Ek kry so baie vrae oor hierdie onderwerp dat ek dit goed gedink het om ‘n verkorte vraag en antwoord artikel oor hierdie onderwerp te doen.
Ek het in die verlede verskeie boodskappe oor die wegraping geskryf wat almal op ons webruimte beskikbaar is om te lees. Kyk gerus by www.suiderkruis.co.za.
Hoe weet ons dat daar ‘n wegraping gaan plaasvind?
Eerstens omdat die proses van die wegraping aan ons verduidelik word in 1 Tessalonisense 4:13-18 en tweedens omdat die Bybel herhaaldelik vir ons sê dat God se Toorn ons nie toekom nie in Romeine 5:9, Romeine 8:1, 1 Tessalonisense 5:9 en 1 Tessalonisense 1:10. Die Verdrukking is niks anders as God se Toorn oor ‘n wêreld wat weier om Hom as God te erken nie. Tweedens is dit God se manier om die onskuldiges te beskerm en hulle eerste uit die ramp gebied te verwyder voor die plae kom. Hy het dit gedoen met die Israeliete in Egipte land, met Noag deur vir hom die ark te laat bou en met Lot deur hom uit Sodom en Gemorra te laat vlug voor die streek vernietig is. Net so sal die HERE ons ook uit die rampgebied verwyder voor Hy Sy Toorn oor hierdie wêreld sal laat geld. Prys Sy Naam!
Wat gaan eerste plaasvind: die wegraping of die verdrukking?
Die kort antwoord is dat die wegraping eerste gaan kom. Ons kan dit met sekerheid weet omdat 2 Tessalonisense 2:7-8 vir ons sê “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,” Ons is die wat terughou waarna verwys word. Ons as Kinders van God se teenwoordigheid op aarde en ons gebede is wat keer dat satan nie kan doen wat hy wil nie. Ons moet eers uit die weg geruim word; weggeraap word, want eers dan kan die Antichris sy verskyning maak. Solank ons nog hier is, verhinder ons gebede dat satan kan doen wat hy wil. Prys die Naam van die HERE!
Gaan ons die verdrukking sien gebeur?
Die kort antwoord op hierdie vraag is “nee”. Ons gaan wel die inleiding daarvan sien. Alles wat nou besig is om te gebeur: die aardbewings, pessiektes, oorloë en gerugte van oorloë, is alles deel van God se plan om ‘n wêreld wat vas aan die slaap is te probeer wakker skud, maar as Kinders van God gaan ons nie die verdrukking sien nie. Hoe kan ons seker wees? Wat God sê in Romeine 5:9, Romeine 8:1, 1 Tessalonisense 5:9 en 1 Tessalonisense 1:10 herhaaldelik dat God se Toorn ons nie toekom nie. Die verdrukking is God se Toorn oor ‘n wêreld wat weier om Hom as God te erken en daarom sal ons dit nie sien gebeur nie, want die verdrukking is nie vir die Kind van God nie. ‘n Vader straf nie sy kind as hy onskuldig is nie en daarom gaan ons ook nie saam met die wat God nie wil ken nie gestraf word vir hulle oortredings nie. AMEN!
Begin die verdrukking onmiddellik na die wegraping?
Die Bybel sê vir ons in Openbaring 6:2 dat die Verdrukking gaan begin wanneer die wit perd vrygelaat gaan word. Die persoon wat op hierdie wit perd sit is die Antichris. ‘n Boog sonder pyle en ‘n kroon is aan hom gegee. Die boog sonder pyle beteken dat hy op militaristiese gebied baie sterk gaan wees, maar dat hy deur diplomasie gaan oorwin en nie geweld nie en dis waarom die boog geen pyle in het nie. Die kroon stel mag oor die mense voor wat beteken dat hy baie suksesvol gaan wees om die mense te oortuig. Ons weet ook dat hierdie man ‘n vredesverdrag met Israel en ander lande gaan sluit (Daniël 9:27) en die ondertekening van hierdie vredesverdrag gaan die amptelike begin van die verdrukking wees.
Omdat die Bybel vir ons in 2 Tessalonisense 2:7-8 sê dat “net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word”, weet ons dat die wegraping eers moet plaasvind voor die antichris sy verskyning kan maak en hierdie “vredesverdrag” gesluit kan word.
Ons is die wat nou teëhou, want ons teenwoordigheid en ons gebede hou die volle geweld van satan se mag oor hierdie aarde terug sodat satan nie kan doen wat hy wil nie. Prys die Naam van Jesus!
Wat gaan gebeur tydens die wegraping?
1 Tessalonisense 4:13-18 verduidelik die proses vir ons stap vir stap. Eerste gaan die Christene wat gered was voor hulle dood opstaan en tweede gaan ons wat nog lewe saam met hulle in die Hemel opgeneem word. Daar is baie teorieë wat op Internet sirkuleer oor presies wat gaan gebeur die oomblik wat die wegraping plaasvind, maar niks hiervan word in die Bybel genoem nie. Ons kan dus nie met sekerheid sê nie, maar die mees algemeenste teorie is dat God tyd gaan laat stilstaan op daardie oomblik. Dit gaan die effek gee van iemand wat een oomblik hier is en die volgende oomblik weg. Soos ek sê: hierdie staan nie in die Bybel nie en ek kan dus nie met sekerheid sê of dit wel so gaan wees of nie. Die wat weggeraap gaan word gaan Hemel toe geneem word, waar ons ons beloning gaan ontvang vir die werk wat ons op Aarde gedoen het.
Ek hoop dat hierdie vraag en antwoord sessie die meeste vrae sal antwoord, maar indien daar nog vrae is, sal ek met graagte nog so ‘n vraag en antwoord sessie doen.
Prys die Naam van Jesus!
