In gesprek met die HERE

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Hierdie week gaan ek net lekker met u gesels. Geen Bybelverse of aanhalings nie. Net ‘n lekker gesels boodskap!

Ek weet nie wie van julle al die film “Conversations with God” gesien het nie. Ek kan dit ten sterkste aanbeveel vir die wat dit nog nie gesien het nie! Ek gaan nou nie die hele storie vir julle hier vertel nie, maar dit gaan kortliks oor ‘n suksesvolle man wat een van sy nekwerwels in ‘n motorongeluk gebreek het. As gevolg van sy buitengewone lang herstel het hy sy werk verloor, daarna sy huis en het hy uit eindelik op die straat beland as ‘n boemelaar.

Dinge kon nie erger nie tot die dag dat hy ‘n stem gehoor het wat vra: “Het jy genoeg gehad?” Hy het eers rondgekyk wie dit is wat praat, maar kon niemand sien nie. Die stem vra toe weer: “Het jy genoeg gehad om jouself jammer te kry?” Dit was God wat met hom gepraat het. Die res van die storie gaan oor hoe hy homself optel uit sy omstandighede, ‘n boek begin skryf oor sy gesprekke met God en hoe hierdie boek mense se lewens verander het.

Dit het my laat besef hoe geneig ons as mens is om sommer net op ‘n ashoop te gaan sit en ons self jammer te kry sodra iets sleg in ons lewens gebeur. Dan blameer ons vir God! Ons lewens speel af soos iemand wat ‘n legkaart bou. Ons probeer sin maak van die gebeure deur die stukkies inmekaar te sit en as dit nie pas nie of ons verstaan ‘n sekere gebeurlikheid nie, dan wil ons sommer moed opgee! Later as mens teruggaan en jou handewerk beskou, dan begin jy verstaan waarom ‘n seker toets in jou lewe daar was en waarom daardie slegte ding met jou gebeur het. In baie gevalle was dit God se manier om jou gereed te maak vir dinge wat nog moet kom.

Iemand het eenslag vir my gesê dat ons almal Hemelse wesens is wat besig is met ‘n aarde ondervinding! Daardie sin kan nie meer waar wees nie! Ons doel op aarde is om ons gereed te maak vir die Hemel sodat ons eendag ons plek in die Hemel sal kan volstaan as volwaardige inwoners. Ons tyd op aarde is dus niks anders as ‘n opleidings tydperk nie!

In die film is daar hierdie paartjie wat nie kinders kon hê nie. Hulle het ‘n baba seuntjie aangeneem en hom grootgemaak as hulle eie. Hulle het hom alles gegee wat hulle as kinders nooit kon hê nie en sy lewenspad was met goud besaai!

Op die seun se veertiende verjaardag het hulle besluit om hom die waarheid te vertel: dat hy nie hulle eie seun is nie, maar aangeneem is. Van daardie dag af het dinge al hoe slegter gegaan. Sy gedrag het verander en sy punte op skool het gedaal. Hy het van ‘n konstante A-graad kandidaat geval na een van die leerlinge wat elke graad net deur skuur.

Die seun se lewe was in skerwe. Hy kon nie verstaan hoe sy regte ma hom net so kon los nie… Sy aangenome ouers het probeer om hom te help deur ‘n soektog na sy biologiese ma te begin. Hulle het gastronomiese bedrae geld gespandeer, selfs addisionele verbande op hulle huis uitgeneem, maar die soektog was vrugteloos. Die seun se biologiese ma kon nêrens opgespoor word nie.

Op sy agtiende verjaardag koop sy aangenome ouers vir hom die motorfiets wat sy so graag wou hê. Op sy eerste rit uit, ry ‘n dronk bestuurder hom raak en sterf hy op slag. Sy aangenome ouers was verpletter en eendag terwyl die ster van die film besig was met ‘n boek tentoonstelling kom hierdie vrou na hom toe.

Sy vra toe: “As God dan ‘n God van liefde is, waarom het Hy toegelaat dat dit gebeur?” Die man van God het opgestaan, ‘n rukkie gedink en toe na haar gestap en gesê: “God het jou aangenome seun se begeerte geken. Hy het geweet hoe baie graag hy sy regte ma wil sien. Ongelukkig is sy biologiese ma reeds baie jare gelede oorlede. Die enigste manier vir hom om by sy regte ma te kon wees was om self te sterf…” Die vrou het in trane uitgebars, want skielik het die legkaart sin gemaak.

Laasgenoemde is so tipies van ons as mens. Ons konsentreer so op die nou, dat ons totaal vergeet van môre! Dis so maklik om God te blameer vir alles wat in ons lewens verkeerd gaan, inplaas daarvan dat ons leer daaruit en aan beweeg. Ons probleem is dat ons nou antwoorde soek en nou dadelik die waarom wil weet. Ongelukkig werk God nie so nie, want God se tyd is nie ons tyd nie. Wanneer God voel dat ons reg is vir die antwoord, dan sal Hy dit aan ons gee. Intussen moet ons aan beweeg en glo dat God in beheer is!

God praat elke dag met ons en nie net deur Sy Woord nie! Het ‘n gedagte al by u opgekom dat u wonder wat u daaraan laat dink het? Sommige mense noem dit hulle “gewete”! Dit is God se stem in u lewe! Luister wat God sê. Hy sal u nooit verkeerd lei nie!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 70 times, 1 visits today)