Moenie sonde as niksseggend ag nie

In Lukas 16 lees ons die verhaal van die onregverdige bestuurder en hoe hy onregverdig gehandel het met sy heer se eiendom.

Ek gaan nie die hele gedeelte weer hier herhaal nie, maar die verhaal gaan daaroor dat sy heer gehoor het dat hy spandabelrig handel met sy heer se geld. Sy heer het hom toe laat kom om verslag te doen van sy bestuur sodat hy moontlik as bestuurder onthef kan word.

Die onregverdige bestuurder het geskrik, want hy het gewoond geraak aan sy werk as bestuurder. Ons lees dat hy gesê het dat hy nie harde werk meer kan doen nie en dat hy ook nie bereid is om te gaan bedel nie. Dis toe dat hy hierdie bedrieglike plan uitgedink het om bedrog te pleeg sodat dit moet lyk of hy sy werk goed doen.

Sy plan het gewerk en hy was aangesê dat hy sy werk mag behou, maar Jesus waarsku ons dat ons nie twee here kan dien nie. Daar is nie iets soos ‘n groot en ‘n klein sonde nie. Sonde is sonde en dit maak nie saak hoe klein of hoe groot die daad was nie. Sonde, maak nie saak hoe gering ook al nie, verdien die ewige dood weg van Jesus af!

Nou kom ons weer by daardie goeie mens teorie wat so baie aanhang. Die goeie mens is die een wat in sy eie oë nie sonde pleeg nie, want hy roof, steel of moor nie. Hy/Sy is daarom ‘n goeie mens, maar wat hulle nie raak sien nie, is dat leuens vertel ook ‘n sonde is; ook as jy ‘n nood leuen vertel!

Die grootte van die sonde is irrelevant. Of jy nou leuens vertel soos ‘n tande trekker en of jy nou daardie vinnige nood leuentjie indruk om iemand se gevoelens te beskerm, dit maak geensins saak nie. ‘n Leuen bly ‘n leuen en die grote van die leuen het niks daarmee te doen nie. Net so bly sonde ‘n sonde. Die grote van die oortreding maak nie dat dit meer of minder verkeerd is nie.

Iemand het eenslag gesê dat dit die klein jakkalsies is wat die wingerd verniel… Julle weet, daardie persoon was reg en ek kry die gevoel dat dit die rede is vir hierdie boodskap. Baie van ons loop met klein vlekkies op ons Bruilofskleed en Jesus gee elkeen van ons nou die geleentheid om daarvan ontslae te raak voor Hy terug kom. Ek wil hê dat julle saam met my moet bid, maar ek wil hê dat elkeen van julle dit uit julle harte moet bedoel, asseblief.

“Heilige Gees, ek wil bid en vra dat as daar enige sonde in my lewe is wat ek nie van bewus is nie en ook sonde wat ek al van vergeet het, dat U dit nou aan my sal uitwys. Dit wat nou volgende in my gedagtes gaan opkom, weet ek sal dit wees wat U wil hê ek moet regmaak. Dankie Jesus vir hierdie openbaring. AMEN!”

Liewe leser, wat ook al nou in jou gedagtes op kom, maak nie saak hoe gering dit mag klink nie; maak dit reg by Jesus. Hy staan gereed om jou te vergewe. Hy WIL jou vergewe en dit wat verkeerd is met Sy Bloed bedek sodat dit nie meer tussen julle sal staan nie. Die Gees het op hierdie manier al sonde aan my uitgewys wat ek van vergeet het en ek het dit reggemaak voor Jesus. Dit staan nou nie meer in die pad tussen my en Jesus nie. Jy het nou dieselfde geleentheid. Gebruik dit asseblief.

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 89 times, 1 visits today)
Tagged , , , .

One Comment

  1. HOOGLIED 2:15: “Gou! Vang vir ons die jakkalse! Dit is die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, terwyl die wingerde al bot.”

Comments are closed.