Na hoeveel stemme luister ons elke dag en elkeen probeer om die dominerende stem te wees, maar sonder Jesus se stem is ons niks…
Ek wil net begin deur te sê dat hierdie getuienis nie my eie is nie. Iemand anders het hierdie getuienis in video formaat op ons Suiderkruis groep gepos en dit was so treffend, dat ek dit vandag met julle gaan deel.
Die getuienis begin by ‘n prokureur en ‘n kollega wat in die Aleutiese Eilande, Alaska was vir ‘n hofsaak. Net om julle op hoogte te bring, die Aleutiese Eilande is ‘n arm van klein eilande wat Suid-Wes van Alaska af uitloop in die rigting van Rusland. Die eilande is net so oor die een duisend kilometer van Anchorage af wat die hoofstad van Alaska is.
Die prokureur en sy kollega was op die punt om na die lughawe in Anchorage, Alaska te vertrek vir hulle terugvlug toe ‘n priester hulle nader en sê dat hy met sy privaat vliegtuig van en na die Aleutiese Eilande vlieg en dat hulle welkom is om saam met hom terug te vlieg na Anchorage. Die prokureur het hom bedank, maar sy aanbod van die hand gewys, maar die priester het aangehou dat hy hulle baie geld gaan spaar deur van sy aanbod gebruik te maak. Die prokureur het die aanbod teen sy beterwete aanvaar, selfs nadat hy die gevoel gekry het dat dit nie ‘n goeie idee was nie.
Hulle het by die vliegtuig aangekom en die prokureur het na die klein vliegtuigie gekyk en gedink dat dit en minste blink en so maklik gesien sal kan word as iets met hulle sou gebeur! Hulle het ingeklim; hy voor langs die priester/vlieënier en sy vriend op die agter sitplek. Hulle het die vliegtuig aangeskakel en uitgery na die aanloopbaan. Hy het aan die priester gevra of hulle moet bid en die priester het laggend geantwoord dat hulle dit normaalweg nie doen nie, maar dat hy so kan maak as hy wil. Die prokureur sê dat hy agt minute lank gebid het; die langste gebed van sy hele lewe!
Die vlieënier het die vliegtuig laat opstyg en alles was net wonderlik met geen probleme nie. Vir ‘n ruk in die vlug het alles normaal verloop en die prokureur het by die venster uitgekyk en vir ‘n oomblik gewonder of hy nie verniet bang was nie. Toe begin hulle in die wolke invlieg en die priester sê toe dat hy nie in wolke kan invlieg nie omdat die wolke hom sy bewussyn laat verloor…
Die prokureur het die priester verbaas aangekyk en gevra waarom hy nie dit vooraf gesê het nie omdat dit al die hele dag bewolk was! ‘n Mens sal tog dink dat iets so belangrik soos dit vooraf genoem behoort te word, dan nie?
Hulle het geheel en al in die wolke ingevlieg sodat hulle niks om die vliegtuig kon sien nie. Die priester het iets gemompel, maar die prokureur kon nie uitmaak wat dit was wat hy gesê het nie. Die priester het stip na die prokureur gekyk terwyl sy oë omgerol het en hy bewusteloos geword het. Die prokureur het hom aan die skouers gegryp, hom hard geskud en gesê dat hy moet wakker word sodat hy hom weer bewusteloos kon slaan!
So daar was hulle, in ‘n vliegtuig, in die wolke, maar sonder ‘n vlieënier… Sy kollega op die agtersitplek het gesê dat hulle sekerlik klaar dood is, maar dit net nog nie weet nie. Die prokureur het gesê dat daar ‘n goeie kans is dat dit so kan wees. Die kollega wou weet wat hulle gaan doen en die prokureur het gesê dat hy nie weet nie, maar daar is ‘n radio, so miskien moet hy om hulp vra. Sy kollega het die mikrofoon gevat en “Hallo, hallo,” gesê. Nie een van hulle het enige idee van radio etiket gehad of wat om te sê nie, maar iemand het geantwoord en gevra of hulle nie weet hoe om op ‘n radio te praat nie.
Die prokureur se kollega het geantwoord dat hulle in ‘n vliegtuig sit met ‘n bewustelose vlieënier en dat hulle nie weet wat om te doen nie. Die persoon aan die ander kant het geantwoord dat hulle ‘n vragvliegtuig is op pad van Anchorage na Tokio, maar dat hulle in ‘n sirkel gaan vlieg anders gaan hulle baie gou buite die ryk afstand van hulle radio wees en dan gaan hulle niemand hê om mee te gesels nie. Hy het ook gesê dat hulle Anchorage Beheertoring namens hulle gaan kontak om hulle te help.
Vyf minute later het hulle toe iemand van Anchorage Beheertoring wat met hulle gesels. Anchorage Beheertoring het gesê dat hulle gaan help om hulle te red, maar eers moet hulle op radar vasstel waar hulle is.
Die persoon in die beheertoring iets sê toe iets wat die prokureur nooit sal vergeet nie en dit is dat dit hulle werk is om hulle veilig op die grond te kry, maar dan moet hy, die prokureur, na sy stem luister. Die prokureur in die vliegtuig sal nie vir hom in die beheertoring kan nie sien nie, maar hy sal hulle op radar sien. As hulle nie na sy stem gaan luister nie, dan sal hulle bots en sterf.
