Julle weet is hierdie wêreld is satan se gebied en ons wat die HERE in ons lewens het is almal passasiers op pad na ons ewige bestemming.
Hierdie wêreld is ons nie goedgesind nie. Om die waarheid te sê, hierdie wêreld haat ons as Christene, want ons is ambassadeurs van die HERE. Ons verkondig die lig en dit kan satan en sy trawante nie verdra nie. Daarom sal jy opposisie kry so ver as wat hy gaan, maar eendag sal dit alles so die moeite werd wees as ons ons beloning ontvang vir die werk wat ons op aarde gedoen het. Dis waarom ek elkeen van julle aanmoedig om aan te hou. Moet nooit ophou om die Woord van die HERE te verkondig of groot te maak nie!
Dit verbaas my elke slag om te sien hoeveel leuens satan in die ore van Christene saai en hoe hy die Woord van die HERE verdraai om mense te laat glo dat dit wat hulle doen reg is. Liewe leser; die feit dat ons in die wêreld maar nie van die wêreld is nie beteken nie dat jy wêreldse plesier mag geniet terwyl jy ‘n Kind van die HERE is nie. In 2 Korintiërs 6:16 sê die HERE: “Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” Nou vra ek jou weer. Jy wat ‘n bloed gewaste Tempel van die HERE is; gered van die ewige dood, waarom skaar jy jouself onder die wêreldlinge?
Die dag as die HERE sy engele gaan stuur om ons te kom haal gaan hulle kyk vir die wat die meeste na die HERE lyk. As jy jou dan saam met die wêreld en sy plesier skaar, na wie lyk jy? Lyk jy soos ‘n Christen of lyk jy soos die wêreld?
As Christene moet ons onsself distansieer van hierdie wêreld en sy plesier, want ons aanbid die HERE. Soos ek in die begin gesê het; behoort hierdie wêreld aan satan en as jy wêreldse plesier aanhang, dan aanbid jy vir satan! Hou op om jou bruilofskleed te besmet deur rond te spring tussen wêreldse plesier en die HERE te aan bid. Kies een, want ‘n dienskneg kan nie twee meesters eer nie. (Lukas 16:13)
Julle moet onthou dat om ‘n Christen te wees presies dieselfde is soos om ‘n dieet te volg. Dis nie iets wat jy een maal per week vir ‘n uur kan doen nie. Hoe baie van julle het al gehoor hoe mense kla dat ‘n sekere dieet niks gehelp het nie? Dis omdat mense dit net wil toepas vir ‘n rukkie en dan wil los. Vir ‘n dieet om te werk, moet mens veranderinge aan jou leefstyl maak. Dis permanente veranderinge wat jy nie kan verander nie. Christenskap is presies dieselfde. Jy is of ‘n Christen of jy is nie een nie! Daar is geen middelpad nie. Jy kan nie vandag ‘n Christen wees en môre die wêreld aanbid nie. Dis God of Mammon; die een of die ander! En as jy werklik ‘n Kind van die HERE is, sal jy moeite doen om Hom beter te leer ken! Jy gaan later ‘n begeerte ontwikkel om die hele tyd net by die HERE te wil wees.
Ek weet ek praat harde woorde, maar onthou dat die tyd vir speel verby is. Hoe seker is jy dat jy die wegraping gaan mee maak? Of gaan die HERE vir jou in daardie uur sê: “Gaan weg, Ek het jou nooit geken nie?”
Ek praat nie nou net met die nuwe Kinders van die HERE nie, maar ook met die ou skape. Baie van julle maak staat daarop dat julle tyd gaan hê om reg te maak in die laaste sekondes voor die wegraping. Jy gaan nie, glo my! Die Bybel sê vir ons in ‘n oogwink gaan hierdie wêreld verander en gaan miljoene Christene nie meer op hierdie aarde wees nie. Die geleerdes het bereken dat die gemiddelde oogknip een honderdste van ‘n sekonde duur! Mense, een honderdste van ‘n sekonde! Dink jy nog jy gaan tyd hê om reg te maak?
Los die wêreld en sy plesier. Daar is vir jou geen stigting daarin nie, want wat se gemeenskap het die lig met die duisternis? Moenie dat satan vir jou liegstories vertel nie! Jy is ‘n oorwinnaar oor hierdie wêreld; dit is waar, maar jy is ‘n oorwinnaar in die GEES VAN GOD! Nie oor wêreldse dinge nie!
Prys die Naam van die HEER!