Laat die wat vuil is vuiler word en die wat skoon is skoner

So ‘n ruk gelede het die HERE vir my ‘n droom gegee. Van julle wat al sulke ondervindinge gehad het sal weet hoe ontstellend dit is…

Ek het ‘n baie groot saal gesien met baie mense in. Die een helfte aand die linker kant van die saal was ‘n restaurant van soort. Die mense daar het die lekkerste etes geëet wat ek nog ooit gesien het. Dit het my glad honger gemaak om te sien hoe hulle smul. Die ander regter helfte van die saal was ‘n openbare toilet. Ek het in my lewe al baie vuil plekke gesien, veral openbare toilette, maar die een was die vuilste plek ooit. Ek het my verkyk aan hoe mense ‘n fasiliteit kan gebruik wat so vuil is en maak asof hulle die nie eers sien nie. Mense het ingekom en hulle ding gedoen terwyl mense aan die ander kant lekker geëet het. Alhoewel daar geen skeidings muur tussen die twee helftes van die saal was nie, was die twee groepe onbewus van mekaar. Dit het my verbaas dat mense so lekker kon eet terwyl daar ‘n vuil toilet in dieselfde plek is! Ek het gevra: “Here, wat probeer U vir my wys?” Die antwoord: “Laat die wat vuil is vuiler word en die wat skoon is skoner.”

Ek kan nie drome uitlê nie en het daarom geen idee wat dit kon beteken nie. Ek het die droom met iemand wat ek vertrou opgeneem en so uitgevind dat die uitleg was dat hierdie droom is in Openbaring 22:11 opgeteken: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.” Dit het vir my die deur oopgemaak vir die verduideliking wat gevolg het!

Die groot saal wat ek gesien het is die mense van die wêreld. Die mense in die skoon restaurant gedeelte is die Christene wat die uitnodiging na die bruilofsmaal van die Lam aanvaar het en wie gereed is om te gaan. Hulle lei ‘n skoon heilige lewe.

Die mense in die vuil toilet is die mense van die wêreld wat hulle besig hou met die plesier van die wêreld. As jy vuil is, dan kom jy dit nie agter nie en pla dit jou dit ook nie; dis waarom die mense in die toilet nie eers agter gekom het hoe vuil dit is nie! Spreuke 16:25 sê “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” Vir die in die vuil toilet lyk die weg wat hulle is reg, maar dit is nie.

Verskeie waarskuwings het al uitgegaan vir mense om gereed te wees, maar baie ignoreer hierdie waarskuwings. Hulle besef nie hoe naby ons aan die einde is nie… Die Bybel sê dit gaan kom soos ‘n groot skrik en dit is presies soos dit vir baie gaan wees. Baie gaan dan besef dat alles wat verkondig is die waarheid was…

Jesus sê in Johannes 14 [2] In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. [3] En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Ek voel dat hierdie vers volbring is. Die plek is voorberei en die maaltyd is gereed. Nou hang dit van die wil van God die Vader af wanneer die tyd reg gaan wees vir Jesus om sy bruid te kom haal.

Hoe kan ek so seker wees? Kyk bietjie wat rondom jou in die wêreld aangaan. Jesus sê in Mattheus 24 dat nasie teen nasie sal opstaan. Daar is deesdae so baie oorloë op verskillende plekke in die wêreld dat daar nie eers meer daaroor gerapporteer word in die media nie. Dit het ‘n alledaagse verskynsel geword! Almal praat van hoe mal die wêreld skielik geword het en hoe duur alles geword het. Dat daar geen wet en orde meer is nie. Dat mense nie meer respek vir mekaar het nie. MENSE WORD WAKKER! Hoeveel waarskuwings moet daar nog wees voor mense gehoor sal gee? Maak jou paaie reguit. Binnekort gaan dit te laat wees!

Die wat reeds gereed is; laat die Gees toe om jou te wys waar jy kan verbeter om sodoende nog beter te kan word. Streef heiligmaking na sodat jy sonder vlek, rimpel of iets dergeliks voor God kan staan. Wees ‘n waardige verteenwoordiger van Jesus en laat jou lig soos ‘n baken in hierdie verdraaide krom wêreld skyn! Laat jou ja jou ja wees en jou nee jou nee.

In Openbaring 22:12 sê Jesus: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”

Prys die Naam van die HERE!

(Visited 568 times, 1 visits today)