Met verharde harte

Ons almal weet en ek is seker dat julle dit kan aanvoel, dat die wegraping baie naby is en ek weet ook dat baie van julle kan sien hoe die wêreld besig is om te verander.

Dis asof die wêreld meer boos en wreedaardig geword het. Plek vir die goeie is daar skielik nie meer nie…

Jesus weet dat baie van julle aktief besig is om siele vir die Koningryk van die Hemele in te win en dis vir julle wat hierdie boodskap is. Jesus wil hê dat julle moet weet dat julle van nou af baie meer moeite gaan hê om mense te oortuig om hulle te laat bekeer, maar dat julle nie moet moed verloor daaroor nie. Dis die wil van die Vader dat hierdie dinge moet gebeur om ‘n finale skeiding tussen die Bruid en die Wêreld te maak. Ek sê nie dat dit onmoontlik gaan wees vir iemand om tot bekering te kom nie; net dat dit baie moeiliker gaan wees as voorheen.

Hoe is ek so seker hieroor? My Bybel het die laaste twee dae by die volgende twee verse oopgeslaan en ek glo met hart, siel en verstand dat dit Jesus is wat hierdie boodskap aan julle wil oordra. Beide verse is presies dieselfde, maar uit verskillende dele van die Bybel.

“Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.” (Jesaja 6:10)

“Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.” (Handelinge 28:25-27)

Maak julle dus gereed vir baie weerstand van die wat bestem is om agter te bly. Onthou dat baie harde doppe gaan kraak die dag van die wegraping, want dan gaan hulle verstaan wat dit is wat ons probeer sê het. Jou woorde gaan dus nie leeg na jou terugkeer nie. Hulle gaan verstaan, maar dit gaan eers later kom.

Moet ook nie bekommerd wees oor die wat gaan agterbly nie, want Jesus sal vir hulle sorg. Jesus het nog altyd gesorg vir die wat Syne is en Hy sal dit in die verdrukking ook doen. Daaroor hoef julle geensins bekommerd te wees nie.

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 166 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .