Iemand het hierdie boodskap vir my verlede week gestuur, maar ek gaan dit vandag vir julle bring omdat dit so ‘n treffende voorbeeld is van naaste liefde.
Hoe baie keer het ons nie al gewonder wie ons naaste is nie, tog sê Jesus dit vir ons in Lukas 10:25-37 deur die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan presies wie ons naaste is. Hierdie verhaal het volgens die oorspronklike skrywer ‘n paar jaar gelede afgespeel, maar daar word nie genoem wanneer nie.
‘n Groep verkoopsmanne het ‘n streeks kongres oor verkope gaan bywoon in die Amerikaanse stad van Chicago. Dit was Vrydag en dit sou ‘n eendag kongres wees. Hulle het hulle vrouens belowe dat hulle daardie aand betyds terug sou wees vir aandete. Die van julle wat oud genoeg is om te onthou sal weet hoe belangrik aandete in die huisgesin verband was en hoe belangrik dit was dat die hele gesin saans aansit om saam aandete te eet.
Ek het eenkeer op geleentheid op ‘n Vrydag middag gevlieg en ek kan julle belowe, dat ‘n malhuis ‘n relatiewe mak term is om te beskryf hoe ‘n lughawe op daardie tyd van die week lyk! Almal en ek bedoel almal wil om een of ander rede op ‘n Vrydag middag iewers anders wees! Jou lughawens is daarom besig op ‘n maniere wat jy vir niemand kan beskryf nie. Net om by jou hek uit te kom is ‘n stryd. Ek kan my dus voorstel waardeur hierdie verkoopsmanne moes gaan om betyds op die lughawe te kon wees om hulle vlug te kan kry.
Na die kongres afgesluit was, het die groep so vinnig as wat hulle moontlik kon na die lughawe vertrek. Met hulle aankoms op die lughawe het die mans gedrafstap na die vertreksaal. In hulle haas het een van hulle ‘n tafeltjie met ‘n uitstalling van appels per ongeluk omgestamp. Appels het die hele wêreld vol getrek…
Sonder om eers om te kyk het die groep net gemaak dat hulle by hulle hek kom en ook net betyds anders sou hulle laat wees en sou hulle die beloftes wat hulle aan hulle vrouens gemaak het om betyds vir aandete te wees moes verbreek. Die mans was bly en baie selfvoldaan dat hulle dit gemaak het, behalwe een. Die een wat die tafeltjie per ongeluk omgestamp het.
Laasgenoemde het gaan staan en die meisie wat die tafel beman het ‘n jammerte in sy hart gevoel wat hy nie kon beskryf nie. Hy het vir die ander mans in sy groep gesê dat hulle vooruit moes gaan en aan sy vrou moes verduidelik waarom hy laat gaan wees. Hy sal ‘n later vlug vat, want hy gaan eers die meisie wie se tafeltjie hy omgestamp het help.
Hy het teruggeloop na die plek in die terminaal waar hy die tafel omgestamp het. Hy was by hy het, want in sy haas het hy nooit opgelet dat die 16 jarige meisie wat die tafel beman het, blind was nie! Sy het saggies gehuil en trane het oor haar wange geloop uit frustrasie uit. Sy het oor die vloer gekruip opsoek na al die appels wat intussen oral ingerol het. Mense het om haar geloop; niemand het vir haar omgegee of aangebied om te help nie.
Die verkoopsman het afgebuk en haar gehelp om al die appels bymekaar te maak. Daarna het hy die tafel weer regop gesit en haar gehelp om die uitstalling weer te kry soos dit was. Van die appels was gekneus en het nie meer mooi gelyk nie. Hierdie het hy eenkant in ‘n ander mandjie gesit.
Toe hy klaar was het hy sy beursie uitgehaal en R500 aan die meisie gegee.
“Hier, dit is vir die skade wat ek aangerig het. Ek hoop nie ek het nou dag te bederf nie,” het hy gesê.
Hy het opgestaan om na die vertreksaal te beweeg, maar die meisie het hom teruggeroep.
“Meneer…”
Hy het omgekyk.
“Is jy Jesus?” het sy gevra.
“Nee, ek is glad nie soos Hy nie,” het die verkoopsman geantwoord, “Hy is goed, liefdevol, barmhartig en Hy sou nooit in jou tafeltjie vasgeloop het om mee te begin nie.”
“Ek vra omdat ek gebid het dat Jesus iemand sal stuur om my te help en Hy het vir jou gestuur, dus is jy soos Hy. Hy het geweet jy sou Sy wil doen. Dankie dat jy geluister het,” antwoord die meisie.
Die man het teruggeloop na die terminaal om die volgende vlug te kry, maar die vraag het in sy binneste gebrand: “Is jy Jesus?”
Is jy soos Jesus, liewe leser? Word jy baie keer verwar met Jesus? Dit is tog ons doel op aarde, is dit nie? Om soos Hy te wees. Om die HERE se liefde uit te dra op ‘n wêreld wat blind is vir Sy liefde en barmhartigheid. Tot op so ‘n mate dat mense nie die verskil kan sien tussen ons en Hom nie.
Ons doen voor om Christene te wees, maar ons leef en tree nie op soos Hy nie. Om die HERE te ken is meer as net om Bybelverse te kwoteer en gereeld kerk toe te gaan. Dit gaan daaroor om die Woord van die HERE uit te leef, dag na dag.
Jy is die appel van Sy oog, maar selfs jy het seergekry in die val. Jesus het gestop om jou op te tel op ‘n heuwel met die naam van Golgota en Hy het die prys ten volle betaal vir al die vrugte wat seergekry het.
Is jy dus soos Jesus?