Maak vir julle skatte bymekaar

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Jesus gee vir ons ‘n streng, tog liefdevolle waarskuwing in die gelykenis van die ryk jong dwaas (Lukas 12:15-21)

Jesus begin deur te sê dat almal van ons se lewens uit die oorvloed van ons lewens bestaan. Gaan dink ‘n bietjie daaraan en jy sal sien hoe waar hierdie stelling is! Ons het almal huise wat gemeubileer is, ons het kos om te eet en baie van ons het motors. Al hierdie dinge getuig van ‘n lewe van oorvloed, want ons werk, verdien geld en daarmee koop ons nie net wat ons nodig het nie, maar meestal goed wat ons nie nodig het nie! Ja, ek is ook so! Dis ‘n baie fyn lyn wat jy loop tussen versamel en hebsug.

So, wat is hebsug nou eintlik? Hebsug is die buitensporige begeerte van ‘n persoon om rykdom en goedere te versamel. Ons almal hou daarvan om te versamel; dis menslike natuur, maar daar is ‘n verskil tussen versamel en buitensporig versamel…

Dis nie dat Jesus nie wil hê dat jy nie die mooi goed op aarde mag hê nie. Om die waarheid te sê het Jesus al vir my baie mooi goed gegee deur Sy oorvloedige genade en liefde vir ons. Ek praat nie van geestelike gawes nie, maar fisiese eiendom. Jesus doen dit omdat Hy lief is vir ons en omdat Hy graag wil sien dat ons gelukkig is. Jesus ken ons beter as onsself en Hy weet dat die fisiese dinge wat ons kan sien ons meer gelukkig maak omdat ons dit kan sien en met ons hande daaraan vat.

Die probleem kom egter wanneer ons te veel bymekaar maak en dan ons besittings meer lief het as vir Jesus. Dan stap Jesus in en Hy laat toe dat satan van jou wegvat, want Hy is ‘n jaloerse God en Hy wil jou net vir Homself hê!

As Kinders van die HERE moet ons die hele tyd ‘n balans handhaaf in ons lewens. Jesus moet die hele tyd nommer een in ons lewens wees. Nooit ooit mag wêreldse besittings nommer een wees nie, want die dag as dit gebeur, gaan Jesus kom en Hy gaan ‘n regstelling kom maak! Dis ook waarom ons die hele tyd moet sorg vir die lewe wat hierna gaan kom en Jesus druk dit ook so uit: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.” (Lukas 12:21)

Soos ek gesê het, is daar niks verkeerd om aardse besittings te hê nie, maar ons moet ook sorg vir die lewe hierna, want baie van ons gaan brand arm wees in die volgende lewe omdat ons nie gesorg het vir die lewe wat kom nie.

Daarom, liewe leser, werk so hard as wat jy kan terwyl jy nog tyd het. Ons kan vir ons skatte vergader op die snaakste van plekke deur het goed te doen aan ander, vriendelik te wees met die om jou en Jesus se beeld uit te leef. Dis nie moeilik om hierdie dinge te doen as jy dit in jou lewe integreer nie. Die ekstra wat jy kan doen is om die Woord van God te versprei en dit kan jy op enige plek doen. Sosiale media het dit deesdae baie makliker gemaak as voorheen! Ek gee nou vir julle baie idees hier, maar dis net hoe maklik dit is!

Daarom, liewe leser, gaan heen en doen wat reg is! Ons tyd is byna om. Werk daarom terwyl dit nog dag is, want die nag gaan kom en dan gaan niemand kan werk nie.

Prys die Naam van Jesus! Amen!

(Visited 156 times, 1 visits today)
Tagged , , .