Iemand het eenslag vir my gesê ons dien ‘n HERE met ‘n sin vir humor.
Dit het my baie lank gevat om daardie stelling te kan verstaan, want tot op daardie stadium het ek nie die HERE op ‘n persoonlike vlak geken nie. Ek was gered, maar vir my was die HERE in die Hemel en ek as op die Aarde. Ek het daarom nie gesien dat die HERE ‘n persoonlike verhouding met my wou hê nie. Hy wou van my ‘n vriend maak; iemand met wie Hy kon gesels en met wie ek kon gesels soos wat vriende doen.
Vandag weet ek van beter! Vandag is die HERE my vriend, maar Hy is ook meer as dit: Hy is ook my Saligmaker en my HERE! Hy is die een wat ek aanbid, maar as ek ‘n probleem het of gesondig het, dan gaan ek met vrymoedigheid terug na Hom en vra om hulp. Ek vrees Hom soos wat mens jou aardse pa of ma sal vrees, maar ek is nie bang vir Hom nie. Dit, liewe leser is die verhouding wat die HERE baie graag met jou wil hê.
Hy soek daardie vryheid in jou om na Hom te kom met al jou probleme. Hy wil met jou sit en gesels soos wat mens met ‘n baie goeie vriend sal gesels. Jy is Sy kind, Sy skepping, maar jy is ook Sy vriend en Hy is jou God! Verstaan julle wat ek probeer sê? Die HERE soek ‘n persoonlike verhouding met jou! Nie ‘n Ou Testamentiese mens / God verhouding nie. Hy wil jou persoonlike vriend wees; een met wie jy alles kan deel.
Toe ek begin het om my pad met die HERE te stap was die pad baie voorspelbaar. Altyd die veiligste en kortste roete tussen twee punte. Ek het voor geloop en die HERE het gevolg, maar iewers langs die pad het ons begin saam loop. Ek weet nie presies waar dit was nie. Stelselmatig het ek geleer om na Hom te begin luister en Sy advies te volg.
Ons het nader paaie begin loop, paaie wat minder voorspelbaar was, maar waar die natuurskoon baie mooier was. Stelsel matig het ek geleer dat Hy al die staproetes ken en dat Hy hulle al baie moes gestap het, want Sy kennis van elke roete was verstommend! Hy het geweet wat om elke draai wag en Hy was altyd gereed om my te waarsku as daar moontlike gevaar vorentoe wag.
Ek weet nie presies waar dit was nie, maar iewers het Hy die leiding oor gevat. Ek het geleer om sy raad en advies te volg! Skielik was die staproetes sommer baie anders. Op die pad het ek ander mense tee gekom. Mense by wie ek kon leer. “Gee weg jou gawes,” het Hy gesê, “Dis te veel bagasie!” So het ek weggee aan mense wat ek nie geken het nie, maar hoe meer ek weggee het, hoe meer het ek ontvang, want die las van die HERE is lig!
Ek loop nog steeds die pad met Jesus aan my sy, maar die pad het skielik baie interessanter geword! Prys die HERE!
Hierdie gaan ‘n baie interessante week vir julle wees. Die HERE gaan met julle in julle harte praat. As jy hierdie gelees het en die Heilige Gees praat met jou; wees dan attent op die leiding van die Gees. Die HERE weet dat jy ‘n swaar las in jou hart rond dra, maar die HERE gaan daardie las verwyder en Hy gaan dit verander in geluk soos wat jy nog nooit geken het nie. Jy gaan weet hoe dit voel om gelukkig, gewigloos en sonder ‘n bekommernis in die wêreld te wees.
Verhoog daarom jou verwagtinge hierdie week. Kom na die HERE en laat die Gees toe om jou las te verlig. Hou op om daaraan vas te klou. Jy gaan verbaas wees as jy jou laste weggee en dan gaan sien wie die HERE werklik is!
Die van julle wat in vrees lewe en wat geen vrede ken nie. Maak gereed om toegedraai te word in die HERE se liefde, veiligheid en beskerming net vir jou! Jy gaan trane van verwondering stort die week soos die HERE aan jou gaan wys dat Hy die Meester van jou lewe en jou omstandighede is! Die HERE gaan al daardie slegte drome wat jy nou het verander in drome van verwondering van wie Hy is.
Wees oop oor wie die HERE is en wat Hy vir jou beplan. Moenie probeer om Hom in ‘n boksie te sit deur vooraf te besluit wat die wonder gaan wees of hoe dit moet lyk nie. Laat die HERE toe om jou te verras en gee die Heilige Gees vrye teuels in jou lewe om te kan maak soos wat die HERE besluit.
Julle gaan uitbundig lag soos jong kinders in verwondering oor die wonderwerke wat gaan plaasvind! Daar wag ‘n deurbraak hierdie week.
“Hoor, HERE, en wees my genadig! HERE, wees my ‘n helper! U het my weeklag vir my verander in ‘n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord; sodat my eer U kan besing en nie swyg nie. HERE, my God, vir ewig sal ek U loof.” (Psalm 30:11-13)
Prys die Naam van Jesus!