Maak vrede met die om jou

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Baie van julle sal seker kan aanvoel dat ons tyd byna om is en hoe Jesus besig is om Sy Bruid gereed te kry vir haar ewige tuiste.

Ek sien ook op ons twee groepe dat baie van julle net soos ek ook gereeld boodskappe kry oor naasteliefde, vergifnis en losmaking van dit wat ons nog op hierdie aarde vashou. Dis omdat Jesus verlang dat ons vry moet wees van enige aardse verbintenis as Hy gaan kom om ons te kom haal. Die van julle wat iemand al aan die dood afgestaan het sal presies weet wat ek nou bedoel. Jy wens vir maande na die persoon se sterfte dat jy nog net dit of nog net dat vir die persoon kon gesê het, maar nou is dit te laat. Baie loop met skuldgevoelens omdat hulle nie dinge reggemaak het terwyl daar tyd was nie.

Wees dus geduldig met die wat jou te na kom en vergewe hulle wat jou haat. Gebruik Kolossense 3:13 as ‘n voorbeeld: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.” Knoop al die los ente bymekaar, want as jy geneem word wil jy tog nie hê dat die wat agterbly met skuldgevoelens moet sit en geen manier hê om dit te kan regmaak nie.

Vra die Heilige Gees om enige iets wat nog uitstaande is in jou lewe aan jou uit te wys. Dit waaraan jy onmiddellik daarna dink, is iets wat reggemaak moet word. Ek het self op hierdie manier op ou sonde afgekom wat al vir jare tussen my en Jesus gestaan het waarvan ek al vergeet het!

Jy gaan ook vind dat jy nie alles kan regmaak nie, maar jy kan ten minste ‘n poging kan aanwend en sodoende jou kant skoon kry. Los dit wat jy nie kan doen nie in die Hande van die HERE en laat Hy met diegene werk wat jou nie kan vergewe nie. Onthou dat wraak gedagtes ‘n stadig werkende gif is wat jou op die ou end gaan doodmaak as jy dit nie betyds uit jou gestel uitkry nie.

As die vyand jou agterna aanval met skuld gevoelens oor gebeurtenisse wat jy reeds vergifnis voor gevra het, neem dan daardie gedagtes en gooi dit in die oseaan soos ‘n klip en laat die vergifnis van die HERE toe om dit op te los. Die gewoonte om hierdie gedagtes te probeer rasionaliseer gaan jou net dieper in die moeilikheid laat beland. Los hierdie dinge in die hande van die HERE, want dis die enigste manier hoe hierdie dinge uitgewerk gaan word. As jy dit doen, sal jy werklik vry wees en net aan die HERE behoort sonder enige skuld of wraak gevoelens!

So baie gaan by ons in hierdie lewe verby omdat ons die heeltyd in die verlede lewe, maar as jy selfondersoek doen en vergifnis vra, dan kan jy nou saam met Jesus wees. Jy gaan dan werklik wees soos ‘n kind wat sy hand in sy pa s’n sit en alles aan hom oorlaat om reg te maak. Hoe geseënd is ‘n siel wat sy daaglikse sorge in die Hande van Jesus plaas! Die verlede en die toekoms behoort aan Jesus en dit is Syne om oor te beskik. Moet dus nie frons oor die dinge van die verlede nie, want dit laat jou gesig net op ‘n plooi staan!

Het jy al gesien hoe jonk en vreedsaam die ouer Christene lyk? Die vrede wat jy op hulle gesigte sien kry jy net as jy geduldig die gedagtes wat die vyand elke dag in jou kop plant verwerp. Daardie gedagtes het een doel en dit is om jou uit te mergel, jou lewe te verkort en bittere verwyt in jou lewe in te spuit. ‘n Gelukkige siel is een wat al hierdie dinge in die Hande van Jesus los. Dan kan jy werklik jou lewe van dag tot dag geniet.

Laat die vrede van Jesus nou met julle wees en maak seker jy los die dinge van die verlede agter jou. Seën liewer die wat jy ken met die vryheid, vergifnis en broederlike liefde. Jesus is met jou en Hy sal die wat jy seën, se harte aanraak!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 366 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , , .