Die wegraping kan nie meer gekeer word nie.

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Baie van julle is bekommerd oor julle geliefdes wat gaan agterbly en sommige het selfs aangebied om agter te bly…

In die verlede het die HERE gehoor gegee en is die wegraping al ‘n paar keer in die verlede uitgestel, maar dit kan nie nou meer gedoen word nie. Dinge het nou al so ver gevorder dat dit vir ons begin gevaarlik raak om langer op hierdie aarde te kan bly en daarom kan die wegraping nie meer uitgestel word nie.

Sommige het selfs aangebied om agter te bly sodat hulle meer siele kan red, maar daardie versoek kan ook nie aan voldoen word nie. Julle sien; elke persoon is verantwoordelik vir sy eie geestelike lewe. As Kinders van die HERE kan ons raad gee en ons kan leiding gee, maar die finale keuse of daar gehoor gegee gaan word om Jesus te volg, hang van die individu self af en daardie keuse kan ons vir niemand maak nie.

Soos die spreekwoord sê, jy kan ‘n perd na die water toe bring, maar jy kan hom nie maak suip nie. In hierdie geval kan ons met mense praat en hulle die Evangelie bring, maar ons kan die keuse om Jesus te volg nie vir hulle maak of hulle forseer om dit te doen nie. Elke mens op hierdie aarde moet daardie keuse vir homself maak, selfs al is dit vir ons hoe moeilik om te aanvaar.

Vir elkeen van ons om te wil agterbly om vader, moeder, seun of dogter te wil red gaan geen doel dien nie. Boonop sê Jesus self in Mattheus 10:37-38 “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. [38] En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.”

Om te wil agterbly gaan niemand enige goed doen nie; laastens vir jou! Al wat gaan gebeur is dat jy gaan val vir die kragtige dwaling soos wat Paulus in 2 Tessalonisense 2:11-12 van beskryf: En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,  [12]  sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”

Los daarom jou geliefdes in die hande van Jesus en laat Hy met hulle werk soos Hy met elkeen van ons gewerk het om ons tot op hierdie punt te bring. Ek het ook geliefdes wat nie glo nie vir wie ek baie lief is en ek het al op meer as een geleentheid met Jesus oor hulle gepraat, want ek weet dat hulle gaan agterbly. Jesus het vir my in ‘n droom gewys wat met een van hulle gaan gebeur en vandag weet ek dat een die regte keuse gaan maak om Jesus te volg en daaroor is ek baie bly.

Wat jy kan doen is om ‘n brief vir jou geliefdes te los. Vertel hulle wat gebeur het en staaf dit met hierdie gedeelte uit Johannes 14:2-3 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. [3] En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Moenie beskuldig deur te skryf dat jy hulle gewaarsku het en dat hulle nie wou luister nie. Vertel hulle dat Jesus hulle nog steeds lief het en dat hulle nog steeds gered kan word. Vertel hulle ook dat Jesus by magte is om hulle deur hierdie sewe jaar wat volg te kan bring en hulle te beskerm as hulle gaan gehoor gee en Hom eerste gaan stel. Hy sal mense daar stel om na hulle behoeftes om te sien. Die antichris / wêreld leier gaan baie vinnig beweeg om die dier stelsel met die merk op die been te bring, maar wat hulle ook al doen, hulle mag onder geen omstandighede daardie merk vat nie. Die wat die merk vat, gaan vir altyd verlore wees en gaan nie meer gered kan word nie. Maak daardie feit baie duidelik!

Dit wat oor die aarde gaan kom, gaan skielik kom. Daar gaan ‘n Derde Wêreld Oorlog kom en ons gaan die begin daarvan sien. Baie sal doodgaan in die eerste aanval, maar Jesus sê dat ons nie moet vrees nie, want ons gaan veilig wees. Jesus sê in Sy Woord dat niks met ons sal gebeur nie, want tot die hare op ons hoofde is almal getel! Hou dus vas aan daardie woord, want dis waarheid!

Hou daarom vas aan jou kroon sodat satan nie kom om dit te steel nie! Ons tyd is amper om! Nog net ‘n klein rukkie!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 129 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .