In dankbaarheid aan Jesus

Vandag wil ek net vir Jesus dankie sê vir alles wat Hy doen; Jesus seën Sy bediening en Hy seën die wat Sy Woord tydig en ontydig bedien!

Toe ek op aandrang van iemand naby aan my met die Suiderkruis Groep op Watsapp begin het, het ek geen idee gehad tot watter hoogte dit sou groei nie. Die Suiderkruis webruimte en die nuusbrief is presies dieselfde! Maar ek verheerlik nie myself hiermee nie. Daar is net een aan wie die eer toekom en dit is Jesus Christus, Seun van die Allerhoogste God!

Later het ek die groep uitgebrei na ‘n gemeenskap op Watsapp en tans het ons verskillende groepe in hierdie gemeenskap vir almal se smaak. Ons het ‘n boodskappe groep vir die wat net die boodskappe wil ontvang; ‘n gesels groep vir alles en ons het ook ‘n gebed groep vir die wat gebed nodig het. Dankie Jesus!

Elke oggend dan lees ek die dag se vorige boodskappe wat in beide groepe gepos is. Ek is ongelukkig te besig deur die dag om die boodskappe te lees soos dit inkom, maar ek weet van elkeen van hulle. Die een ding wat uitstaan van beide groepe is hoe die Gees van die HERE deur hierdie groepe werk! Dis ‘n absolute fees om te aanskou! Jesus verander mense  se lewens voor ons oë en min sien dit raak! Prys Sy Wonderlike Naam daarvoor!

Mense bemoedig mekaar, bid vir mekaar, dra mekaar se belange op die hart! Dis die ware definisie van ‘n kerk, maar nie die moderne kerk van vandag nie, die kerk soos ek dit dekades gelede geken het as kind. Die van julle wat nie aan ‘n kerk behoort nie, kan verseker wees dat jy nou aan een behoort! Ons mag miskien nie ‘n fisiese kerk gebou hê nie, maar ons word deur hierdie Watsapp Gemeenskap aan mekaar verbind! Wie het gesê dat God nie tegnologie kan gebruik tot Sy voordeel nie? Prys die Naam van Jesus!

Om ‘n werk soos dit te doen vir Jesus sal een mens breek en Jesus het dit geweet, dis waarom Hy vir my ander leraars gestuur het om my te help. Saam sorg ons vir die kudde van Jesus en sorg ons dat almal genoeg het om te eet! Prys Sy Naam daarvoor!

Hier gaan u die Woord van God hoor soos Jesus dit bedoel het van die begin af. Reg is reg, verkeerd is verkeerd en sonde is sonde! Ons sit nie draad nie en ons kielie nie mense se ore nie! As ons as leraars nie vir mense sê dat hulle verkeerd doen nie, gaan hulle dit nie weet nie en dan gaan hulle bloed op ons hande wees.

Verskoon maar as ons tone trap. Dis beter om die boompie te buig terwyl dit jonk is as om dit te doen as die boom volgroei is. Jesus het elkeen van julle oneindig lief, maar Hy is ook ‘n Heilige God met standaarde en ‘n God wat sonde nie ongestraf sal laat bly nie. Ons veroordeel niemand nie. God veroordeel jou ook nie. Ons wys net uit wat verkeerd is sodat dit betyds reggemaak kan word. Aanvaar daarom die tug want Jesus doen dit in Liefde vir ons almal omdat Hy nie wil hê dat enige een verlore mag gaan nie.

Ek wil die HERE eer en dank, want Hy is al wat ek nodig het! Om vir Jesus te werk is ‘n eer en dis ‘n plesier soos min!

Prys die Wonderlike Naam van die HERE!

(Visited 254 times, 1 visits today)
Tagged , , , .