Ons is tog so geneig om na ander mense te kyk en dan te wens ons kan ook soos hulle wees, want hulle kan sekere dinge net beter doen as ons!
Ons kry dit veral onder Kinders van die HERE waar ons ander beny omdat hulle beter kan bid as ons of net beter is met evangelisasie as ons. Ons wens so om soos hulle te wees dat ons nie ons eie gawes raaksien nie!
Eendag toe ek iemand so bewonder het, wys Jesus vir my ‘n teelepel. ‘n Teelepel is seker een van die kleinste instrumente wat ons het, maar kyk net wat vermag dit; dit maak koffie soet om te drink! Sonder die teelepel sal almal bitter koffie drink en hoe sleg sal die lewe dan smaak!
Jesus het gesê dat ons die sout van die aarde is. (Mattheus 5:13) Net soos ‘n teelepel is sout ook nie van veel waarde nie tot jy dit wegvat en dan agterkom net wat mens alles met sout kan maak! Sonder sout is daar geen biltong nie! Kos gaan ook glad nie meer lekker smaak nie! Sien wat ek bedoel?
Moet jouself dus nie onderskat nie. Jy het gawes wat jy nie eers na oplet nie. Daar is baie ander wat weer wens dat hulle soos jy kan wees en jy sien dit glad nie raak nie! Jesus het Sy Bruid soos ‘n liggaam gemaak. As almal perfek kon bid, wie sou dan die genesing doen? As almal evangeliste was, wie sou dan preek of wie sou bid? (1 Korintiërs 12:12) Verstaan julle.
Ons is almal anders, net soos die liggaam. Die liggaam bestaan uit verskillende dele, maar saam vorm hulle ‘n liggaam. ‘n liggaam is nie net oë nie, want as dit was, waar sou die gehoor wees en hoe sou dit kon loop. Ons moet dus almal anders wees anders sou ons nie ‘n liggaam kon wees nie.
Moet jouself dus nie onderskat nie. Jou vermoëns mag dak nie dieselfde as iemand anders wees nie, maar jy vorm ‘n baie belangrike deel van die liggaam van Christus! As jy nie in die liggaam van Christus was nie, dan sou die nader lede nie hulle werk kon doen nie. Jy is dus baie belangrik vir die liggaam van Christus. Om die waarheid te sê, so belangrik dat Jesus op die kruis gesterf het vir jou om te sorg dat jy ‘n deel van daardie liggaam kan word.
Moet dus nie dat enige iemand jou afkraak of sê dat jy onbelangrik is nie, want is is baie beslis nie! Jou deel wat jy vir Jesus doen mag klein wees, maar sonder daardie deel sou baie ander dele nie kon doen wat hulle nou doen nie.
Mag Jesus hierdie boodskap aan julle harte seën!