wat in hierdie gelykenis uitgewys word. Jesus weet dit ook en dis waarom Jesus dit so sterk op my hart gelê het om hieroor te skryf.
Liewe leser, jy moet weet dat die wegraping van die kerk op hande is. Ons leef nie meer in die laaste dae nie; ons leef in die laaste sekondes! Jesus is baie genadig met ons. Satan het toestemming gekry om die Kerk van die HERE te mag aanval en die rede daarvoor is sodat Jesus die skape van die bokke kan skei. Dis nou om ‘n skeiding te maak tussen die wat ernstig is met Jesus en die wat nie daar is vir die gratis rit. As jy ernstig is met Jesus, dan sal jy nou aandag gee en luister!
Ons is almal gelyk in die oë van die HERE. Jesus het nie gunstelinge nie! Niemand is meer regverdig as die volgende een nie. Ons is almal sondaars wat die ewige dood in die hel verdien; deur en deur! Ek weet, want ek is een van hulle! Maar God die Vader was genadig en Hy het Sy Genade gewys deur Sy eie Seun nie te spaar nie; sodat ons wat die ewige dood verdien, nie verlore mag gaan nie.
Nou as God die Vader dit gedoen het vir ons, waarom kan ons dit nie doen vir die om ons nie? Waarom kan ons die wat teen ons oortree nie vergewe soos wat Jesus ons oortredinge vergewe nie? Waarom is ons soos die Fariseër wat God dank dat hy nie soos ander is nie?
Iemand baie slimmer as ek het eendag gesê dat ons almal dieselfde lug inasem; dat ons almal rooi bloei as ons seer kry en dat ons almal net die beste vir ons kinders wil hê… Die enigste verskil is die kleur van ons vel. Ek hou van bruin suiker in my koffie terwyl die volgende persoon wit suiker verkies, maar op die ou einde van die dag maak beide die koffie soet! Waar is die verskil, behalwe in die kleur?
Liewe leser, moenie dink jy is beter as die volgende persoon nie, want ek kan jou verseker dat jy nie is nie. Jy flous jouself as jy so dink. Baie gaan die dag van die wegraping kom en sê: “Maak HERE, het ons nie in U Naam duiwels uitgedryf en siekes gesond gemaak nie?” Dan gaan Jesus antwoord: “Gaan weg van My, julle wat vir die ongeregtigheid werk; Ek het julle nooit geken nie.”
Behandel daarom almal om jou soos jy graag behandel wil word. Moenie onderskeid tref nie en moenie oordeel nie. Die oordeel kom God die Vader toe en nie vir ons as mens nie. Prys die Naam van Jesus!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën! AMEN!