Ek hoef seker vir niemand te se hoe belangrik dit is om ons bruilofskleed so skoon as moontlik te hou in hierdie laaste oomblikke nie.
Kom ons kyk na die voorbeeld wat atlete vir ons stel. Hulle sorg dat hulle gesond bly; hulle rook of drink nie en eet die regte kossoorte. In die wedloop van die lewe moet ons onsself op soortgelyke wyse van sondige gewoontes weerhou, want anders vertraag ons ons eie vordering! Hebreërs 12:1 sê: “…laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê.”
Dit moet ons doel wees liewe leser; om die wedloop van ons aardse lewens te hardloop en te oorwin; die goeie stryd te stry en te oorwin! Om dit te kan doen gaan ons vir Jesus nodig hê in elke faset van ons lewens, want daar waar ons te kort skiet, gaan ons vir Jesus nodig hê om ons oor te dra! Prys die Naam van die HERE!
Ek kan nie sonder Jesus nie. Ek het probeer en ek het gefaal en ek was nog nooit in my lewe so bly dat ek gefaal het nie, want nou het ek ‘n vriend na wie toe ek kan hardloop met alles wat in my lewe verkeerd loop. Ek hoef nie skaam te wees oor my sonde nie, want ek is ‘n mens met swakhede en ek weet dat Jesus gereed staan om my daarmee te help sodat ek vra.
Dit beteken egter nie dat enige een van ons ‘n kaartjie het om te kan sondig soos ons wil nie, want Paulus skryf in 2 Korintiërs 7:1 die volgende: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring”
Ons moet Heiligmaking nastreef, want God is Heilig! Omdat ons respek vir daardie heiligheid het, moet ons ook heiligmaking na te streef. Selfs al vaal jy, leer jy uit jou foute en moet ons weer probeer en ons moet aanhou probeer, want onthou Paulus se woorde in 1 Korintiërs 6:10 “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” Dit beteken dat as jy die wegraping gaan wil meemaak, jy skoon en sonder enige rimpel of vlek gaan moet wees.
Dit is waar dat min van ons ooit perfek is en om te dink dat ons perfek en sonder sonde is wensdenkery op sy beste is! Ons kan egter perfek berouvol wees. Dit beteken dat as jy oortree het, moenie wag tot môre omdat jy skaam is nie. Gaan dadelik na Jesus en vra vergifnis! Jesus sal nooit, ooit moeg raak vir jou nie, selfs al oortree jy aanmekaar en selfs al is dit aanmekaar dieselfde sonde. Ek kan hierdie nie genoeg beklemtoon nie, dis hoe belangrik dit is, want die poging wat jy aanwend om skoon te bly tel baie meer as wat ons ooit sal besef!
Ons nader nou die einde van die wedloop. Alles wat ons tot nou toe op aarde deurgemaak het gaan binnekort so die moeite werd wees! Al die seer spiere, ontberings, tekorte; alles gaan vergete wees as ons daardie kroon in die lug hou en besef dat dit alles so die moeite werd was! Prys die Naam van Jesus!
Ek gaan afsluit met ‘n waarskuwing. Die HERE sê in Openbaring 3:11 “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.” Doen jou uiterste bes om nie vir satan ‘n inkomplek te gee nie en as jy faal, hardloop so gou as wat jy kan na Jesus. Daardeur gaan jy seker maak dat jou klere altyd so wit is as wat dit vir jou moontlik is om te kry.
Wanneer die einde kom, moet ons soos Paulus in 2 Timoteus 4:7 kan sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.”
Mag die HERE hierdie boodskap seën! Amen!