Jesus in ‘n boksie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons is baie keer so bekommerd oor wat mense van ons dink dat ons tot uiterstes gaan om te verseker dat mense niks het om oor te kan praat nie.

As jy een van hierdie is wat jou geduring hieroor verknies, dan het die HERE dit om vir jou te sê: “Wat maak dit saak wat die mense oor jou sê? Solank Ek weet wie jy is, maak niks anders saak nie!”

Liewe lesers, julle moet onthou dat jy baie soorte mense op jou lewenspad gaan ontmoet. Aan hulle vrugte gaan jy hulle ken en dan gaan jy besef dat baie van hulle nog steeds nie die HERE ken nie. Hulle dink hulle ken die HERE, maar wat hulle ken is ‘n mens gemaakte weergawe van die HERE. Dis waarom hulle nie die HERE se stem in hulle lewens herken nie. Die wat die HERE soek, SAL Hom vind, maar baie stop te vroeg en aanvaar dan ‘n nagemaakte weergawe van die HERE.

Waarom? Mense aanvaar die gedeeltes wat bevestig is deur hulle kultuur en die manier wat hulle groot geword het, maar daar stop hulle. Hulle probeer die HERE in ‘n boksie sit en alles wat nie in die boksie pas nie, kan volgens hulle nie werklik die HERE wees nie. Dit gebeur omdat mense gebind word deur hulle idees en hulle kultuur.

In die wêreld waarin hulle leef is dit net nie veilig om die HERE werklik te ken nie.

Sommige is jaloers, ander bang en nog meer net lui, maar niemand is bereid om te soek totdat hulle die waarheid vind van wie Jesus werklik is nie. Hulle grawe vir hulle ‘n gemaklike plekkie uit by hulle kerke en families eerder as om fanaties genoem te word.

Maar dis juis hierdie wat as fanaties bestempel word wat bereid is om aan te hou soek. Hulle is bereid om reputasie, vriende en werk prys te gee net sodat hulle meer van die HERE kan kry. Dié wêreld bestempel hulle as fanaties, maar dis hulle wat in die Hart van die HERE woon.

Met die ander kan die HERE glad nie werk nie, want hulle gedagtes is klaar kultureel afgesluit van Hom af. Die HERE werk in hulle lewens, maar net binne in die raamwerk van die boksie waarin hulle Hom gesit het. Dis uiters beperkend en uiters min kan gedoen word. Dit wat vermag word is soos ‘n handvol sout in die middel van die oseaan. Dit maak die see meer sout, maar dit kan skaars iets vermag. Los hierdie mense met rus, want daar is niks wat julle kan doen om hulle te oortuig nie. Julle is ‘n bedreiging vir hulle manier van glo so tragies soos dit ook al mag wees.

Hulle sal Hemel toe gaan en daar sal hulle die HERE ondervind soos wat Hy werklik is en dan sal hulle agterkom hoe verkeerd hulle die hele tyd was.

Laat hulle dus spot en kommentaar lewer soveel as wat hulle kan. Laat hulle met rus, want hulle praat uit die beperking van hulle eie ondervindinge uit. Moet nooit ophou om te bid vir hierdie mense nie en moet ook nie ophou om meer van die HERE te soek nie. As jy in die Hart van die HERE bly sal jy agterkom dat daar geen einde aan die HERE is nie!

Prys die Naam van die HERE!

(Visited 40 times, 1 visits today)