Jou naaste soos jouself

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Jesus se tyd op aarde is vol van die mees wonderlikste voorbeelde vir ons om te volg; al wat ons moet doen is om dit uit te leef!

As ons begin om van naasteliefde te praat, dan staan baie mense se nekhare regop. Baie begin om hulle te verontskuldig: “ons is tog lief vir die wat net soos ons dink, is ons dan nie?” Ongelukkig, liewe leser, is dit nie waaroor naasteliefde gaan nie, maar jy is nie alleen as jy so dink nie. Die Fariseërs in Jesus se tyd het ook so gedink. In so ‘n mate dat Jesus vir hulle gesê het dat die wat gesond is nie die dokter nodig het nie!

Kom ons kyk nou na die voorbeeld wat Jesus gestel het. Hy het almal absoluut gelyk behandel: vroue, samaritane, tollenaars, straat vroue. Vir Jesus het dit nie saak gemaak wie jy is of waar jy vandaan kom nie en dit is die voorbeeld wat aan ons gegee is, liewe lesers.

Julle moet verstaan dat in Jesus se tyd, vroue geen regte gehad het nie. Sy het nie eers die reg gehad om met ‘n man te praat nie, tensy hy haar eerste aangespreek het nie! Jesus het verby dit gesien. Tollenaars was gesien as ‘n vriend van die vyand omdat hulle tol geld vir die paaie namens Rome ingevorder het en ook omdat hulle mense meer laat betaal het as wat nodig was. Jesus het verby dit gekyk en ‘n nag in Saggéüs die hoof van die tollenaars se huis deurgebring! Geen Jood sou ooit met ‘n Samaritaan praat nie. Samaritane was beskou as iets tussen ‘n mens en ‘n ding wat voetspore trap soos ‘n mens. Jesus het weer verby dit gekyk en saam met ‘n Samaritaanse vrou langs die put van Jakob gaan sit en met haar gesels! Straat vroue was ook vermy, wat hulle was te sondig, maar kyk wat het Jesus vir die straatvrou in die tempel gesê: “Ek veroordeel jou ook nie!”

As Kinders van God, verwag Jesus van ons dat ons almal gelyk en regverdig moet behandel, ongeag wie daardie persoon is. Jesus gee nie om oor die kleur van iemand se vel nie en ons behoort ook nie. Julle sien, ons almal bloei rooi as ons onsself sny. Ons almal asem dieselfde suurstof in en ons almal het ‘n welbehae in ons kinders. Met dit ingedagte, waar lê die onderskeid dan? In die kleur van iemand se vel? Ons ken nie daardie persoon se hart nie, tog wil ons hom of haar oordeel? Dit hoort nie so nie, liewe leser!

Ons mag miskien nie oordeel nie, maar ons mag beoordeel. Daarby bedoel ek dat ons voorkeure mag hê en dat jy mag sê waarvan jy hou en nie hou nie. As iets nie is soos wat ek daarvan hou nie, dan spreek ek my misnoeë daaroor uit en sê ek aan die om my dat ek nie daarvan hou nie. Jesus het dit ook gedoen toe Hy Sy misnoeë uitgespreek het oor die Fariseërs en hoe hulle die mense verkeerd lei en Hy het dit op meer as een geleentheid gedoen. Jesus het hulle nie geoordeel nie, maar Hy het vir die mense gesê dat hulle nie so moet optree nie. Dis ‘n baie fyn lyn om te stap, ek weet, maar dis nie onmoontlik nie!

Daarom, liewe lesers, weerhou julle van gesprekke waar iemand oordeel. Bly liewer stil en werp geen antwoord nie. As jy gevra word waarom jy stil bly; sê dan dat jy geen antwoord het oor die onderwerp nie of dat die onderwerp jou nie aangaan nie. Vermy om in ‘n twis betrokke te raak. Jy gaan mense kry wat jou gaan uitlok en daarop uit is om jou te laat struikel. Pasop daarvoor. Moenie betrokke raak in ligsinnige praatjies wat tot geen stigting vir niemand dien nie.

Leef jou liefde vir Jesus uit deur net soos Hy te probeer wees en mag die HERE jou seën in jou poging!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 217 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .