Jou sonde wat baie was is vergewe

Vandag kyk ons na die verhaal van die straat vrou wat Jesus se voete met haar trane gewas het soos dit in Lukas 7:36-50 opgeteken is.

Die verhaal begin waar Jesus deur ‘n sekere Fariseër uitgenooi was om by hom te kom eet. ‘n Sekere straat vrou het dit te hore gekom en het haar voorgeneem om Jesus aan tafel te gaan sien wat sy dan ook uitgevoer het. Sonder om ‘n woord te sê, het sy by Jesus se voete gaan sit en begin huil. Sy het so gehuil dat sy Sy voete met haar trane natgemaak het. Sy het sy voete met haar hare afgedroog en dit daarna met ‘n baie duur salf gesalf.

Die Fariseër by wie Jesus gaan eet het, het dit opgelet en by homself gedink dat as Jesus geweet het wie dit is wat hom aanraak, Hy miskien nie sou toelaat dat sy dit doen nie, maar Jesus het dit geweet, want hy antwoord die Fariseër dat sy baie mans lief gehad het en net so baie sonde gehad het. Jesus het vir haar gesê dat haar sondes vergewe was en dat sy in vrede moet gaan.

Hierdie laat my so baie dink aan my eie bekering so baie jare gelede. Jesus stap sowaar ‘n pad met elkeen van ons. Soms dink jy dat Jesus nie daar is nie en jou aan jou eie genade oorgelaat het, maar dis glad nie waar nie. Jesus is altyd daar, selfs in die moeilikste dele van ons lewens wanneer dit die donkerste is, is Jesus daar! Prys Sy Naam! Ons is maar net nie altyd bewus van Sy teenwoordigheid nie.

Daardie stemmetjie wat vir jou aanpor om nog net ‘n klein rukkie langer uit te hou, dis Jesus daardie, want dis nodig dat ons soms deur swaar tye gaan. Julle weet, as ons ‘n boom snoei, dan maar dit die boom seer, maar dit maak ook dat die boom meer vrugte kan dra. Daardie bietjie seer is dus niks in vergelyking met die absolute opgewondenheid wat ons later gaan ervaar as ons sien hoe ons vrugte vir Jesus dra nie.

Ek is seker daarvan dat elkeen van julle julle eie stories het om te vertel van hoe Jesus julle gered het; tot watter uiterste Jesus gegaan het en hoe diep Jesus bereid was om af te daal net om elkeen van ons se hande te gryp en ons op te rig tot op ons voete. Alle getuig van die onuitblusbare liefde van Vader wat ons meer lief het as enige iets anders. Prys Sy Heilige Naam!

Laat ons daarom nou vir Jesus dankie sê vir alles wat Hy vir ons gedoen het. Ons sal Hom nooit in der ewigheid kan terugbetaal nie, maar Jesus weet dit. Al wat Jesus terug wil hê is dat ons Hom lief moet hê. Niks meer nie.

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 651 times, 1 visits today)
Tagged , , .