Lede van die Liggaam van Christus

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons liggaam bestaan uit baie lede soos die hande, voete, arms, oë en so meer, maar nie een van hierdie lede is belangriker as die ander nie.

Ek luister gereeld na die oorsese predikers op Internet. Daar is een spesifieke vrou wat my ongelooflik baie inspireer. Sy was ‘n ateïs, maar vandag verkondig sy die Woord van die HERE en sy is ‘n vurige Kind van die HERE soos wat ek nog nooit gesien het nie.

Ek het al baie gewens dat die HERE my so wil seën sodat ek die Woord van die HERE kan verkondig soos sy! Maar soos julle weet sien mens mos nooit jou eie seëning raak nie! Jy sien altyd ‘n ander s’n raak en dan wens jy dat jy so kan wees!

Die waarheid is dat almal van ons wat die Woord van die HERE verkondig ‘n roeping het en dat die HERE jou in daardie posisie gesit het om ‘n doel te dien. Ons sien net nie altyd daardie doel raak nie! Dan raak ons gefrustreerd en partykeer selfs bitter.

Kom ons kyk wat sê die Bybel vir ons in 1 Korintiërs 12:14-20: [14] Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. [15] As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? [16] En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? [17] As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? [18] Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. [19] As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? [20] Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam.”

Toe ek hierdie stukkie gelees het, het ek begin verstaan. As almal van ons kragtige predikers was en die profetiese gawe gehad het om die toekoms te kon voorspel, hoe vervelig sou die lewe nie gewees het nie! As een van ons ons voet sou stamp dat dit bloei, wie sou dit dan genees? Niemand sou die gawe van genesing gehad het nie! Niemand sou ook kon bid nie, want ons sou almal predikers en profete gewees het! Verstaan julle nou waarom daar verskillende gawes moet wees? Deur die verskillende gawes, vul ons mekaar aan en word ons daardeur een liggaam! Prys die Naam van Jesus! Die feit dat ek nie die profetiese gawe het nie, maak my nie enigsins minder waardig nie. Ek mag miskien nie die oog van die liggaam wees nie, maar ek is die voete en daarom kan die liggaam loop waar hy wil. Amen?

Baie mense dink dat omdat hulle net kan bid, hulle geen bydrae het tot die uitbreiding van die Koningryk van die HERE nie. NONSENS! Kan ‘n wiel sonder ‘n as loop? Natuurlik nie, want sonder ‘n as is daar nie ‘n wiel nie, net ‘n ronde sirkel wat van rubber gemaak is. Kyk maar na ‘n kar se rubber bande as dit afgehaal is. Nutteloos, want die kar kan nie op die yster wiele ry nie! Maar sit daardie rubberbande aan die yster wiele en dan kan jy skielik vinnig en baie ver ry! Net so is die wat net kan bid. Julle is die as waarom alles draai. Julle gebede gaan met die speke van die wiel af tot op die ryvlak van die band waar ons predikers werk. Julle gebede is die olie wat toelaat dat ons die boodskap aan duisende kan bring! Dink jy nog steeds jy is nutteloos? Allesbehalwe, want as julle nie vir my bid nie, dan sal ek nooit hierdie boodskappe vir julle kan bring nie!

Moet dus nie dink dat omdat jy net christelike prentjies op Facebook of Watsapp versprei of net kan bid dat jy minder waardig is nie. Jy is baie beslis nie! Jy is ‘n baie belangrike deel van die liggaam van Jesus! Sonder jou kan iemand anders nie die werk doen waarvoor die HERE hom geroep het nie! Weet julle hoe baie keer kry ek inspirasie uit daardie prentjies op Facebook of uit daardie getuienisse wat julle pos? Jy is dus nie onbelangrik of minderwaardig in die HERE nie!

Wees dus tevrede met jou roeping. Die HERE het jou geplaas waar jy nou is met ‘n doel. Dit wat jy nou doen is baie belangrik vir die Koningryk van die HERE en eendag gaan jy verbaas staan as jy sien wat die HERE vermag het met die bietjie wat jy gedoen het!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 366 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .