Wees tevrede met wat jy het

Soms gee Jesus vir ons ‘n boodskap uit Sy Woord uit wat ons nie verstaan nie, maar daarna word dit deur die Gees aan ons bekend gemaak.

So het ek het die gedeelte oor Lasarus en Abraham soos opgeteken Lukas 16:23-25 in gedurende my oggend godsdiens gekry. Eers kon ek dit nie verstaan nie, maar onmiddellik nadat ek dit gelees het, kom die volgende in my gedagtes op: “Wees tevrede met wat jy het.” Dit het my die hele dag laat wonder: wie van ons is werklik gelukkig met wat ons het. Hoe baie van ons het oorvloedig baie en is geseën onder die mense, maar ons sien dit nie raak nie?

Weereens tel ek myself hierby in, want ek is ook ‘n mens en ek wil graag geld hê om nog net dit reg te kan reg maak in my huis. Of as ek soveel en soveel geld kan genereer per maand, dan kan ons dit of dit regkry. Ons konsentreer so op dit wat ons wil hê dat ons die belangrikste vergeet en dit is om ons klein handjie in die groot hand van God die Vader te sit sodat Hy vir ons kan sorg! En HY sal, want HY sê so in SY WOORD!

Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Mattheus 6:25-26)

Ons kyk so graag na ander mense en dink dat hulle wat meer geld het, meer gelukkig is, maar dis glad nie so nie! Mense met baie geld het probleme in hulle lewens wat ek en jy wat amper niks het nie se koppe sal breek. Hierdie mense kyk weer na ons wat amper niks het nie, maar tog baie gelukkig is en wonder waarom hulle nie so kan wees nie!

Ek lees vanoggend weer iemand se boodskap op Facebook waar die persoon sê dat die lekkerste tyd van sy lewe was toe hy absoluut niks gehad het nie! Nie een van sy gesin het enige keuse gehad oor wat hulle wou aantrek nie, want hulle het elkeen net die een stel klere gehad! Sy vrou wat tevrede met haar lot as huis vrou. Hy en sy seuns het die plaas gehad om te bewerk en hulle het soggens vroeg begin en in die middag laat eers huis toe gekom.

Dus, liewe leser, wees gelukkig met wat jy het. Ja, daar is ander wat meer het, maar dink so daaraan: het jy al ooit ‘n tekort gehad? Ek het nog nooit! Daar is nie altyd geld om alles nou dadelik te vermag nie, maar as jy vertroue in Jesus stel, dan sal die geld vir jou beskikbaar gestel word wanneer jy dit nodig het! Onthou Jesus se woorde in Mattheus 6:25-26. Hy weet wat jy nodig het en Hy SAL voorsien!

Prys die Naam van die HERE!

(Visited 495 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .