Die gelykenis van die lamp

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Vandag wil ek die gedeelte oor die gelykenis van die lamp soos in Markus 4:21-22 met julle behandel.

[21]  En Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie? [22]  Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom.” (Markus 4:21-25)

Die eerste les wat ons uit hierdie gedeelte leer is dat daar niks is wat weggesteek word wat nie aan die lig sal kom nie. As dit nie in hierdie lewe gebeur nie, dan gaan dit in die hiernamaals gebeur, maar julle kan verseker weet dat wat ook al jy wegsteek vir die mense by God wel bekend is en dat dit wel gaan uitkom.

Die van julle wat navorsing oor julle familiegeskiedenis gedoen het sal weet hoe lief ons voorouers was om die skandes van die familie weg te steek en te begrawe! Vandag is al daardie dinge algemene kennis… Wat het dit gehelp om dit weg te steek en vir mense ‘n prentjie te skep van wat jy nie is nie? Soos Salomo gesê het: “Tevergeefs, alles tevergeefs!”

“…julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.” (Mattheus 23:27)

Ek het in my persoonlike lewe gesien wat gebeur met mense wat die verlede saam met hulle dra en net nie daarmee kan vrede maak of vergifnis uitspreek nie. Ek kan julle verseker dat dit nie die lewe is wat Jesus vir jou ingedagte het nie. Ek het hierdie volgende gesegde eenslag gehoor: “’n Mens wat geen vergewensgesindheid in sy hart het nie ly ‘n lot erger as die dood!” As ek al ooit ‘n waarheid gehoor het, dan is hierdie gesegde nou dit, want kyk net wat gebeur met iemand wat nie kan vergewe nie. Daardie persoon word bitter, swartgallig en dit raak moeilik om met hom of haar oor die weg te kom. Mense vermy daardie persoon later en hy of sy kan nie verstaan waarom nie.

Ons is gered om die lig van die lewe te wees! Sit daarom daardie lig van jou op ‘n staander sodat dit kan skyn vir die wat in die donker is sodat die wat in die donker is, aangetrek kan word na die lig toe! Prys die Naam van Jesus!

Hou op om in die verlede te leef. Die verlede hoort by die verlede net soos stof by stof behoort. Slegte dinge gebeur met mense en ons kan niks daaraan doen nie. Ons kan nie teruggaan in die tyd en gaan regmaak wat verkeerd geloop het nie. Waarom bekommer jy jou dan oor dit wat jy nie by magte is om te kan verander nie? Maak daardie oortredings los in Jesus Naam! Vergewe die wat teen jou oortree het en neem so jou plek op God se staander op en laat jou lig skyn! Prys Sy Naam!

Ek weet nie vir wie hierdie boodskap is nie, maar dis vir iemand wat hierdie gaan lees bedoel. Jesus weet van jou pyn en Hy sien wat dit aan jou doen. Jesus sê dat Hy dit alles wil wegvat, maar dan moet jy dit vir Hom gee en nie meer daaraan dink nie. Daar wag vir jou ‘n vol lewe van betekenis in Jesus as jy gehoor gaan gee, maar die keuse is joune om te maal.

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 461 times, 1 visits today)
Tagged , , , .