Kom na My met jou mislukkings

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons maak baie keer self die deur vir satan oop om ons aan te val en te onderdruk…

Ons gewete kla ons aan as ons dit doen, maar dan is ons mos eie wys en hardkoppig en wil jy nie luister nie. Ons probeer met die HERE redeneer: “Here, ek moet net gou dit doen en dit sal nie lank vat nie. Ek kom dadelik weer terug!” Dit is die sonde van eie wil en trots!

Die HERE verseker jou agterna dat Hy jou nog steeds lief het, maar jy voel nie so nie. Jy weet die HERE het jou lief, maar jy voel gedistansieer oor jou optrede. Ek is seker dat ons almal weet hoe dit voel, want ons almal wil graag die beste wees wat ons kan vir die HERE.

Ons wil Hom lief hê met ons hele harte. Nie met die afgewaterde liefde wat die wêreld ken nie. Ons wil net Syne wees en wanneer ons vaal, dan voel ons terneergedruk op ‘n vlak waar ons soos ‘n mislukking voel.

Die HERE ken jou, liewe kind van God. Hy weet wat jy doen enige tyd van die dag en Hy is baie lief vir jou; selfs as Hy regstellende stappe moet neem om te verseker dat daar verandering kom. Selfs dan het Hy jou oneindig lief. Hy sal jou aanhou liefhê tot jou eie wil gebreek is en dan sal hy jou oorskadu met goedheid en genade. Hierdie is die dinge wat die HERE vir Sy Kinders sal doen wat afdwaal. Hy sal jou skuldige gewete stil, jou siel verkwik en jou weer optel. Hy sal jou nooit uittrap of uitskop nie. Daar is daarom geen rede om te wil wegkruip nie.

Jy kan iemand slaan tot hy gehoor gee, maar dit is slawerny en die HERE het ‘n baie hoë prys betaal vir ons vryheid van keuse. Die HERE sal daardie vryheid van keuse nooit van jou af wegvat nie, maar dit eerder stuur in die regte rigting totdat jy verstaan dat liefde alles oorwin; ook jou slegte gewoontes!

Moenie dat jou slegte gewoontes jou regeer nie. Solank as wat jy asemhaal, is daar altyd hoop en is daar altyd ‘n beter lewe sonder die kettings en die boeie waarteen jy solank al baklei.

Sommige dinge word in jou lewe toegelaat om jou nederig te hou. Kom ons vat vir Paulus as ‘n voorbeeld. Die HERE het hom die gawe gegee om die verborgenhede van God te verstaan, maar om te verseker dat hy nie te groot vir sy skoene raak as gevolg van die kennis wat hy gehad het nie, het die HERE toegelaat dat satan hom versoek. Paulus het dus sy hele lewe teen Sualus (die ou Paulus) baklei net om seker te maak dat hy nie weer soos dit word nie. Dit het Paulus nederig en afhanklik van die HERE gehou, want presies die uitwerking was wat die HERE verlang het.

Die HERE doen dit met ons ook en die doel is om ons vryheid van keuse in toom te hou sodat dit nie die oorhand oor ons kry en ons die verkeerde keuses maak nie. Om afhanklik van die HERE te wees moet altyd ons nommer een prioriteit wees!

Ja, om te vaal kan frustrerend wees, maar daar is ‘n doel. Liewe Kind van die HERE, u moet onthou dat u in die klaskamer van die HERE is en dat u besig is om opleiding ontvang met die oog op die ewigheid. Sommige van die lesse is moeilik en hard om te leer. Toe ek op skool was het ek baie van die goed wat ons moes leer nie verstaan nie en ook nie die doel gesien waarom daardie lesse so belangrik was nie, maar vandag wat ek ouer is, verstaan ek en weet ek waarom daardie lesse nodig was. So sal dit met ons ook wees. Ons verstaan dalk nie nou nie, maar eendag sal ons.

Al wat die HERE vra is dat jy nie sal oordeel nie! Deur te oordeel, maak jy die deur wyd oop vir satan om in te kom. Deur die swakhede van ander te ontbloot, ontbloot jy dieselfde dinge waarmee jy self sukkel. Die HERE sê nie dat jy ongeregtigheid moet oorsien nie. Al wat Hy vra is dat jy sal ophou om ander te oordeel, kritiek te lewer en hulle swakhede te ontbloot. Bedek hulle met liefde soos die HERE jou met liefde bedek. Waarom? Omdat jou hart skoon moet wees van oordeel voor die HERE om jou ten volle te kan beskerm. Wanneer jy dit doen, dan kyk God die Vader met trotsheid na jou en sal self die engele hardloop om jou by te staan in geval van nood.

Baie van julle is in kettings met gewoontes waarin satan jou ingepraat het. “Jy kan dit nie weerstaan nie, jy moet dit hê, jy kan nie skoon bly nie, jy moet ‘n uitlaat hê, geniet jouself, die HERE sal jou vergewe… jy kan mos nie stil bly nie, iemand moet weet van daardie persoon se foute…” Klink dit bekend? Julle sal vind dat hoe meer genade jy aan ander bewys, hoe minder sal satan jou versoek. Waarom, omdat die HERE jou beskerm deur die genade wat jy aan ander bewys! Hierdie is die geheim om jou swakhede te oorkom.

Baie van julle het ‘n nuwe begin nodig, want die lewe is die maklik nie. Kom nou na die HERE. Lê jou kop op Sy skouer en stort jou hart uit. Die HERE wag vir jou. Genade in oorvloed. Sy liefde vir jou het geen einde nie. Die HERE wag…

(Visited 67 times, 1 visits today)