Wat help dit ons hoor die Woord van die HERE en ons weet wat Sy plan met ons en ons lewens is, en ons gehoorsaam Hom nie?
Om die Wil van die Vader te weet is op sigself ‘n groot genade, maar dis skadelik as ons nie daardie wil deur volg nie. Julle sal seker agtergekom het dat Jesus die laaste ruk baie lesse het wat Hy vir ons leer. Elke les is spesifiek so opgestel om ons voor te berei vir die dag wat Jesus ons gaan kom haal. Die engele in ons lewens werk in samewerking met die Gees van God om hierdie lesse uitgevoer te kry. Dis waarom julle sal vind dat jy die antwoorde kry wat jy soek op hierdie kanaal. Ons is in ‘n groot klaskamer en Jesus is ons leermeester.
In ‘n klaskamer word mense onderrig en moet jy jou huis werk doen. Jy moet ook jou toetse slaag sodat jy goed kan doen en met eervolle vermelding kan uit passeer. Daarom vra Jesus dat ons aandag moet gee, ons huis werk moet doen en Sy instruksies moet volg.
As Jesus praat van gehoorsaamheid dan word daar nie van jou verwag om enige iets teen jou geloof te doen om gehoorsaam te wees nie. Daar gaan tye kom wat jy nie die in jou lewe gehoorsaam gaan kan wees soos jy normaalweg sou nie. Kom ek stel dit so: as jy in ‘n vreemde land ingaan, sal jy die wette van daardie land gehoorsaam wees, maar as Bybels onwettig is, dan is jy nie verplig om die wette van mense te gehoorsaam nie.
As jou wederhelfte inmeng in jou geloof en jy het alles gedoen om hom of haar tevrede te stel, maar niks werk nie, dan is jy geregtig om nie gehoor te gee nie. Selfs al sê die Bybel in Efesiërs 5:24 en 25 dat vrouens hulle mans onderdanig moet wees en dat mans hulle vroue lief moet hê. Jesus vra ons om sekere goed te doen of nie te doen nie sodat ons goeie vrugte voort moet bring, want dan is ons die lote en so bly ons in Jesus. (Johannes 15:5)
Op hierdie punt wil ek net graag onderbreek deur te sê dat ek maar net ‘n baie klein ratjie in ‘n baie groot masjien is. Ek bring wat Jesus op my hart lê om vir julle te bring, maar Hy vertel ons nie alles nie. Daar mag dalk waarskuwings uitgaan oor aardbewings, tsunami’s, noem maar op, maar as Jesus dit nie aan ons openbaar nie, sal ons nie daarvan weet nie. Daar is ‘n rede waarom Jesus sekere dinge van ons weerhou en die beste wat ons kan doen is om Sy oordeel te vertrou.
Die liggaam van Jesus bestaan uit baie lede en Jesus werk met elkeen van ons op Sy eie spesiale manier. Die einddoel is natuurlik om ons gereed te kry vir die ewigheid. Daar is baie verskillende groepe op Internet wat die Woord van Jesus bedien. Kom ons noem hulle klaskamers. Jesus het ‘n doel met elke klaskamer en elke onderwyser wat Hy in beheer gestel het. Julle wat hier by my is, is deur Jesus na my toe gestuur omdat Hy ‘n doel het daarmee. Op soortgelyke wyse stuur Hy ander mense na ander klaskamers toe of Hy neem mense van die een klaskamer en plaas hulle in ‘n ander klaskamer. Elke groep word deur Jesus geseën op Sy eie manier, maar die einddoel van elke klaskamer of groep op Internet is om Jesus se Kinders, Sy Bruid, gereed te kry vir die wegraping.
As klasleier moet ek gehoorsaam wees aan die Wil van Jesus, selfs al sê ek dinge wat julle nie van hou nie. Jesus maak ook nie alles aan my bekend nie en dit is soos dit moet wees. Die belangrikste is om gehoorsaam te wees en te doen soos Jesus vra.
Die beste is om die Woord van Jesus te toets. As jy ander kanale deurgaan vir die jongste lesse, kyk hoe dit jou op die ou end laat voel. Is jy tevrede, gefrustreerd, teleurgesteld of selfs verward? Is die aksies wat jy volgende gaan neem gemotiveer deur vrees, deur liefde of deur vrede? Hierdie dinge moet noukeurig bestudeer word om presies uit te vind na wie dit is waarna jy luister sodat jy nie op ‘n dwaalspoor beland nie.
Hierdie goed waarna jy luister of lees, gaan dit in teen die rigting waarin jou lewe beweeg of ondersteun dit die rigting waarin jy beweeg? Voel jy dat jy Jesus iewers verloor het en dat jy eintlik in ‘n heeltemal ander rigting moet beweeg? Of voel jy vrede? As die boodskap geseën is, sal die vyand alles in sy vermoë doen om die boodskap te stop deur verwarring te saai. As jy dus hierdie boodskap lees en jou aandag word gedurig aflei, weet dan dat die boodskap geseën is en dat satan jou probeer wegrokkel van jou roeping af. Wees op die uitkyk daarvoor.
Meet alles wat jy doen aan dit wat jy in jou hart weet reg is, want Jesus het daardie wete daar geplaas. Oordeel die boom aan die vrug en baseer jou besluit daarop. Dit is hoe Jesus ons in Sy Woord geleer het en dit is van toepassing op alles wat ons doen.
Jesus het ons ongelooflik baie lief, lewe lesers. Hy weerhou niks wat goed is van ons nie. Jesus het ‘n doel met ons lewens en Hy is ongelooflik trots op ons as ons die roete volg wat Hy vir ons uitgelê het. Hoe weet ons dit? Want aan die vrugte sal julle die boom ken! Prys Jesus!
Ek gaan afsluit met ‘n gedeelte in Handelinge 20:28-31 “[28] Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. [29] Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. [30] Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. [31] Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie.”
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!