Lig aan die einde van die tonnel

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Jesus antwoord gebede! Prys Sy Wonderlike Naam!

In April maand laas jaar het Angus Buchan sy “It is time” samekoms in Bloemfontein gehou waar oor ‘n miljoen mense saamgekom het om te bid. Almal het na die tyd asem opgehou en gehoop dat daar dadelik veranderinge in Suid Afrika sou kom, maar niks het gebeur nie… Mense het selfs daaroor gespot, maar soos ek al baie vir julle gesê het, die HERE se weë is nie ons weë nie.

In November laas jaar het daar nog ‘n profetiese boodskap van die HERE af uitgegaan: “Ek is moeg, moeg van die geweld, moeg van die bedrog! Genoeg is genoeg! Ek het gesmeek, Ek het gewaarsku, maar die gehoor was daar nie. Die gebede van die regverdiges is oorvloedig in My ore. Nou gaan Ek dinge in My hande neem en julle sal sien dat Ek God is, sê die HERE, HERE!”

Soos julle weet, wil die HERE nie hê dat ons na die nuus moet kyk nie as gevolg van die groot aantal leuens daarin en die feit dat die berigte so geskryf word sodat jy geforseer word om te oordeel nie. As Kind van God MAG ons nie oordeel nie! NOOIT NIE! Julle kan dus my verbasing verstaan toe ek twee dae gelede ‘n ekonomiese nuusberig ontvang in ‘n rekenaar tegnologie nuusbrief! Hoe hierdie berig daarin beland het, weet ek nie, maar dit wys dat die HERE toelaat dat sekere nuus ons bereik omdat dit belangrik is. As daardie berig nie by my uitgekom het nie, sou ek nie vandag daaroor kon geskryf het nie.

Op Agnus se byeenkoms in Bloemfontein het die HERE gepraat en gesê dat Hy net hierdie land van ons kan genees as ons ons huise skoon en in orde kry! Suid Afrika het gehoor gee en die HERE het ons gebede beantwoord. In die berig wat ek gekry het, was daar bevestig dat daar ‘n blink 2018 vir Suid Afrika wag. Die buitelandse beleggers het groot hoop vir Suid Afrika en hulle staan gereed om weer in Suid Afrika te belê. Die Rand/Dollar wisselkoers is die beste wat dit in drie jaar was! Oral begin mense asem te skep en het almal ‘n gevoel van verligting.

Die HERE het al in Maart maand laas jaar gesê dat Hy hierdie land gaan verander! “Ek verklaar dat dit nou My begeerte is dat My heerlikheid van die voet van die vasteland van Afrika af sal styg en oor die land waai, en al die nasies sal die werking van my Hand in Suid-Afrika aanskou. Ek sê vir julle, Ek het hierdie land gekies vir hierdie tyd, Ek het hierdie volk gekies vir hierdie tyd…’”

Nou is hierdie profesie besig om waar te word, liewe leser! Die HERE is ‘n waarmaker van Sy Woord en ons is sy getuies! U is gekies vir hierdie tyd! Dra die getuienis van die HERE uit!

Hierdie boodskap is baie korter as my normale boodskappe, maar die HERE wil hê dat julle moet oplet en weet dat Hy in die Hemel mag wees, maar dat Hy jou as persoon ken. Hy ken jou by jou naam en hy weet wat jy elke oomblik van die dag doen. Niks is vir Hom belangriker as jy nie. Bid en jy SAL ontvang! Dit mag miskien tyd vat, maar dis maar net omdat die HERE wil seker maak dat dit wat Hy vir jou gee die beste is wat Hy het!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 137 times, 1 visits today)