Mag die wysheid van die HERE ons harte beweeg om Sy onderrig in alle dinge te volg. Amen!
Dis so belangrik dat elke persoon wat die HERE volg, homself moet ken, want daar is so baie gebroke siele daar buite wat hulleself nog nie vergewe het nie. Hulle weet nie wie hulle is of waarom hulle op aarde is nie. Hulle weet ook nie waarom alles om hulle altyd uitmekaar val nie. Dis waarom dit so belangrik is dat ons onsself ken, want net as ons onsself ken soos die HERE ons ken, kan ons ander help om sin van hulle lewens te maak.
Behalwe om die HERE te leer ken, is daar geen beter ding om te doen as om jouself te leer ken nie. Van elkeen van ons se geboorte af word ons gekondisioneer deur die woorde van ander. Ouers dra aan hulle kinders hulle eie uitkyk op die lewe oor. Hulle projekteer hulle drome van wat hulle graag in die lewe sou wou bereik het op hulle kinders; partykeer selfs hulle eie negatiewe uitkyk op die lewe.
Ons is die mooiste skepping van alles wat die HERE gemaak het; totdat ons deur dié rondom ons beïnvloed word. Dan word ons rigting in die lewe vasgestel deur ander wat nie die HERE of hulleself ken nie. Hulle bepaal die roete vir jou lewe gebaseer op hulle eie vrese, verwagtinge en suksesse.
Wanneer jy dus jou grootmens skoene aantrek en vir die eerste keer in die wêreld uitstap, is dit ‘n baie groot skok. Mense stel jou teleur, hulle mislei, hulle steel en hulle lieg. Dis dinge wat jy nie in jou familie band ondervind het nie en vir baie is die skok groot. Daar is ook diegene alhoewel dun gesaai wat altyd goeie dinge sal sê om jou op te help.
Die belangrikste om te te onthou is dat jy nie dit is wat enige iemand gesê het jy is nie. Jou taak is om die werklike jy te ontbloot en dit kan nie een van ons doen sonder die hulp van die HERE nie. Baie van hierdie ontdekkings sal jy maak in jou stilte tye saam met die HERE en ook in jou dag tot dag lewe soos jy na die HERE soek en na Hom luister.
Niks gebeur in jou lewe sonder die goedkeuring van die HERE nie. Alles wat met jou gebeur is bedoel om ‘n les te wees, maar dan moet jy baie versigting luister om dit te kan verstaan.
In sommige gevalle sal die HERE iemand stuur om jou te help, maar hierdie is rare gevalle wat baie min van ons beskore is. Sommige aanvaar hierdie hulp met liefde, maar sommige verwerp dit. In ander kom die sondige natuur weer vorendag in die vorm van ‘n selfbeskermings drang om meer te wil hê: meer geld, meer kos, meer vriende, meer beheer en meer mag oor dinge rondom hulle. Alles net om dit wat broos is binne in, te beskerm. Dit waarvan hulle al hulle hele lewens weghardloop.
Vir mense in hierdie toestand sal dit uiters pynlik wees om iemand wat hulle wil lei te kan verdra. Hulle sal bedreig voel om elke hoek en draai, want die fondasie wat hulle gelê het om te oorleef gaan gekraak word en uitmekaar val. Die vrees om dit waaraan hulle vir solank vashou te sien verkrummel gaan hulle nie kan verdra nie. Hulle hele bestaan gaan bedreig word.
Een van satan se gunsteling argumente is: “Hulle verstaan jou nie omdat jy anders is. Jy is spesiaal en dieper as hulle en daarom verstaan hulle jou nie.” Hierdie is leuens van Satan om te voorkom dat jy geluk in jou lewe vind. Dinge gaan verkeerd in jou lewe omdat niemand jou verstaan nie… of so word daar vir jou gesê. Jy voeg dan meer lae om jou om jouself te beskerm, want jy is spesiaal en die wêreld is nie goed genoeg vir jou nie.
So speel satan speel met jou onveiligheid. Hy maak jou blind sodat jy nie jou deel kan sien waarom dinge om jou vaal nie. Hy doen dit om jou te isoleer van die waarheid sodat jy meer verdedigend en oordelend teenoor ander kan optree. Satan doen dit omdat dit makliker is om ‘n enkele siel te beheer as wat dit is om meer as een te beheer wat onder die beskerming van die HERE is.
Vir jou wil die HERE sê dat jy wonderlik is; gemaak vol geskenke en vermoëns wat deur die HERE daargestel is om jou te laat bloei in die oorvloedige lewe wat Hy van die grondlegging van die wêreld af vir jou beplan het. Die rondom jou is net so wonderlik gemaak en hulle word ook net soos jy deur die lewe rondgegooi.
Jy moet egter onthou dat jy vir die HERE gemaak is en bestem is vir die Hemel en hierdie wêreld kan ‘n vreeslike plek wees om in die interim in te lewe. Solank as wat jy vashou aan ander se visie van wie jy is, sal jy nooit jouself leer ken nie. Jy kan jouself net leer ken deur die HERE; deur tyd saam met Hom deur te bring. Deur die Bybel te lees en te sien hoe die HERE met mense in die verlede gehandel het en dan die kritiese vrae te vra soos “Is ek soos hulle? Doen ek dit?”
As jy hierdie vrae vra, sal jy nie lank wag vir die antwoord nie. Die HERE wag geduldig op jou sodat Hy jou kan leer wie jy is, wie Hy is en wat jy nie is nie. Dis deel van jou opleiding om jou gereed te maak vir die dodelike lokvalle wat satan elke dag vir jou stel. As jy jouself en jou swakhede ken, sal dit vir jou makliker wees om satan se lokvalle vry te spring.
Moet egter nie dink dat jy dit op jou eie kan doen nie. Jy sal ‘n lewe vol mislukkings lei en wonder waarom alles om jou uitmekaarval. Dit gebeur omdat jy jouself nie ken nie, maar satan doen. Jy het nie die lewens ondervinding om hom te ontwyk nie, maar die HERE het! Totdat jy besluit het om die HERE volle beheer oor jou lewe gee, sal jy aanhou sirkels loop en wonder wat om met jou lewe te maak.
Die HERE bied jou nou ‘n beter manier van lewe aan. ‘n Lewe wat gaan lei tot sukses en vervulling. ‘n Lewe wat gaan lei tot betekenis vir jou en die om jou. Jy sal onder die HERE se leiding aanhou om te blom tot ‘n lieflike geur vir die om jou en vir die wêreld.
Ek wil byvoeg dat die HERE hier verwys die vervulling van die lewe en nie na die sogenaamde voorspoed evangelie nie.
Vir dit alles om te gebeur gaan jy dapper moet wees. Jy gaan verskoning moet vra vir dit wat jy verkeerd gedoen het; ook dit wat jy verkeerd gedoen het aan ander. Jy gaan bereid moet wees om uitnmekaar gehaal te word en weer aanmekaargesit te word in die liefdevolle hande van die HERE. Die HERE sal dit wat oud en seer is uit jou lewe verwyder en jou herbou tot die skepsel wat Hy jou van die begin af gemaak het om te wees!
Prys die Naam van die HERE!