Dankie Jesus dat u ons so bemoedig en aan almal wys wie ons werklik is voor U!
Ons almal voel een of ander tyd broos en dan dink ons dat ons nie goed genoeg is om gered te word nie. Of ons dink dat die HERE vir ons kwaad is of teleurgestel is in ons. Dan straf ons onsself omdat ons nie van beter geweet het of beter kon doen nie. LEUENS! Alles leuens van satan!
So ‘n paar boodskappe gelede het ek genoem dat die HERE met ‘n stuk papier in Sy hand staan, ‘n vuurhoutjie in die ander en dat Hy besig is om die vel papier aan die brand te steek. Op die stuk papier is al die dinge waaroor jy gedurig skuldig voel en jouself oor verwyt. Hy weet hoe jy daaroor voel en dat dit vals skuldgevoelens is wat jou teister omdat jy dink dat jy nie goed genoeg is nie. Hierdie gevoelens is alles leuens, versigtig aanmekaar gesit deur satan om jou skuldig te laat voel sodat jy jou van die HERE moet distansieer.
Julle sien, ek is self nie goed met hierdie ding nie. Ja, ek word ook so aangeval! Jy is dus nie uniek nie en dis nie net jy alleen wat hierdie gevoelens van skuld kry nie.
Maar daar is vandag hoop vir ons almal. Die HERE is besig om daardie lysies skuld gevoelens uit te brand, want daar is geen rede om oor enige iets skuldig te voel nie! Die HERE sê nie verniet in Sy woord: “Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!” (Jesaja 43:1)
Selfs al werp ons onsself neer, tel die HERE ons op. Die HERE het groot vertroue in dit wat ons vir Hom doen, want Sy Gees is lewendig binne in ons. Ons sien dit nie en verstaan dit nie altyd nie, maar dit is daar! Hierdie is ‘n geskenk van die HERE af aan ons. Ons is almal net houers; baie gebreekte houers, maar deur daardie krake en gebreke laat die HERE toe dat ons kan sien hoe Sy genade in ons werk! Jy is SYNE, liewe Kind van die HERE!
Baie van julle is miskien nie slim in mense terme nie of invloedryk of van koninklike afkoms nie. Baie mag dalk as dom beskou gewees het deur die wêreld, maar weet dat God se domheid, nog steeds wyser is as die wêreld se wysste! Die HERE kies die swakkes, kreupeles en die armes van gees om die wêreld se sterkstes te laat skaam kry! Die HERE kies doelbewus die swakkes, dit wat ander minag sodat niemand kan spog oor hoe goed hy of sy is nie.
“Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.” (1Korintiers 1:26-31)
Self het ek al baie gewonder oor die goed wat ek skryf. Ek het al selfs vir die HERE gevra of Hy seker is dat dit wat ek skryf is wat Hy wil hê julle moet hoor; dan kom Sy antwoord: “Hou aan skryf!” Ek het al gewonder of ek gekwalifiseerd is om te doen wat ek doen, dan sê die HERE: “Jy is gekwalifiseerd in My oë!”
Baie mense dink mos dat as jy die Woord van die HERE bedien dat jy een of ander “Super Christen” is! Wat dink julle nou? Ek is ‘n vaalbare mense met baie “issues” net soos julle! Ek kan op niks roem, behalwe die liefde van die HERE nie; alles anders is irrelevant.
Nou wag die HERE op jou, liewe leser. Gaan jy nou ophou om iets te probeer wees wat jy nie is nie en jou kleinheid oorgee aan die HERE sodat Hy kan doen wat Hy wil? Die HERE is versot op gebreekte potlode. Groot kunstenaars kan wondere verrig met potlode wat gebreek is en uitveërs wat so op is dat hulle moeilik is om vas te hou. Jy sal verbaas wees wat die HERE met jou kan doen as jy alles aan Hom oorgee!
Hou dus op om my of enige ander mense op ‘n verhogie te sit. Sien ons eerder as mense wat vaal baar is net soos julle en gedurig deur die HERE se liefde gered moet word. Die doel van hierdie groep is nie om een persoon op te hemel as een of ander groot prediker nie. Hierdie groep gaan oor die krag, die genade en die liefde van die HERE en elkeen van ons wat uitverkies is om dit so te ervaar!
Wat kan die HERE doen met die wat bereid is om hervorm te word soos Hy ons gemaak het om te wees? Dit sal jou verstand te bowe gaan om te verstaan, maar weet dat daar ongelooflike dinge wag vir die wat bereid is!
Kom nou en laat die HERE jou ‘n houer maak wat geëer kan word. Vervul jou roeping in die HERE.
Prys Sy Naam!