Anchorage Lughawe lê in ‘n vallei tussen twee hoë berge met ‘n monding na die see aan die eenkant. Daar is ‘n roete tussen die berge in na die lughawe en dis waarom hulle na die beheertoring se stem moes luister; om hulle tussen die berge en die weer deur te kan kry.
As ‘n mens in die wolke vlieg sonder dat jy iets kan sien, dan weet jy nie of jy regop of onderstebo vlieg nie. As jy dan boonop nie die instrumente kan lees nie, is dit nog erger, want jy weet nie of jy reg doen of verkeerd doen nie. Die beheertoring kom ‘n rukkie later terug en sê dat hy hulle opgespoor het op radar, maar dat hulle vier minute weg is van ‘n berg en dat hulle in die berg gaan vas vlieg as hulle nie dadelik optree nie.
Die prokureur het besef dat hy niks het om op terug te val as hy nie daardie man se stem aan die anderkant het nie. Op dieselfde manier het ons as Kinders van God niks om op terug te val sonder Jesus se stem in ons lewens nie. Jesus se stem in ons lewens is wat ons anders maak as die wêreld. Jesus se stem in ons lewens is wat ons aan die gang hou en ons waarsku van gevare voor dit op ons toesak.
Met die hulp van die beheertoring het hulle weggedraai van die berg af op ‘n nuwe rigting. Die beheertoring het gesê dat hulle alle verkeer op die lughawe en in die onmiddellike omgewing van die lughawe gestop het, maar dat hulle moet verstaan dat daar baie weer tussen hulle en die lughawe is. Hy wil nie hê dat hulle moet bang wees of moet aandag gee aan die weer nie. Luister net na die stem, want as jy nie gaan luister na die stem nie, maar gaan aandag gee aan enige iets anders behalwe die stem, dan gaan hulle sterf. Hy sal sorg dat hulle veilig deur die weer kom tot by die lughawe as hulle na sy stem gaan luister.
Omdat daar geen vliegtuie is wat kon opstyg nie, het die vragvliegtuie wat op die lughawe wag met hulle begin praat. Een het gesê dat hulle vir hulle bid dat hulle veilig sal land. ‘n ander het gesê dat hulle dit gaan maak, maar dan moet hulle nie ophou om na die stem te luister nie! Dis die sleutel; vertrou die stem.
Ons luister elke dag na so baie stemme en almal wil graag die beherende stem wees, maar Jesus sê dat ons onsself op die altaar moet sit sodat Hy ons stem kan wees en deur ons kan praat.
Uiteindelik het hulle deur die ergste van die storm gevlieg en die stem het teruggekom en gesê dat hy hulle nou gaan op lyn met die aanloopbaan. Aan die begin van die aanloopbaan is ‘n stel ligte in die vorm van ‘n rooi kruis en dis die aanloopbaan waarop hulle moet land. Moenie dit vergeet nie; die kruis is die pad huis toe… Die Kruis van Jesus is ook ons pad huis toe! Prys die Naam van Jesus!
Die stem in die beheertoring het hulle al hoe laer gebring. Selfs al kon hulle nie sien waar hulle is nie het hulle op die stem vertrou. Jesus sê “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.” (Johannes 10:27)
Toe hulle ‘n paar honderd meter bo die grond was, het hulle die rooi kruis gesien. Die prokureur het die vliegtuig geland; eintlik het hy die vliegtuig sewe keer geland… en toe hulle tot stilstand kom het die priester wakker geword.
Die stem in die beheertoring het gesê “Dankie dat julle geluister het. Ek sien gereeld hoe hulle allerhande ongelukke maak omdat hulle nie luister nie… Hulle verstaan nie dat ek die een is wat hulle kan sien, selfs al kan hulle my nie sien nie. Hulle vernietig hulleself omdat hulle nie luister nie. Dankie dat julle geluister het.”
Hulle het die prokureur en sy kollega in ‘n hotel herberg gegee. Ongeveer vier uur in die oggend het iemand aan die deur van sy kamer geklop. Die prokureur het oopgemaak en daar was ‘n man voor sy deur. Die man het hom gegroet en die prokureur het dadelik geweet dat dit die man in die beheertoring was wat die hele tyd met hom gepraat het.
Net so gaan ons eendag voor Jesus staan en sê dat Hy die stem was wat ons huis toe gebring het. As jy nie op daardie altaar is as ‘n lewende slagoffer nie, dan is jou kop vol allerhande stemme. En dan wonder ons waarom kinders uit hak en hulle hulle self wil vernietig… Ons wonder waarom huwelike op die rotse beland en tot niet gaan… Jesus sê dat Hy die stem is na wie ons moet luister en daardie stem sê luister en moenie ophou luister nie. Moenie bekommerd wees oor wat om jou aangaan nie; luister jy net na die stem… en ek sal jou deurvat.
Vandag het jy ‘n God wat belowe het om jou deur te vat; ‘n lewende heilige slagoffer. Jy gaan moet besluit of jy gaan luister en dit wat om jou gebeur gaan ignoreer en of jy die stem gaan ignoreer en jouself in die proses vernietig.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!