Ons almal ken die verhaal van die Barmhartige Samaritaan, want dis een van die verhale wat ons almal as kind geleer het, maar vandag wil ek ‘n bietjie dieper in die verhaal ingaan.
Die verhaal begin waar ‘n sekere wetgeleerde opgestaan het en vir Jesus gevra het hoe hy die ewige lewe kon beërwe. Jesus het hom gevra hoe hy geleer was en hy antwoord toe dat hy die HERE God moet lief hê met sy hele hart, hele krag en hele verstand en daarmee saam sy naaste soos homself. Jesus sê toe dat hy reg geantwoord het, maar die wetgeleerde wou homself regverdig en het gevra wie sy naaste is. Dis toe dat Jesus vir hulle die verhaal van die Barmhartige Samaritaan vertel.
Ek gaan nie die verhaal woord vir woord oor vertel nie, want ek is seker dat julle dit ken. In die verhaal sien ons ons hoe ‘n sekere man op die pad tussen Jerusalem en Jerigo deur rowers oorval word en vir dood agtergelaat word. Eers het daar ‘n priester op die man afgekom en daarna ‘n Leviet en niks vir die man gedoen nie. Dit was die Samaritaan wat op reis was, wat hom opgehelp het en hom versorg het. Jesus het die wetgeleerde gevra wie van die drie dan die naaste was van die een wat onder die rowers geval het en die wetgeleerde het geantwoord dat dit die Samaritaan was.
Julle sien, elke dag kom geleenthede soos dit om iemand te help ons pad verby, maar ons sien dit nie altyd raak nie. Nederigheid en naaste liefde is twee baie groot eienskappe vir Jesus en dis ook die twee eienskappe wat Hom die naaste op die hart lê; dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself!
In Mattheus 25:31-46 lees ons van die skape en die bokke oordeel aan die einde van die verdrukking, waar God die Vader al die nasies voor hom sal versamel en hulle sal oordeel volgens dit wat hulle vir hulle naaste gedoen het. Ek gaan spesifiek klem lê op die volgende verse: “[34] Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. [35] Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; [36] Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. [37] Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? [38] En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? [39] En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? [40] En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Mattheus 25:34-40)
Julle sien? Alles wat jy vir iemand anders doen, doen jy eintlik vir Jesus, selfs al lyk dit nie vir jou so nie! Ons oordeel tog so graag die uiterlike… Ons sien hierdie vuil gehawende man wat tien teen een nie meer lekker ruik nie en dan begin ons te oordeel… en dan maak ons soos die priester en die Leviet en stap aan die anderkant verby… HERE, vergewe ons, want ons weet nie wat ons doen nie…
Liewe leser, hou op om die uiterlike te oordeel, want ons ken nie die hart nie. God die Vader laat die son oor almal van ons skyn; die goeies en die slegtes; so waar kom hierdie oordeel vandaan? Elkeen van ons gaan eendag geoordeel word volgens ons werke, so hou dus op om te oordeel, want ons ken nie die hart nie.
Kom ons bid saam.
Jesus, dankie dat dit nooit te laat is om terug te draai na U toe vir herstel nie in my lewe nie, selfs al voel dit dat ek so baie verloor het. Ek bid vir vergifnis vir my oortredinge en ek bid dat U my sal vergewe en sal herstel, sodat ek U Naam heerlikheid kan gee. AMEN!